Skrywer: Alita Steenkamp
Nuwe vlerke vir Marita se Dinge van ʼn kind
Enige skrywer wat ʼn boek skryf, het aanvanklik net die begeerte om daardie storie met die wêreld te deel. Alles wat daarna met die storie gebeur, is ʼn heerlike meevaller. Lesers, aan die ander kant, is oorgelaat aan die vermoë van skrywers om slim, inspirerende, spannende, avontuurlike of roerende fiksie te skryf om hulle op ʼn fantasievlug weg te neem. Praat ʼn mens met skrywers hoor jy dit is voorwaar ʼn wonderlike gebeurtenis wanneer die verbeelde werklikheid wat hy of sy met die fiksieboek geskep het, in vele ander gedaantes plesier verskaf. Almal is immers nie ywerige fiksielesers nie.
Marita van der Vyver kuier tans in Suid-Afrika en dit val toevallig saam met die afskop van die televisiedrama Die dinge van ʼn kind op kykNET. Die dinge van ʼn kind, ʼn boek wat in 1994 verskyn het, word beskryf as ʼn Bildungsroman. ʼn Bildungsroman, weet ons, is ʼn genre van letterkunde waarin die sielkundige en morele groei van ʼn jong protagonis ontsettend belangrik is. Die jong protagonis in Marita se verhaal is Mart Vermaak en ons leer haar ken in hierdie boek wat beskryf word as ʼn onthutsend eerlike boek oor die begin van vrouwees en die verlies van onskuld op seksuele, politieke en morele vlak. In 1998 het die skrywer Harry Kalmer Marita gekontak en gevra om die boek as verhoogteks te ontwikkel. Sy het ingestem en vertel dat dit vir haar ʼn wonderlike gebeurtenis was om in die gehoorsaal te sit en te kyk hoe haar woorde voor haar lewendig word.
“Dit was verskriklik lekker,” onthou Marita. “Hier was ek deel van die gehoor en ek kon sien hoe my woorde op papier lewe kry. Ek kon ook die reaksie van die mense ervaar. Dit is besonder lekker vir ʼn skrywer, want jy sit mos maar alleen in jou kamer en skryf. Boekskryf is ʼn eensame ding, boeklees ook. Daar is natuurlik mense wat ná die tyd vir jou sê dat hulle jou boek baie waardeer het, maar die oomblik wat jou boek ʼn verhoogstuk of fliek word, dan sit jy tussen ander mense en jy merk dat hulle op die regte plekke lag, en op die regte plekke treurig word, presies soos jy dit bedoel het. Dan voel dit nie soos iets wat jy geskryf het nie.”
In 2019 het die aktrise Cintaine Schutte toestemming by Marita gekry om Die dinge van ʼn kind te ontwikkel as ʼn eenvroustuk. Francois Toerien het die teksverwerking gedoen en Alexa Strachan was die vervaardiger. Cintaine se stuk is uitstekend ontvang deur gehore by verskillende kunstefeeste en sy is ook met ʼn Sinjatuurtoekenning by die kykNET Fiëstas vereer vir haar vertolking.

Dit was egter nie net Cintaine Schutte en Harry Kalmer wat nuwe moontlikhede vir hierdie boek, wat in die vroeë negentigs geskryf is, gesien het nie. ʼn Hele paar jaar gelede het ʼn jong filmmaker, Elanie Rupping, vir Marita van der Vyver gekontak en gesê dat sy besonder baie aanklank vind by Die dinge van ʼn kind. Elanie wou ʼn fliek daarvan maak en het kykNET met die idee van ʼn fliek genader waaraan hulle aanvanklik nie wou byt nie. Intussen het Elanie haarself as filmmaker bewys met ʼn ander projek van haar. Die uitstekende televisiereeks Tydelik Terminaal, wat gebaseer is op Elanie se eie kankerervaring, het groot sukses behaal. Elanie het intussen nie opgegee op haar drome om Die dinge van ʼn kind te verfilm nie, en uiteindelik het sy die groenlig vir ʼn televisiereeks by kykNET gekry. Om as televisiereeks te werk, sou dit egter nodig wees om ʼn derde storielyn by te skryf. Die roman speel af in twee tydperke, die sewentigs van Mart se grootwordjare, en Londen in die negentigs waar Mart haar toe as ekspat bevind het. Elanie en haar span het besluit om ʼn ouer hedendaagse Mart, met haar eie krisisse en uitdagings, deel van die storielyn te maak en Henriëtta Greyffenberg het saam met Elanie die televisieteks geskryf.
“Vir my was dit goed om te weet ʼn ouer skrywer soos Henriëtta is deel van die span. Sy het grootgeword in die 70’s en kan dus onthou hoe dit toe was. My boek is beslis as basis vir baie van die dialoog in die televisiereeks gebruik, maar daar moes bygeskryf word. Ek dink die kombinasie van Elanie en Henriëtta werk heerlik. As skrywer moes ek geweet het dat daar gewoonlik aan ʼn boek verander word wanneer dit in ʼn televisiereeks omskep word. Ek is nie heilig op my skryfwerk nie en as joernalis is ek gewoond daaraan dat my werk verander word. Hierdie is ook natuurlik ʼn ander genre,” sê Marita.
Marita en haar Fransman Alain Claisse het vooraf die geleentheid gekry om die hele reeks te sien. Danksy die Engelse onderskrifte kon Alain ook hierdie reeks saam met haar geniet, iets waaroor sy dankbaar is.
“Ek is werklik tevrede met die eindproduk, hulle het mooi gemaak,” sê Marita. “Natuurlik is ʼn mens altyd ʼn bietjie bang dat jy dalk moet lieg en sê dis goed gedoen, maar eintlik wil jy net jou kop in skaamte laat sak. Dis egter nie die geval nie. Dis vir my heerlik dat dit ʼn jong span is wat dit gemaak het. Nagvlug Films het al wonderlike reekse soos Nêrens Noord-Kaap en die fliek Wonderlus gemaak en ek het geweet ek kan hulle vertrou. Dis goed om ʼn nuwe generasie by te bring. Ek wil nie hê dit moet bloot net ʼn nostalgiese terugblik vir ʼn ouer generasie wees nie. Dit gaan juis oor jongmense se emosies wat universeel is. Vir die jong mense moet jy vertel hoe dit was, en vir die ouer kykers moet jy herinner hoe dit was.

“Daar mag dalk wenkbroue lig, want my boek draai ook nie doekies om wanneer dit by tienerseksualiteit kom nie. Dit spreek dinge soos selfdood ook aan en dan natuurlik die Weermag, wat die kinders van vandag nie ken nie. Maar daar is in Die dinge van ʼn kind niks wat ons jeug nog nie in oorsese reekse gesien het nie. Dit is lekker om te weet dat ʼn boek wat byna 30 jaar gelede verskyn het, ook nou vir mense wat nie lees nie, iets kan oopmaak van daardie tyd. Op die ou end is ʼn storie vir ʼn skrywer mos soos ʼn kind wat jy moet vrylaat om in die wêreld in te gaan en te sien wat gaan gebeur!”