Hierdie artikel het oorspronklik verskyn op Kuier-digitaal.
Vir meer Kuier-inhoud, teken in op Netwerk24.

Skrywer: Chrislynn Sias
Foto’s: Anne Marais en Peter Abrahams
SHIMMY SKITTER OP 40!
Op 40 is Shimmy Isaacs lief vir haarself en staan sy vir niks en niemand terug nie.
Sy is nie ’n vrou wat jy in ’n boks kan druk nie, maar sy is beslis a force to be reckoned with!
Die veelsydige kunstenaar Shimmy Isaacs het verlede jaar haar 20ste jaar in die vermaakbedryf sowel as haar 40ste verjaarsdag gevier! Mooier, slimmer, wyser en meer outentiek as ooit. En dit is in haar rol as Petra in kykNET&kie se telenovela, Arendsvlei, wat sy kykers laat kraai het van die lag, maar ook soms hul bors lekker warm gemaak het. Petra het ’n vlymskerp tong en gaan tot die uiterstes om haar kind te beskerm. ’n Karakter waarmee so baie van ons kan vereenselwig. En hoewel Shimmy nie tans te sien is in die reeks nie, is dit ’n karakter wat haar die geleentheid gebied het om haar outentieke self te wees, eg. “Dit is mos hoe vroue in ons gemeenskappe is – overbearing en overprotective, maar sout van die aarde. Met daai karakter kon ek myself inleef.”
Dié flambojante, uitgesproke en eerlike kunstenaar is al deur diep waters, maar sy weet die beste lê nog vir haar voor. Maar eers vat Shimmy ons eers terug na Worcester, haar komvandaanplek, waar alles vir haar begin het.
Shimmy het haar tuisdorp, Worcester, op 17-jarige ouderdom verlaat. Sy het nie veel gehad nie, behalwe die wete dat daar groter dinge vir haar wag. Sy het nie presies geweet wát vir haar wag nie, maar oor een ding was sy baie seker – Worcester is heeltemal te klein vir Shimmy Isaacs.
Vir ons onderhoud sit Shimmy gemaklik en trots in haar Afrika-hemp by haar lessenaar. Met die intrapslag kom ’n mens agter dié vrou het baie om te sê.
In egte Shimmy-styl moet sy op ’n ligte noot begin.
“Nou ja toe. Hier is ons nou, 40 jaar later! Kan jy dit nou oorvertel? Laat ek vir jou iets sê, girla – die liggaam mag maar 40 is, maar Shimmy Isaacs se siel en passie is nog willing en able en reg virrie ding. Hulle sê mos hoeka life begins at 40!”
Sy vertel dit is vir haar ’n groot eer om op hierdie voorblad te pronk wat saamval met Erfenisdag. “This is it. Dit is Shimmy se tyd. Dit was nog altyd my doel om ’n stem te wees vir onse mense. Om vir hulle te wys dat jy nie nodig het om jouself te verander om in te pas by ander mense se standaarde nie. Jy moet net jouself aanvaar en die res moet volg! Dit is maar nou net dit. We are occupying spaces. Dit is ons beurt!”

EMBRACE “ANDERSHEID”
Shimmy is ’n ware mensemens en een wat haar lewe daaraan toewy om die pad oop te trap vir diegene wat ná haar kom. Sy is al vir die afgelope 20 jaar in die vermaakbedryf. “Sjoe, hulle sê mos dinge gebeur in ’n oogwink, maar die afgelope 20 jaar voel regtig asof dit in ’n oogwink verbygegaan het. Daar is niks wat ek omtrent my ervaring sou verander nie. Elke nee, elke struikelblok, elke stryd – ek sal dit weer oordoen. Dit het my help vorm in die mens en ook kunstenaar wat ek vandag is. Daar is sekere goed wat ’n mens moet deurmaak om aan jou karakter vorm te gee.”
Shimmy sê trots sy is nie meer die naïewe meisie wat 20 jaar gelede die bedryf betree het nie.
