Skrywer: Alita Steenkamp
Die begeerte om meer te wete te kom oor die wêreld om jou en dan weer hierdie inligting met ander te deel is so oud soos die mensdom self. In die dae voordat Gutenberg se uitvindsel van die drukpers in 1440 die publikasie van nuusbriewe en uiteindelik koerante moontlik gemaak het, is nuus bloot mondelings versprei. Die geskiedenis van hierdie sogenaamde “town criers” strek so ver terug soos die Middeleeue. Iemand wat maklik in die rol van ʼn Middeleeuse nuusroeper sou kon instap, is die joernalis Mia Spies. Mia is die aanbieder van die opwindende nuwe nuusprogram op kykNET, Wie’s nuus?
Mia vertel dat sy in ʼn huis grootgeword het waar sy altyd omring was met nuus. Soggens het die oggendkoerant op die kombuistafel gelê en op pad skool toe moes die een wat voor langs haar ma gesit het, die koerantvoorblad vir haar lees. Daar is nuus oor die radio geluister, saans na die televisienuusbulletins gekyk en Sondae-aande was Carte Blanche altyd op die Spies-gesin se agenda.
“Ek was altyd ʼn baie nuuskierige kind wat gehou het van praat en luister. Tóé moes my ouers al seker gesien het hierdie kind is bestem om eendag in die media te land,” lag Mia.
“In my eerste jaar op Tukkies, nog voordat die klasse amptelik begin het, het ek aansoek gedoen by TUKS FM om daar uit te saai en ek het nuus gelees voordat ek begin klasdraf het. Net daar het die uitsaaigogga my gebyt. Om agter die mikrofoon in te skuif en die adrenalien te voel pomp, was net vir my só lekker. Dit was veral die radio met sy onmiddellikheid wat my bekoor het. Nadat ek my meestersgraad by Stellenbosch behaal het, het ek begin werk by ʼn gemeenskapskoerant, maar uiteindelik het die radio my teruggeroep en ek het by Eyewitness News ingeval, eers as ʼn verslaggewer en later as nuusleser ook.”
Mia vertel dat sy vroeër vanjaar genader is deur die vervaardigers van Wie’s Nuus? om uit te vind of sy sou belangstel om die aanbieder van ʼn nuusprogram te word. Hierdie nuusprogram sou elke week op ʼn ander nuusmaker fokus en in samewerking met Netwerk 24 vervaardig word. Sonder om ʼn oomblik te huiwer het Mia hierdie geleentheid aangegryp. Waarvan sy sommer baie hou, is dat dit so ʼn bietjie wegbeweeg van die tradisionele manier waarop nuusprogramme in Afrikaans altyd aangepak is. Met die program sit sy en haar gaste op mooi kleurvolle banke en gesels oor die nuus en die nuusmaker van daardie week en word die nuus toeganklik gemaak vir baie mense wat andersins dalk nie na ʼn nuusprogram sou kyk nie.
In die heel eerste Wie’s Nuus?-aflewering, het die fokus op minister Bheki Cele, die minister met die Panama-hoede, geval. Hy het glo 48 daarvan om uit te kies. Mia kuier dan weekliks saam met joernaliste van ander gesaghebbende publikasies en nuusdienste wat naby aan die groot nuusgebeure beweeg. ʼn Spesialis wat insae kan gee oor die nuusgebeure, of die nuusmaker se optrede, vorm ook deel van die paneel. Dit sluit kenners in soos sielkundiges, ekonome, wetenskaplikes, politieke ontleders en so meer. Waar moontlik sal daar ook met die nuusmaker self gesels word.
