Die UJ-pryse vir Afrikaans word sedert 2000 in twee kategorieë toegeken. Een spesifiek vir ʼn debuutwerk. Dit word toegeken aan besondere en uitsonderlike Afrikaanse boeke wat in die voorafgaande kalenderjaar gepubliseer is. Vanjaar word die UJ-debuutprys vir die eerste keer gedeel. Die wenners van vanjaar se debuutprys is die digter Ashwin Arendse met sy digbundel Swatland en die skrywer en ouduitgewer Frederik de Jager met sy kortverhaalbundel Man op ʼn fiets êrens heen. Die skrywer S.J. Naudé wat in 2012 die UJ-debuutprys vir sy kortverhaalbundel Alfabet van die voëls gewen het, wen vanjaar die UJ-Letterkundeprys vir sy kortverhaalbundel Dol heuning. S.J. Naudé het dié prys ook voorheen verower vir sy roman Die derde spoel. Die pryse sal in die tweede helfte van die jaar aan die wenners oorhandig word tydens ʼn geleentheid wat deur die Universiteit van Johannesburg se Kantoor vir Meertalige Taaldienste georganiseer word. Al die UJ-pryse sal tydens hierdie geleentheid oorhandig word.
Deel hierdie plasing