Artikel deur: Alita Steenkamp
Waldimar Pelser se loopbaan in die Afrikaanse mediabedryf het hom al op verskeie interessante paaie geneem, en die rigting wat dit nou ingeslaan het, is ook een vol heerlike uitdagings. Aan die begin van Februarie 2022 het Waldimar die leisels by Karen Meiring oorgeneem as M-Net se direkteur vir kykNET-kanale. Na byna ʼn maand in hierdie pos, sê Waldimar dat hy elke oomblik van hierdie nuwe koers geniet. Hy is verras om te sien hoe stimulerend dit is om so ʼn komplekse, maar heerlike avontuur aan te pak. Dan werk hy boonop saam met wonderlike mense en vir hom is dit ʼn reusevoorreg dat hy ʼn gesonde, florerende kykNET by Karen Meiring en haar span kon erf.
Toe Waldimar in 2013, bloot 35 jaar oud, as Rapport se redakteur aangestel is, het hy gewys dat hy nie skrik vir ʼn uitdaging nie en dis met dieselfde waagmoed wat hy nou sy nuwe taak bestuur. Hy is besonder dankbaar vir die geleentheid wat hy gekry het. Een ding wat hy al vroeg in sy lewe geleer het, is dat wanneer so iets oor jou pad kom, moet jy dit aangryp.
“Dit was baie gou vir my duidelik dat die TV-omgewing verskriklik vinnig beweeg. Meteens moes ek op ʼn trapmeul klim wat reeds op ʼn redelike vinnige hardloopspoed gestel is. Die grootste uitdaging sou ek sê was om binne dae en weke ʼn redelike besef te kry hoe hierdie besigheid werk. Om diep te duik in enigiets: van balansstate tot draaiboeke en dit is wat dit so lekker en uitdagend maak. Dis nie ʼn eensydige rol nie. Dit vereis dat ʼn mens die sakekant van ons kreatiewe proses, waarin baie van ons se harte eintlik lê, onder die knie moet kry, want in iets soos televisie is die sakekant die pilare waarop alles rus. Solank as wat kykNET volhoubaar bly as ʼn besigheid, sal ons in die posisie wees om in Afrikaanse inhoud te bly belê,” sê Waldimar.
Oor Afrikaans en sy liefde vir sy moedertaal, gesels Waldimar gemaklik. Vandat hy 21 jaar gelede sy loopbaan as joernalis by Die Burger afgeskop het, werk hy in Afrikaans. Selfs in die tydperk wat hy in Nigerië gebaseer was vir Media 24, het hy meestal in Afrikaans gewerk. Om in Afrikaans te kan stories vertel vir ʼn Afrikaanse gehoor, is vir hom ʼn belangrike deel van sy identiteit. Glo hy dus daar is genoeg geleenthede om in Afrikaans te kan werk?
“Absoluut,” kom die eerlike antwoord. “Party van ons het die voorreg om met Afrikaans te werk, en nie net in Afrikaans nie. Dis werklik ʼn groot voorreg om mee te doen aan die skep van Afrikaanse inhoud. Daar is baie Afrikaanse mense wat in Engelse werkplekke is, maar steeds tuis Afrikaans praat en steeds Afrikaanse kultuurgoedere om hulle bymekaar maak. kykNET is ʼn kuierplek vir alle Suid-Afrikaners wat graag in Afrikaans stories wil deel met mekaar. Dis daarom dat goeie gehalte Afrikaanse inhoud vir ons hier by kykNET so belangrik is. Ek is ook deeglik bewus van die ongelooflike Afrikaanse talent wat hier beskikbaar is. Daai talent kan vinnig kwyn indien daar nie meer werk is nie. Ons is dankbaar om in die posisie te wees om wêreldklas akteurs, produksiespanne en tegniese personeel te hê wat op Afrikaanse produksies werk vir kykNET en sodoende aan hulle werksgeleenthede te bied.”
Een van die uitdagings wat die nuwe werk gebring het, is dat sy kantoor nou permanent in Johannesburg is. Vir die afgelope paar jaar het Waldimar bloot een maal per week op ʼn Woensdag na Johannesburg gereis vir die regstreekse televisie-uitsending van KN Verslag In Gesprek. Die res van die week het hy in Rapport se kantore in Kaapstad gewerk. Hy en sy lewensmaat, Wilhelm van der Hoven, woon in ʼn sjarmante Victoriaanse huis in Vredehoek, Kaapstad.
“Ek gaan aanhou pendel, maar oor naweke in die Kaap wees. Elke sport het sy beserings en om drie of vier naweke per maand in Kaapstad deur te bring, is iets wat baie min mense sal beskryf as ʼn straf,” lag hy. “Wilhelm is gemaklik met die reëling en wanneer ʼn mens ʼn uitdaging wil aangryp, is dit onafwendbaar dat daar ook ʼn prys daaraan gekoppel is. Ons glo dis die moeite werd en sal wel ʼn manier vind om ʼn goeie balans te handhaaf. Ek dink net ek gaan die twee honde meer mis as wat hulle my gaan mis.”
Oor die toekoms van Afrikaans sit Waldimar geensins in sak en as nie. Afrikaans mag dalk plek-plek onder druk wees in Suid-Afrika, sê hy, maar die besonder intieme band wat Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners met hulle taal en kultuurprodukte het, is duidelik sigbaar. Daarom sal ʼn platform soos kykNET alles in hulle vermoë doen om kwaliteit Afrikaanse kykstof aan getroue en lojale kykers te bied.
“Dis hoe kykNET ons rol sien. Ons sal dit beslis nie alleen kan doen nie. Daar is ʼn groot Afrikaanse ekosisteem buite kykNET en hoe gesonder daardie ekosisteem is, hoe beter vir ons. Dit sluit Afrikaanse koerante, tydskrifte, webblaaie, Afrikaanse teater en boeke en die hele Afrikaanse kultuuromgewing in. As mens eerlik moet wees, gaan dit tans goed met hierdie ekosisteem. Die enigste plek waar Afrikaans werklik onder druk is, is in die openbare onderwyssektor. Oral in Suid-Afrika is daar hegte Afrikaanse gemeenskappe en ook individue wat hulleself graag in Afrikaans wil uitdruk en sien dat hulle stories vertel word op ʼn kragtige medium soos televisie.
“Ons wil in Afrikaanse huishoudings wees. Ons wil aand vir aand genooi word om in mense se woonkamers te kuier. Ek bly optimisties oor die toekoms van Afrikaans, want ek kan nie sien dat Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners, sonder om ʼn reuseverlies te ly, hulleself kan stroop van hulle Afrikaanse identiteit nie. Daai identiteit het so ryk en veelduidend geword. Dit beteken lankal nie meer net een ding nie. Ons moet dus ook in die Afrikaanse inhoud wat ons skep, wys dat Afrikaanse mense alle tipes mense is. As jy eng gaan dink oor wie die Afrikaanse gemeenskap is, gaan die gemeenskap kleiner word. Maar indien jy ruim dink oor hoe die Afrikaanse gemeenskap lyk, dan word die sirkel al hoe groter, en daarmee ook ons taal.”