ʼn Program soos hierdie het natuurlik nie in Mia se skoot geval nie. Sy het in die meer as tien jaar wat sy in die mediawêreld is, waarlik haar stempel afgedruk as ʼn bekwame veldaanbieder in nuusbulletins waar sy soms letterlik in die leeukuil beland het. Die nuus het haar al reg oor die land geneem en soms was die uitdagings besonder groot. Daar was betogings, opstande, begrafnisse en talle misdaadtonele vanwaar sy moes verslag doen. Soms was dit ʼn uitdaging van ʼn ander aard. Sy lag en vertel dat sy ʼn groot fobie het vir haaie. So groot dat sy dit nie eens in die water wil waag nie. Tog het haar nuusredakteur eenmaal van haar verwag om in ʼn hok te klim en te gaan haaiduik. In hierdie program is daar juis verslag gedoen oor die weerloosheid en bedreiging van die grootwithaai aan ons kus. Die klompie jong leeutjies met wie sy ʼn ander keer te doen gekry het, het haar glo pimpel en pers geboelie, maar dit is alles deel van die lekker en onvoorspelbaarheid van joernalis wees, sê Mia.
Mia vertel wanneer sy so ʼn bietjie tyd vir haarself het, is dit gewoonlik Penny, haar en manlief Johan Odendaal se hond, wat kom aandag vra. Hulle sou die piepklein hondjie net versorg het tydens die inperkingstyd in 2020, maar dis nou meer as twee jaar later en Penny is steeds by hulle: Van ʼn optelbrakkie wat in die strate rondgedwaal het op soek na iets te ete, tot ʼn dolgelukkige Seepunt-hond. Wanneer Mia die kans kry gaan stap sy en Penny ʼn ent: op die promenade, dikwels op die strand, iewers in ʼn park of berg-op. Mia is dol oor diere en vertel dat sy en haar sussie al wat ʼn afvlerkvoëltjie is huis toe gebring het en daar was altyd behoorlik ʼn dieretuin by haar ouerhuis. Haar sussie het wel toe uiteindelik ʼn veearts geword, maar die nuus het vir Mia gekies.
Voor in Mia se Meestersgraadproefskrif staan die volgende aanhaling van Maya Angelou:
“When you learn, teach, when you get, give.”
Vir Mia is dit besonder lekker om soms klas te gee by Stellenbosch Universiteit waar sy as spesialisdosent televisiejoernalistiek aanbied.
“Dis vir my so lekker om met hierdie volgende generasie joernaliste te werk. Hulle is ʼn klomp entoesiastiese studente wat uitsien om ʼn bydrae te kan lewer in die mediabedryf, veral in Afrikaans. Hierdie jong stemme wil ook al die nuwe mediums en nuwe tegnologie gebruik en ek sien baie potensiaal. Dis heerlik om vir hulle ʼn mentor te wees. Ek was bevoorreg om in die Afrikaanse media soveel mentors te hê wat my in my loopbaan gehelp het. Kleintyd het ek gekyk na mense soos Ruda Landman, Mariëtta Kruger en Bettie Kemp – wat almal op televisie was. As bloedjong joernalis het kollegas soos Daniëlla van Heerden en LiMari Louw my weer onder hulle vlerk geneem en touwys gemaak. Nou is dit vir my so lekker om daardie rol te kan inneem en vir ander jong joernaliste rigting te gee,” sê Mia.
Een ding wat vir Mia van groot waarde is, is dat sy die geleentheid kry om in haar moedertaal te kan werk.
Dis nou bo en behalwe die werk wat sy ook in Engels doen. Nie almal het daardie voorreg nie, sê sy. Afrikaans bly nou maar eenmaal die taal van haar hart. Sy is dankbaar oor ʼn geleentheid soos Wie’s Nuus?, want met hierdie program word die aktualiteitsaanbod aan Afrikaanse kykers ook verbreed.
Waarna sien Mia Spies alles uit in haar loopbaan as joernalis wat heerlik voor haar uitstrek? wonder ʼn mens. Sy antwoord gou en sonder huiwering: “Op hierdie oomblik voel dit regtig asof ek nou presies is waar ek wou wees. Dit was altyd my droom om ʼn program van my eie te kan aanbied. Veral ʼn nuusprogram en dit ook nog in Afrikaans. Dis ook heerlik om saam met die groter Media 24-maatskappy te kan werk. Daar was al baie drome van verder swot, hier werk, daai bereik, maar op die oomblik wil ek eintlik net geniet wat ek nou doen. Dit is werklikwaar ʼn droom wat waar geword het!”