Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Hoërskool is grootskool op steroïede
Om vir die eerste keer hoërskool (graad 8) toe te gaan, is baie dieselfde as daardie eerste skooldag sewe jaar gelede – dis nog steeds effens skrikwekkend, met die een groot verskil: tieners huil mos nie voor hulle maats nie.
So vergemaklik jy die eerste dag op hoërskool vir jou kind in graad 8 …
Weereens is die skoolklere effens te groot, die skooltas is darem nou meer in proporsie en jy moes waarskynlik mooipraat dat daar ’n kosblik ingepak word. Geld vir die snoepie is soveel cooler. Maar, afgesien van die oënskynlike bravade, voel jou graad 8-kind steeds onseker en is die groepsdruk ’n werklikheid. Boonop speel die hormone nou ook ’n rol.
Voorwaar ’n moeilike tyd in ons kinders se lewens en covid-19 maak dit ook geensins makliker nie. Die aanpassing by afstandonderrig/tuisonderrig, om afgesluit te wees of te voel van maats, die inperking van sport en ander skoolgeleenthede – die hele onsekerheid wat hiermee gepaard gaan – is beslis nie vir sissies nie! Daarom is dit nou meer as ooit nodig om jou tiener emosioneel by te staan en met empatie te benader. Hulle (en jy) het nie hiervoor aangemeld nie! Hier is tien wenke om die proses te vergemaklik:
- Maak jou kind emosioneel en geestelik sterk deur gereeld te kommunikeer. So kom jy agter wat in daardie tienerkoppe aangaan – dikwels meer as wat daardie traak-my-nieagtige houding weerspieël.
- Moedig ’n positiewe gesindheid aan. Hier moet jy soms diep delf, want jou gesindheid en hoe jy uitdagings hanteer, stel ’n voorbeeld.
- Alles is nie maanskyn en rose nie. Soms gebeur daar slegte goed, maar moedig jou kind aan om moontlike voorvalle met jou te deel sodat julle saam ’n oplossing kan kry.
- Sosiale samesyn en wedersydse respek is belangrik. Moedig nuwe vriendskappe aan – al is dit tans ingeperk.
- Selfvertroue is die sleutel. Leer jou kind om in hom-/haarself te glo, sonder ’n ego. Jou kind moet toegelaat word om ’n eie mening te hê.
- Reëls is reëls. Dit gaan gepaard met selfdissipline. Maak seker jou kind weet wat van hom/haar verwag word en dat goeie gedrag beloon word. Leer hom/haar ook dat ’n mens verantwoordelikheid vir jou optrede aanvaar.
- Maak seker jou kind het al die nodige skoolbenodigdhede, soos die regte skooldrag, sportdrag en skryfbenodigdhede. Maak ook seker hy/sy neem verantwoordelikheid vir besittings.
- ’n Gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees. Moedig deelname aan sport en kultuur aan. Al is sport dalk tans ingeperk, kan ’n mens steeds fietsry en draf.
- Rig ’n plek in waar jou kind kan studeer. Die ruimte moet stil, goed geventileer wees en genoeg lig hê. Veral met afstandsonderrig, is so ’n ruimte belangriker as ooit en is ’n goeie rekenaar met toegang tot die internet noodsaaklik. Zoom-klasse (of wat ook al gebruik word) is deesdae die realiteit.
- Moedig goeie studiegewoontes aan. Indien nodig, raadpleeg ’n kundige om jou kind hiermee te help.
Sterkte met jou ontluikende grootmens. Dit is hoekom daar haarkleursel is – want grys voor jou tyd gaan hulle jou maak – dis vir seker!