Hierdie artikel het oorspronklik verskyn op Kuier-digitaal.
Vir meer Kuier-inhoud, teken in op Netwerk24.

Skrywer: MARTELI BREWIS
Foto’s: Verskaf
Pro oppie plank
Dié klong van die Kaapse Vlakte laat die skateboard-rekords spat en palm titels in ten spyte van sy asma.
As jong, sieklike seun het Jean-marc Johannes (30) van Athlone op die Kaapse Vlakte nooit gedroom dat hy eendag ’n internasionale atleet sou word wat links en regs skateboard-rekords breek nie.
Net ’n paar jaar gelede nog is skateboarders dikwels gesien as hooligans wat baiekeer deur die polisie verjaag sou word. Deesdae is dit egter nie net ’n gewilde sport in Suid-Afrika nie, maar ook ’n manier om kinders weg te hou van die wêreld van dwelms en bendes wat al so baie drome op Kaapse Vlakte laat sneuwel het. Vanjaar het dit ook die eerste keer deel geword van die Olimpiese Spele. Ongelukkig het Jean-marc weens die pandemie nie vir die Spele in Tokio gekwalifiseer nie, maar hy mik beslis vir die volgende een in 2024.
“Ek het van kleins af asma gehad en was gedurig in en uit die hospitaal,” vertel dié aantreklike jong man. “Dit was nie net die siekte nie, maar ook die mental struikelblokke wat dit veroorsaak het, wat ek moes oorkom.” Jean-marc het vir ’n hele klompie jare geglo hy sou nooit kon sport doen nie – soveel so dat hy dit heeltemal begin vermy het. As kind was hy egter gefassineer deur skateboarding, maar was steeds stomgeslaan toe sy ouers op 10 vir hom hul ou skateboard uit die garage gaan haal. Hy kon egter nie wegbly nie en het stadig maar seker homself begin leer om truuks te bemeester.
“Skateboarding het as’t ware nie net my lewe verander nie, dit het letterlik my lewe gered. Dit het vir my ’n doelwit en hoop gegee.”
Volgens Jean-marc het hy ook deur skateboarding besef hy het die deursettingsvermoë om ondanks sy mediese toestand sy doelwitte te bereik. En vandag wil hy hê almal moet weet enigiets is moontlik! Hoewel hy steeds asma het, het skateboarding hom gehelp om die dit beter te bestuur deur na sy liggaam te luister.
Harde werk
Volgens hom is skateboarding beslis net so uitdagend soos enige ander professionele sport. “Jy kan dit nooit heeltemal master nie en dit laat jou die vryheid toe om kreatief te wees. Daar is geen limits nie! Dit kom neer op jou vaardighede. Maar, nadat jy vir twee of drie dae aan ’n kompetisie deelgeneem het, vat dit aan jou lyf. Jy moet ook fisies fiks wees en kan nie net op jou vaardighede staatmaak nie.”
Vir hom is skateboarding uniek omdat dit ’n sport is waar kuns en fisiese vermoë mekaar ontmoet en dat skateboarders op ’n kreatiewe manier beweging verander – iets wat intense fisiese krag en beheer nodig het om uit te voer.
“Ja, dis harde werk en jy kry soms baie seer – jy val hard as jy ’n fout maak! Maar as jy opstaan, kan jy leer uit jou foute.”
-Jean-marc Johannes.

