Wanneer jy met Jannes Erasmus gesels, kom jy gou agter dat hy die wyse woorde van sy ma prakties toepas in sy lewe en veral sy loopbaan: “Die enigste grense in jou lewe is dit wat jy self oprig. Droom groot.” In sy loopbaan in die kunstewêreld het hy al verskeie kere groot gewaag, en gewen. Jannes vertel dat hy vroeg al op die verhoog was. Hy was bloot vyf jaar oud toe hy as die karakter Popeye voor 500 mense moes sing en spinasie eet. Hy was ook nie veel ouer toe hy sy heel eerste gediggie geskryf het nie. Vandag lag hy bloot as hy daaraan dink: “Enigeen kan mos ʼn paar rymwoorde inspan en dan is dit baie oulik omdat jy net ses jaar oud is.”
Dis op hoërskool waar die dramagogga werklik gebyt het. Hy was in graad 10 in Hoërskool Rustenburg toe hy met die idee van ʼn tienertoneelgeselskap by ʼn onderwyseres gaan aanklop het. Sy het gedink dit is ʼn goeie idee en dit het uiteindelik gelei tot die skool se deelname aan die ATKV se Tienertoneelkompetisie.
Ná skool het hy drama gaan studeer aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie en in die studenteproduksie van Equus het hy werklik geskitter as Allan. Tog was daar altyd die drang by hom om te skryf, en nie net noodwendig as akteur ʼn bestaan te maak nie. In sy derde jaar wou hy graag deelneem aan die teksskryfprogram van die universiteit. Hy het die verhoogteks Smaarties geskryf, en plek gekry in die skryfprogram, iets waaroor hy baie dankbaar was.
“My dosent het my daardie tyd die hoogste punt in die klas gegee vir my teks, maar terselfdertyd gesê dat die teks nie opvoerbaar is nie. Hy kon nie in sy kop sien dat dit opgevoer kan word nie. Dit het my egter nie gekeer nie en twee maande later het ek hom genooi na die openingsaand van die produksie,” lag hy.
Alhoewel Jannes Smaarties geskryf het met ʼn ander akteur in die hoofrol, het dinge nie so uitgedraai nie. Die produksie het by die Staatsteater in Pretoria geopen, maar ʼn week en ʼn half voor die tyd, het die akteur wat die hoofrol in hierdie eenmanvertoning moes speel, onttrek. Jannes en die regisseur het met hulle hande in die hare gesit, maar die regisseur het gou met die idee gekom dat Jannes die rol moes oorneem.
“Die Here het ʼn wonderlike humorsin. Ek hou daarvan om te skryf en regie te doen, dis beslis nie my eerste liefde om toneel te speel nie, maar toe word ek by die diepkant ingegooi. Met die teken van die kontrakte het ek op ʼn manier myself in ʼn baie sterk loopbaan ingeteken,” sê hy.
Smaarties het almal in teaterkringe laat regop sit. Die slim teks oor ʼn jong man met skisofrenie, is uitstekend vertolk deur Jannes en die een na die ander nominasie by verskillende teater- en kunsfeestoekenningsgeleenthede het ingerol. Die Naledi-prys wat hy vir sy produksie AS ontvang het, was beslis vir Jannes ʼn wonderlike hoogtepunt. Hy het ook ʼn Bloustoel Fiësta vir Grensverskuiwende teater en ʼn Pansa skrywerstoekenning by die National Arts Festival in Grahamstad ontvang.
“Sekere teaterreëls het nog nooit by my teaterstyl ingepas nie. In my oë moet teater ʼn ervaring wees, en nie bloot net ʼn vertoning nie. Ek het nog altyd die reëls gebreek wat professionele teater vereis. Een van my dramas, ONSkuld, was ʼn riller waarin ons mense in karre saam met verskillende akteurs laat rondry het vir 20 tot 25 minute. So word dit teater op die pad. Uiteindelik kom almal bymekaar om uit te vind daar is ʼn moord gepleeg. Skielik is almal medepligtiges en hulle word dan in ʼn polisiekar teruggevat teater toe,” verduidelik Jannes.
Daarna het nog ʼn paar baie interessante teaterervarings gevolg soos Sand, Still, Swem en Vir Ander. Die een ding wat hy egter langs die pad geleer het, is dat die teaterindustrie ʼn baie moeilike industrie is.
“In ons land is die teaterindustrie heel onder in die pecking order wat die kunste betref. Mense is nie bereid om geld daarvoor te gee nie. Baie van die kunstefeeste vereis dat jy op die fees open met jou produksie, maar hoe gemaak om die nodige geld bymekaar te maak om by die fees uit te kom met jou stel en akteurs? Vir jong teatermakers is dit baie moeilik om te kompeteer teen die groter ouens wat finansieel goeie rugsteun het. Ek het toe iets gedoen wat jy seker as kunsteselfmoord kan beskou en by ʼn musiekmaatskappy, Inhouds Huis Musiek vir ʼn salaris gaan werk,” vertel Jannes.
