Pannekoekbak is so ‘n maklike en gesellige manier om saam te eet. Maak dit sommer deel van die saam kuier. Pannekoek is perfek as ’n nagereg of teetyd-bederf met kaneelsuiker en wiggies suurlemoen, maar as jy dit nog nie met suurlemoensmeer geëet het nie, wag daar ’n smaakverrassing op jou. Hierdie is die perfekte resep as jy delikate, dun pannekoekies vir ’n soutvulsel, pannekoekgebak of as nagereg nodig het.
Lewer 15 – 18 pannekoeke
Suurlemoensmeer (Maak 250 ml)
4 eiergele
100 ml strooisuiker
125 ml (½ k) suurlemoensap, deur ’n sif gedreineer
100 ml (100 g) koue botter, in blokkies gesny
15 ml (1 e) fyngerasperde suurlemoenskil
Pannekoeke
140 g (250 ml) koekmeel
2 ml sout
3 ekstra-groot eiers, geklits
50 ml olie
325 ml melk
50 ml koue water
olie om pannetjie te smeer
- Suurlemoensmeer: Plaas al die bestanddele in ’n glasbak. Sit die glasbak oor ’n kastrol met liggies pruttende water, sonder dat die bak aan die water raak.
- Klits die bestanddele saam tot glad en die botter gesmelt is. Hou aan klits vir 10-15 minute of tot die mengsel die agterkant van ’n metaallepel egalig bedek. Die mengsel moenie kook nie.
- Haal die bak van die stoof af. Die sous sal verder verdik soos dit afkoel.
- Skep in ’n bakkie om af te koel of steriliseer ’n glasflessie met kookwater en skep die smeer daarin. Hou in die yskas tot benodig. As jy die sous vroeër wil gebruik, verkoel dit vir ongeveer 4 ure tot dit heeltemal gestol het.
- Die smeer sal vir 2-3 weke in ’n gesteriliseerde glasfles in die yskas hou.
- Pannekoeke: Sif die meel en sout in ’n glasbak saam. Klits eiers en olie saam en meng met die droë bestanddele tot ’n gladde pasta vorm.
- Klits melk en water saam en voeg geleidelik by die meelmengsel terwyl dit voortdurend geklits word. Klits deeglik na elke byvoeging. Moenie al die vloeistof op een slag byvoeg nie – dit sal te maklik klonte vorm.
- Verhit ’n 20 cm-pannetjie oor matige hitte en smeer die bodem met ’n dun lagie olie.
- Skink sowat 50 ml deeg op ’n slag in die pan en versprei die deeg eweredig oor die bodem. Moenie die pannekoeke te dik maak nie – hierdie beslag lewer juis dun pannekoekies.
- Bak die pannekoek tot dit bo-op stol, van die rand begin wegtrek en die onderkant goudbruin is. Draai om en bak vir nog ’n minuut aan die ander kant. ’n Pannekoek wat te lank gebak het, word rubberig en taai en hierdie beslag bak baie vinnig gaar.
- Plaas pannekoeke op ’n groot bord en bedek met ’n deksel of stuk foelie. Hou dit warm oor ’n kastrol met liggies pruttende water terwyl die res gebak word. Sit voor met lepelsvol suurlemoensmeer. Kaneelsuiker en ’n skeut suurlemoensap of enige ander sout- of soetvulsel van jou keuse is ook heerlik in ’n pannekoek.
Resep: Pannekoeke, Kos is op die tafel! en Suurlemoensmeer, Maak vyf, beide deur Heleen Meyer
Fotograaf: Adel Ferreira
Wenke
- Bak pannekoeke vooraf om tyd te spaar. Pak dit op ’n groot bord, bedek en hou warm of verhit weer oor ’n kastrol met pruttende water.
- As gevolg van die olie in die beslag, is dit dikwels onnodig om vir elke pannekoek olie in die pan te smeer. ’n Matige hitte is ook ideaal, want anders brand die pannekoek voor dit gaar is.
- Pannekoeke vries goed. Pak opmekaar met waspapier tussen-in, verseël lugdig in ’n plastieksak en vries. Ontdooi heeltemal en verhit oor pruttende water.