“Daar is niks mooier as om gracefully oud te word nie. Jy word wyser en jy leer sekere dinge wat jy net kan leer met ervaring. Dan begin besef jy wat vir jou is en wat nie vir jou is nie. As kunstenaars het ons die mag om die narrative te verander en dit was nog altyd my prioriteit.”
Shimmy is as kind gediagnoseer met aandagafleibaarheidhiperaktiwiteitsindroom (ADHD). ADHD is ’n chroniese toestand met simptome soos aandagprobleme, hiperaktiwiteit en impulsiwiteit. ADHD begin dikwels in die kinderjare en kan tot volwassenheid voortduur. Dit kan bydra tot ’n lae selfbeeld, versteurde verhoudings en probleme op skool of met werk. “Ek was altyd ’n bietjie agter by die ander kinders in die klas en ek kon dit nie verstaan nie. Ná die diagnose het alles toe begin sin maak en ek kon dit beter hanteer.”
Dit is eers nadat sy gediagnoseer is dat sy ’n ander benadering tot leer ingeneem het. “Daar was dinge waarmee ek verskriklik gesukkel het, maar ook dinge wat ek beter as die ander kinders kon doen. Ek moes vir myself ’n balans vind en het baie tyd spandeer deur boeke te lees en myself te bemagtig. Ek doen dit steeds,” vertel sy terwyl sy ’n boek oor social psychology oplig. “Ek probeer die menslike gedrag beter verstaan en ek kan dit net doen indien ek myself gaan opvoed.”
Shimmy probeer ook elke dag om haarself beter te verstaan en te toets.
“Ek werk nou met mense met wie ek nie gewoonlik sou werk nie. Net omdat jy nie van iemand hou of julle sukkel om oor die weg te kom, beteken nie daardie persoon is nie goed in hul werk nie. Dit is hoe ek nou dinge benader – daar moet mense wees wat jou uitdaag om beter te wees. Om beter te doen.”
Sy vertel geesdriftig hoe haar ma as enkelouer haar na ’n “wit skool” gestuur het.
“Dit is nie iets wat ons kon bekostig nie omdat my ma ’n hairdresser was, maar sy het dit gedoen. Sy het haar voete morsaf gestaan en haar arms lam geblow om te verseker dat ek daardie opvoeding kry. Sy is my inspirasie en ’n bewys dat aanhouer wen. Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg.”
Shimmy erken die lewe op Worcester was nie altyd maklik nie. “Ek was anders as die ander kinders en ek het altyd geweet dat ek nie in Worcester hoort nie. Ek het geweet daar is ’n wêreld wat buite Worcester op my wag. Ek onthou hoe hulle na my verwys het as ‘daai ding is mal’ en ek is nie mal nie. Ek is anders, uniek, enig in my soort. Ek haat nou nog die gebruik van die woord ‘mal’. Dit is iets wat ons in ons gemeenskappe moet verander.”
Shimmy verwys hiermee ook na die gebrek aan opvoeding en bewusmaking oor geestelike gesondheid in bruin gemeenskappe. “Ons praat mos nie oor die tipe goed in ons gemeenskappe nie en sodra iemand anders as ons optree, dan sê ons hulle is mal. Selfs my ma het eendag vir my gesê dat sy bang was om my die wêreld in te stuur omdat dit so ’n wrede plek is. Dit is ons verantwoordelik om mekaar by te staan en te ondersteun. Indien iemand sielkundige hulp makeer, moet hulle die vrymoedigheid het om daarvoor te vra sonder om verkleineer te word.”
Sy sê dit is belangrik, veral vir ouers, om hul kinders te embrace en te aanvaar. Met heimwee dink Shimmy terug en vertel emosioneel: “Ek het daardie dag gegradueer aan AFDA en terwyl ek daar staan met my papier in my hand en my mammie langs my, kon ek die trane nie keer nie. Ek het oorgebuk en in haar oor gefluister dat dit nog net die begin was ons twee. Dit was my bewys aan haar dat ons dit saam kan doen.” En dit was nog net die begin, want sedert daardie dag het Shimmy as ’n kunstenaar en mens ontwikkel.
