Marinda kuier met die doyen van kosskrywers, Peter Veldsman. Hulle gesels oor sy kinaderdae, vroeë loopbaanjare tot sy alombekende restaurant, Emily’s. Marinda maak vaalafval, en sy ma se sneeupoeding en vla. Kyk Stoofstories met Marinda op VIA, DStv-kanaal 147 op Woensdae om 17:00.
SNEEUPOEDING
Lewer 6-8 porsies
20 ml gelatien
70 ml koue water
250 ml kookwater
250 ml strooisuiker
60 ml suurlemoensap
skil van 1 suurlemoen, fyngerasper
2 eierwitte (hou die geel vir die tuisgemaakte vla)
- Los die gelatien op in die koue water.
- Gooi die kookwater, strooisuiker, suurlemoensap en suurlemoenskil in ’n pot en roer totdat die suiker opgelos is.
- Roer die gelatien by en roer deeglik.
- Gooi alles deur ’n sif en sit dit eenkant om af te koel.
- As jy merk dit begin stol, klits dit vinnig totdat dit begin skuimerig raak.
- Klits die eierwitte styf in ’n skoon glasbak.
- Vou dit in by die mengsel.
- Spoel ’n mooi opdienbak uit met koue water en gooi die poeding in die bak.
- Sit in die yskas.
TUISGEMAAKTE VLA
Lewer 6-8 porsies
600 ml volroommelk
5 ml vanieljepasta
gerasperde skil van een suurlemoen
3 eiergele
30 ml mielieblom (maizena)
25 g strooisuiker
- Gooi die melk, vanielje en suurlemoenskil in ’n pot en laat dit goed warm word – nie kook nie. Skakel dan die plaat af.
- Met ’n ballonklitser, klits die eiergele, mielieblom en suiker goed. Probeer om die suikerkristalle op te los terwyl dit geklits word.
- Gooi die lou melk bietjie vir bietjie by die eiermengsel terwyl dit deurgaans met die ballonklitser geklits word. (Dit is hier waar jy versigtig moet werk sodat dit nie skif nie.)
- Gooi die vlamengsel terug in die pot op die plaat en maak dit weer warm.
- Klits gedurig tot die vla begin dik raak.
- Dit is reg as jy ’n lepel indruk, jou vinger deur die vla op die lepel trek, en dit ’n strepie los.
VAAL AFVAL
Lewer 6-8 porsies
1 skoon afval met pootjies, maag, ens. (Delico s’n is na my mening die skoonste en beste)
4 skoon varkpootjies
500 ml water
90 ml asyn
1 ui in ringe gesny
2,5 ml swartpeper
4 heel naeltjies
2,5 ml fyn neut
2 lourierblare
6 wonderpeperkorrels
2,5 ml fyn koljander
20 ml suiker
4 skywe skaapnek
10 klein uitjies (baba-uitjies)
10 baba-aartappeltjies, geskil
- Kook die afval, insluitend die varkpootjies, water, asyn, ui, swartpeper, naeltjies, neut, lourierblare, wonderpeper, fyn koljander en suiker, vir 2 tot 3 ure. (Hou die watervlak dop. Nie te veel water nie, dis nie sop nie. Die afval sal begin sag raak.)
- Gooi die skaapnek by en kook vir nog 1 uur.
- Sit die uitjies en aartappels by en kook tot dit sag is en die vleis van die bene af begin val.
- Proe of dit na jou smaak is en pas aan indien nodig.
- Bedien dit op witrys.
Resepkrediet: Stoofstories met Marinda en Peter Veldsman
Nota: Dit is altyd lekker as die afval ’n bietjie kan staan totdat dit so lekker lymerig word.