Alhoewel hy aanvanklik aangestel is om die sosiale media van hierdie maatskappy te behartig, het hy vinnig die kans gekry om musiekvideo’s te maak, en uitstekend hiermee gevaar. Op ʼn wonderlike manier het hy dus die kans gekry om steeds te kan skryf en regie te doen en sy skeppende aard lewendig te hou.
Een van die kunstenaars van Inhouds Huis Musiek is die talentvolle Bernice West wat ook sy meisie is. Hy het al verskeie musiekvideo’s vir Bernice gemaak op interessante liggings soos op die see, in Mosambiek, Cullinan en in ʼn kunskamer. Die twee het onlangs haar splinternuwe musiekvideo, Jona, aan die onderkant van Lesotho gaan skiet en dit was ʼn fantastiese ervaring, sê Jannes.
Op ʼn dag het Johan Vorster, een van die direkteure van Inhouds Huis Musiek vir Jannes gebel en aan hom gesê dat daar ʼn nuwe projek vir hom is. Jannes het eers gedink dis nog ʼn musiekvideo wat hy moet maak, maar Johan het verduidelik dat dit hierdie keer nie ʼn musiekvideo is nie.
“Ek was stomgeslaan toe Johan vir my sy plan van ʼn musiekblyspel verduidelik. Hy wou hê ek moes die teks skryf en die regie behartig. ‘Johan, ek het al baie groot teater in my lewe gedoen, maar het nog nooit ʼn musiekblyspel gedoen nie,’ het ek aan hom verduidelik. Johan het my stilgemaak en gesê ek moet eers na iets luister voordat ek besluit. Hy het vir my Beloofde Land gespeel wat hy spesiaal vir die musiekblyspel geskryf het. Ek het daarna geluister en besef as ek hierdie kans laat verbygaan, gaan ek myself skop. Daardie musiek is wêreldgehalte! Ek het gedink aan wat Richard Branson al gesê het: ‘If somebody offers you an amazing opportunity but you are not sure you can do it, say yes – then learn how to do it later.’ Ek het ook vir die Here gevra dat hy my daarmee sal help,” sê Jannes.
Hy het aan die werk gespring, en nou is Die Gelofte eersdaags op die planke. Jannes lag en sê hy het vir Johan Vorster gesê hy sal dit doen, maar dan wil hy hom ook in die produksie gebruik en nou is Johan Vorster in die rol van Sarel Cilliers vir die eerste keer in baie jare weer op ʼn verhoog. Baie van sy ou Eden-bewonderaars gaan baie bly wees om dit te hoor. Ander bekende name in die produksie is Nadia Beukes en Bernice West. ʼn Belowende nuwe musikant, Ilàn van Staden, maak sy debuut in Die Gelofte.
“Die gelofte in die titel verwys natuurlik na die gelofte wat die Voortrekkers in hulle laer afgelê het voor Bloedrivier,” vertel Jannes. “Dis ʼn stukkie geskiedenis wat die kinders nie meer leer op skool nie. Daar is egter geen geweld of politiek in die storie nie, maar daar is wel ʼn pragtige liefdesverhaal. Die Gelofte is ʼn storie van hoop en afhanklikheid van die Here. Ek het ook op ʼn kreatiewe manier die storie laat ontvou en dit begin met twee tieners wat op soek is na dekor vir hulle tienertoneelproduksie. Wanneer hulle dan op die verhoog van die verlate teater stap, ontdek hulle ʼn boks briewe. Terwyl hulle die briewe lees, begin die verhaal van Die Gelofte agter hulle op die verhoog waar word. Soos wat ek altyd nog poog met my skryfwerk, wou ek ook van Die Gelofte ʼn wonderlike teaterervaring maak. Ons sien geweldig uit na die produksie, en glo dit sal weer die mense teruglok teater toe. Dit was veral lekker om hierdie in Afrikaans te kon doen.”

Foto Verhaal Vrydag
Sowat vyf jaar gelede het Jannes die Facebookblad Foto Verhaal Vrydag begin waarin hy gebruikers vra om ʼn foto te plaas en die storie agter die storie te deel in ʼn opsomming, gedig of kortverhaal. Hy deel dan op ʼn Vrydag hierdie verhale of gedigte.
“Dit is ongelooflik om te sien die blad het nou al 44 000 mense wat dit volg. Dis wonderlik om die groot verskeidenheid te sien. Sommige mense deel hulle kankerstories, ander vertel van die pad wat hulle met die Here stap. Daar is boere wat gesels oor hulle boerdery of jongmense wat iets persoonliks deel. Dit maak my lewe ryk om elke week te sien wat die mense met ʼn foto kan doen en dit alles boonop in Afrikaans. Om in Afrikaans te werk is vir my die grootste voorreg en iets wat ek nie sommer sal opgee nie,” sê Jannes.
Die Gelofte sal van 6 tot 29 Mei by die AfriForum Teater in Pretoria opgevoer word.
Die musiekblyspel Die Gelofte was uitstekend, dit het my emosies goed geskommel ek het getjank en gelag. Baie dankie, doet so voort