Ook antie Frieda, Shimmy se ma, het haar skill set verbreed. “Hoewel Mammie nie eers haar hoërskoolloopbaan voltooi het nie, is sy nou ’n gekwalifiseerde hospice-werker. Kan jy nou meer? Sy het dit vir haarself gedoen en dit is die tipe mens wie my ma is. Sy is ’n go-getter en is nie bang om te werk vir wat sy in die lewe wil hê nie. Dit is presies ook wie Shimmy Isaacs is – ’n mens wat wil, kan en beslis sal!”
Wanneer jy vorentoe beweeg in die lewe moet jy seker maak om ook terug te ploeg.
“Op 28-jarige ouderdom het ek my suster deur universiteit gesit. Alles wat ek doen, doen ek nie net vir my nie. Ek doen dit vir my familie ook. Ek doen vir die generasies wat ná my kom. I am paving the way forward vir ons bruin kinders. Ek wil hulle leer dat ‘nee’ ’n volle sin is en dat jy nooit hoef te compromise ten opsigte van jouself nie. Maak nie saak wat dit is nie. Moenie jouself minder maak nie.”

Shimmy en haar ma, Frieda, vanjaar by Kuier se Moedersdaggeleentheid.
“Dit was nog altyd my doel om ’n stem te wees vir onse mense.”
– Shimmy Isaacs
GETROU AAN HAARSELF
Sy vertel dit is hoekom sy nou gemaklik “nee” kan sê vir ’n projek wat sy voel pas nie by haar brand nie. “Dit was altyd my ding – ek gaan nie iets doen waar ek myself moet ‘dumb down’ nie. As ek my dialek moet verander net omdat dit jou pas, gaan ek dit nie doen nie. Jy gaan nie vir my sê hoe ek sekere woorde moet uitspreek net omdat dit jou pas nie. Ek weet hoe praat ’n bruin vrou. Ek is ’n bruin vrou. Vir te lank was kunstenaars ook gekoloniseer deur die medium van kuns. Nie ek nie.”
Met oë wat blink van trots en ’n glimlag wat van oor tot oor strek, verduidelik Shimmy hoe sy dinge deesdae op haar manier doen. “Ek is nie een wat duur karre en fancy goeters koop met my geld nie. Ek spaar. So as ek ‘nee’ sê vir ’n job is ek by means om myself vir ’n goeie paar maande te onderhou. Nie alles in die lewe is vir jou nie en hoe gouer jy dit besef, hoe beter.”
“It’s all about being intentional,” meen die 40-jarige vrou. “Wanneer jy goed doen met ’n eerlike en oop hart, wees verseker dat die Here nie slaap nie. Hy waak oor jou en beskerm jou. Ek is nie een van daai mense wat met die Bybel onder my arm gaan slaap nie, maar ek weet dat ek nêrens sou wees sonder my geloof nie. Dit is hoekom ek unapologetically leef. Ek weet wie en wat ek is. Of ander nou daarvan hou of nie. Ek gaan nie myself verander net om jou tevrede te stel nie.”
Shimmy sê sy het nooit getwyfel in wie sy is nie. “Dit was nog altyd my standpunt. Dit het ’n tydjie geneem om my stem te vind, maar ek het altyd geweet dit is hier binne. En die krag wat gepaardgaan met die vind van daai stem is iets anders. Ons as storievertellers besef nie aldag watter krag ons in ons hande hou nie. Dit is ons verantwoordelikheid om stories te vertel wat eg is. Een wat nie net vermaak nie, maar wat bemagtig.”
