Die legendariese sanger en liedjieskrywer Amanda Strydom kom maak dié week ’n draai by Marinda. Sy bederf haar met lamsribbetjie, aartappelslaai en tuisgemaakte vanieljeroomys uit haar kleintyd. Kyk Stoofstories met Marinda op VIA, DStv-kanaal 147 op Woensdae om 17:00
LAMSRIBBETJIE IN DIE OOND
Lewer 6-8 porsies
2 kg lamsrib
’n paar stukkies vars gemmer, geskil en gesny
1 botteltjie Savanna-appelsider
90 g bruinsuiker
2 steranyse
2 kaneelstokkies
sout
2 liter vleisaftreksel
- Meng al die bestanddele en kook vir een uur totdat die vleis net sag begin word.
- Dreineer en hou die rib eenkant.
Marinade
1 bottel Savanna-appelsider
skil van 1 suurlemoen
250 ml bruinsuiker
60 ml vars gemmer, gerasper
30 ml Chinese speserye
125 ml heuning
60 ml sojasous
10 ml fyn komyn
’n knippie sout
- Meng al die bestanddele vir die marinade saam.
- Sit die vooraf gekookte rib in die sous en marineer oornag of vir ten minste 2 ure.
- Verhit die oond tot 190 °C.
- Sit die rib met die marinade in ’n oondpan.
- Bak die ribbetjie tot sag en totdat die sous klewerig raak.
AARTAPPELSLAAI
Lewer 6-8 porsies
6 aartappels
1 ui, fyngekap
½ k pietersielie, gesnipper
250 ml (1 k) mayonnaise
125 ml (½ k) Griekse jogurt
60 ml melk
15 ml suiker
sout en peper
60 ml mosterd (korrelmosterd)
2 hardgekookte eiers
1 wieletjie fetakaas
- Kook die aartappels sag en sny in blokkies.
- Gooi die gekapte ui bo-oor.
- Strooi die gesnipperde pietersielie oor.
- Meng die mayonnaise, jogurt, melk, suiker, sout, peper en mosterd saam en gooi dit oor die aartappels.
- Roer versigtig deur sonder om die aartappels te breek.
- Rasper die eiers oor.
- Krummel die feta oor.
- Sprinkel nog pietersielie oor vir groenigheid.
ROOMYS
Porsies afhangend van bedieningsgrootte
2 liter goeie vanieljeroomys
2 pakkies Oreo-koekies, fyngemaak
3 Flake-sjokolades
1 pakkie Whispers of enige klein sjokoladeballetjies
250 ml room
1 klein plak sjokolade
eetbare blommetjies
- Voer ’n broodpannetjie uit met kleefplastiek.
- Maak die roomys ’n bietjie sag en meng die helfte van die koekies, die helfte van die Flake-sjokolades en die helfte van die sjokoladeballetjies met die roomys.
- Gooi dit in die broodpannetjie.
- Strooi die orige koekies oor.
- Maak dit toe met kleefplastiek en vries.
- Dop dit uit die broodpannnetjie en versier dit met die orige Flake-sjokolades, sjokoladeballetjies en mooi, eetbare blommetjies.
- Maak die sjokoladesous deur die plak sjokolade saam met die room in die mikrogolfoond te smelt.
Resepkrediet: Stoofstories met Marinda en Amanda Strydom.