In hierdie podsendingreeks gesels Afrikaans.com met merkwaardige persone binne die Afrikaanse leefwêreld. Ons bied jou ’n blik op jou gunstelingbekendes op maniere soos jy hulle nog nooit vantevore kon leer ken nie, en stel jou ook bekend aan nuwe name, projekte en idees.
In hierdie episode gesels aanbieder Edwin van der Walt met die aktrise, skrywer, en regisseur Bianca Flanders Balie van Troukoors– en Nêrens Noordkaap-faam.
Hulle gesels oor:
- Angs en metodes om dit te oorkom
- Bianca se gunstelingboeke
- Die impak en lesse van mentors
- Bianca se wegholsukses kinderboek, Prinses Pampoenpit
- Haar rol in Troukoors
- Advies aan haar jonger self

Edwin van der Walt is ‘n akteur, aanbieder en entrepreneur. Sedert hy vir die eerste keer gehore se harte in 2014 in die romantiese komedie, Hollywood in my Huis, gesteel het, het ‘n rits lokettreffers gevolg. In films soos Jagveld, Wonderlus, Ballade vir ‘n Enkeling en Die Pro het hy sy diversiteit as kunstenaar ten toon gestel en die respek van die industrie sowel as aanhangers gewen. Dit is egter die man agter die karakters, Edwin self, wat deesdae groot golwe maak. Onder sy vriende, en nog meer onder die publiek, word hy geken as ‘n persoon wat verbetering van self en van ander voorop stel. Edwin leef sy passie hiervoor ook uit op die platform Novieguide , waar ‘n verskeidenheid aanlyn kursusse gekoop kan word.

Bianca Flanders Balie is ‘n skrywer, aktrise, en regisseur. Sy is bekend vir verskeie verhoogrolle sowel as haar onlangse vertolking van Abi in Showmax se Troukoors en Chrissie in kykNET se Nêrens Noordkaap. Sy is ook die skrywer van die kinderboeke Prinses Pampoenpit en Pampoenpit se groen gevoel.