Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
“Artikel 5 en 6 van die Wysigingswetsontwerp oor Basiese Onderwyswette is die sterkste aanval sedert 1994 op ouergemeenskappe se grondliggende reg om ‘n sê in hul kinders se onderwys te hê. Dit is ook die sterkste en bitterste aanval op Afrikaanse onderwys sedert die begin van ons demokrasie.”
– Dr Theuns Eloff
In hierdie meningstuk op Netwerk24 lig dr Theuns Eloff ‘n paar kernkwessies uit oor die voorgestelde Wysigingswetsontwerp oor Basiese Onderwyswette (die BELA-wet in Engels) en die veranderings wat dit aan die Suid-Afrikaanse Skolewet (Wet 84 van 1996) sal meebring. Afrikaans.com het die artikel kortliks opgesom.
In die artikel van 8 Maart 2022, skryf dr Eloff dat nie al die veranderings wat die wysigingswetsontwerp voorstel sleg is nie en dat daar ook talle veranderings is wat nodig is. Die wetsontwerp is ook steeds in die konsultasiefase.
Eloff meen egter dat die Afrikaanse gemeenskap wel moet kennis neem van die voorgestelde wysigings omdat die gevaar bestaan dat dit die “Afrikaanse gemeenskap finaal van die regering (en enige sosiale ooreenkoms) sal vervreem – en Afrikaanse onderwys onherroeplik sal skaad en selfs in openbare skole sal laat verdwyn”. Eloff noem ook dat daar niks oor moedertaalonderrig gesê word nie.
“Afrikaanse onderwys spesifiek en moedertaalonderrig in die algemeen is die belangrikste grondslag van ons en ander taal- en kultuurgemeenskappe. Sny dit af deur ‘n wet wat ouers se seggenskap in die onderrig van hulle kinders wegneem, en u (pres Ramaphosa) sny ons bene by die knieë af.”
– Dr Theuns Eloff
Die kernkwessies volgens dr Eloff:
- Die ANC-regering keer terug tot sentralisering, m.a.w. alvorens ‘n taalbeleid aanvaar word, moet “die taalbehoeftes van die breër gemeenskap in ‘n spesifieke onderwysdistrik waarin die openbare skool geleë is, in ag geneem word” en word daar dus nie onderskeid gemaak tussen die verskillende taalgemeenskappe nie. So kan dit gebeur dat Mamelodi as maatstaf gebruik word vir die onderrigtaal in Pretoria-Oos se Afrikaanstalige skole – omdat die skole onder dieselfde onderwysdistrik val.
- Ouergemeenskappe en beheerliggame se magte word ondermyn en weggeneem.
- Die provinsiale regering se onderwyshoof (aangestel deur die provinsiale regering) en die provinsiale regering se minister verantwoordelik vir onderwys word die besluitnemers oor toelatingsbeleid en taalbeleid.
- Die beheerliggaam moet die toelatingsbeleid en enige wysigings daaraan vir goedkeuring aan die departementshoof voorlê.
- Die de facto-onderrigtaal wat deur die regering voorgestaan word, is Engels.
- Taalminderhede sal nie meer ‘n sê hê oor taalbeleid in hulle skole nie, want hoewel die beheerliggaam van ‘n openbare skool die taalbeleid “mag” bepaal, moet die beheerliggaam die taalbeleid aan die departementshoof vir goedkeuring voorlê en is die besluit onderhewig aan ‘n opdrag van die departementshoof om meer as een onderrigtaal in te stel.
Lees die volledige artikel hier.
Belanghebbendes kan tot Maart 2022 kommentaar lewer
Die wetsontwerp is in Oktober 2017 vir die eerste keer vir kommentaar gepubliseer. Begin 2020 het die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, belanghebbendes uitgenooi na ‘n vergadering om die wetsontwerp te bespreek, waarna die wetsontwerp gewysig is.Bongiwe Mbinqo-Gigaba, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys, het belanghebbendes tot Maart 2022 tyd gegee om skriftelike kommentaar te lewer. Daar is egter nog nie ‘n spesifieke tydlyn bepaal vir wanneer die wetsontwerp voor die parlement gaan dien nie.
Lees meer hier.