As 11-jarige het sy vriende hom vir die grap ingeskryf vir ’n professionele kompetisie en tot almal se verbasing het hy met die louere weggestap! “Ek het teen al my gunsteling- volwasse Suid-Afrikaanse skateboarders gekompeteer en was stomgeslaan toe hulle my naam uitroep as die wenner!” onthou Jean-marc met ’n glimlag.
“Ek het toe nie veel geweet van mededingende skateboarding nie. Ek het net die gevoel daarvan vreeslik geniet. Die meeste van my truuks wat ek vandag kan doen, het ek geleer by die skating benches van die plaaslike taxi ranks en treinstasies. Ek sou enigiets tot my beskikking gebruik om myself te leer.”
Nie lank nie en Jean-marc was op 15 onder die top10-skateboarders in die land, met borge en al. Kort ná matriek is hy uitgenooi na ’n internasionale kompetisie in Amsterdam, Nederland. “Ek het eers vir my ouers daarvan vertel die dag voor my vlug vertrek het,” lag hy.
“Ek het net gevoel ek moet uitvind waar ek staan. Hoe ver ek hierdie ding kon vat.”
Hy vertel in Suid-Afrika is daar gewoonlik so 20 skateboarders by ’n kompetisie, maar by hierdie geleentheid was daar amper 300 van die bestes in die wêreld. Weer het Jean-marc homself verstom deur in die sesde plek te eindig. Sedertien het Jean-marc al talle toekennings en kompetisies gewen en rekords gebreek, selfs ’n Guinness World Record vir die meeste backside big spins – altesaam 18 360° draaie ná mekaar. Die vorige rekord van 12 in ’n ry is in 2007 deur ’n Amerikaner opgestel.
Baie eerstes vir SA
Hy is die eerste Suid-Afrikaanse internasionale skateboarder wat goue, silwer- en bronsmedaljes verwerf het vir kompeterende skateboarding. Hy was ook die eerste Suid-Afrikaner om goud te wen by die Fise World Series in China in 2016. In 2019 is hy genooi na die Skate Street League-kompetisie in Frankryk wat amper gesien word as die “Wêreldbeker” van die sport en vanjaar is hy genooi om deel te neem aandie Amerikaanse Dew Tour – een van die grootste skateboarding kompetisies in die wêreld.
Ook op eie bodem ontvang hy erkenning. Jean-marc is hierdie jaar aangewys as een van die 200 jong leiers in die sport-kategorie deur die koerant Mail & Guardian.
Hy vertel sy ouers, ouma en sy familie het hom deurentyd ondersteun en is geweldig trots op alles wat hy bereik het.
“My ma is veral trots dat Kuier ’n artikel oor my wil skryf,” lag hy.
Deur sy sport het Jean-marc ’n beurs ontvang en het vroeër vanjaar sy studies in sportbestuur aan die HFPA Sports Academy suksesvol voltooi. “Ek het dit begin studeer, want ek het besef ek moet die besigheid-aspek van die sport ook begin verstaan sodat ek my loopbaan beter kan bestuur.”
Al spog hy met borge soos Nike, Oakley en Nokia wat sy rekeninge betaal, het hy ook ’n ander lewensmissie. Sy internasionale sukses veroorsaak nie dat hy sy Athlone-wortels vergeet nie. Inteendeel, hy doen moeite om in sy gemeenskap met seuns te gesels, hulle te probeer bemoedig en inspireer.

“Athlone, waar ek leer skateboard het, is steeds vol bende-aktiwiteit en misdaad. Dis nie juis waar jy sou verwag ’n sportman vandaan sal kom nie. Daai gedagte laat my altyd harder werk.” Volgens hom het mense vir hom gesê sukses is onmoontlik vir iemand wat kom waarvandaan hy kom.
“Ek hoop my deursettingsvermoë en dedication sal ’n voorbeeld wees vir ander om nie toe te laat dat hul omstandighede hul ambisie beperk nie.”
Hy wil die narrative met skateboarding verander. “Ek wil hê die kinders moet sien die woord ‘onmoontlik’ bestaan nie meer nie.”
Nie net wil hy kinders van areas soos Athlone inspireer nie, maar ook dié wat sukkel om deel te neem aan hoofstroomsportsoorte.
“Die heel beste ding van om ’n professionele skater te wees, is om ander te motiveer, om die mense om my te kan inspireer en om ander te leer én te wys enigiets is moontlik. Glo in jouself en moenie dat ander vir jou sê iets is onmoontlik nie.”
Vandag is Jean-marc spyt daardie eerste ou, stowwerige bord wat sy ouers vir hom gegee het, het gebreek terwyl hy sy truuks probeer bemeester het, maar hy klou vas aan die goeie herinneringe van die begindae van sy passie terwyl hy strewe na ’n toekoms vol inspirerende sukses.