Sy onthou jare gelede toe ’n Afrikaanse televisieprogram die eerste keer ’n onderhoud met haar gedoen het. “Dit was een van my eerste TV-onderhoude en ek onthou hoe opgewonde ek was. Nou moet julle onthou ek is ’n meisie van Worcester, ’n vrou vannie blokke. Hulle het voorgestel dat ons ’n woonstel in Seepunt huur en die onderhoud daar opneem. Ek het geweier, want dit sou ’n klug wees. Op daai stadium kon ek nie ’n woonstel in Seepunt bekostig nie, so hoekom sou ek dit doen? Toe vat ek hulle blokke toe. Dit is wie ek is en waarvandaan ek kom. Ek wil nooit skaam raak oor waarvandaan ek kom nie. Inteendeel hoe gaan daai kind sien wat daarbuite sit en wag as ek nie vir hulle wys dit is moontlik nie?”
Shimmy se oë blink wanneer sy praat oor haar liefde vir die kunste. “Ek hou van stories vertel – alle aspekte van stories. Van skryf tot vervaardig tot acting. Absoluut alles. Dit is vir my lekker om aan iemand ’n storie te gee wat hulle emotionally move. Een wat hulle capture en aanspoor om tot die beste van hul vermoëns daai storie te vertel. Ek wil nie net geken wees as Shimmy die komediant nie, nee, ek is ’n veelsydige kunstenaar.”
Dit is hoekom dié vrou so in haar noppies is dat sy uiteindelik erkenning kry as ’n screenwriter. “Ek is nou besig met ’n reeks vir kykNET, Frieda. Ek het ook onlangs ’n reeks vir SABC klaargeskryf, Karavaan. Ek wil nie hê mense moet my net in een boks wil plaas en besluit dat dit al is wat ek is nie. Ek is ’n skrywer, aktrise, komediant en vervaardiger. En ek is goed. Bleddie goed. Ek werk hard vir wat ek wil hê. Niks word op ’n skinkbord aan my oorhandig nie.”
GLO EN WERK HARD
En wanneer sy nou terugkyk op haar lewe sou sy kon voorspel dat dinge so sou uitdraai? Sonder huiwering verklaar sy: “Beslis! Ek het geweet dié gaan my lewe wees. Ek het dit oor myself gespreek. I always knew I was going to be in the presence of greatness en ek het bly glo en bly werk.” In Februarie vanjaar het Shimmy die verhoog gedeel met Steve Harvey toe hy die Suid-Afrikaanse weergawe van Family Feud aangebied het. “Dit was ongelooflik en ’n ervaring soos min. Dit is wat gebeur wanneer jy consistent is – jy werk hard en jy pluk dan die vrugte.”
Daar is vir Shimmy niks mooier as om op haar ouderdom net haarself te wees nie.
“Wanneer ek met jonger mense werk, vertel ek hulle altyd dat dit nie maklik gaan wees nie, maar dat dit wel die moeite werd sal wees. Jy moet ’n plan het vir jou lewe – skryf alles neer en tick daai planne een vir een af. Dit kan dalk nou vir jou voel asof jy nie daar hoort waar jy is nie, maar indien jy die nodige gaan doen om daaruit te kom, sal daar ’n uitweg wees.”
Volgens Shimmy moet opgee nie ’n opsie wees nie. “Onthou jy was minderbevoorreg gebore. Sedert jou geboorte het jy al soveel verduur, so wat meer kan mense aan jou doen? Vat al daai pyn en swaarkry en gee dit aan God. Gebruik dit as jou ammunisie in die oorlog om oorlewing. You’ve got this – moet dat niemand vir jou anders vertel nie.”
Wat is haar resep om vir soveel jaar in dié moeilike bedryf te oorleef? “Om konstant aan myself te werk. Om met elke jaar beter te word. As jy dit nie vir jouself gaan doen nie, gaan niemand dit vir jou doen nie. Droom, bruin kind, droom. Moet net nie dat jou drome net drome bly nie. En as jy jouself op ’n plek vind van ongemaklikheid onthou dis nie jou destination nie, maar jou transportation na jou destination. Jy het soveel meer om vir die lewe te gee – skiet vir die sterre!”
“Maak nie saak wat dit is nie. Moenie jouself minder maak nie.”
– Shimmy Isaacs
FOTO’S: Anne Marais en Peter Abrahams
GRIMERING: Kyra Loubser
STILERING: Shane B. Good