Skrywer: Nicolette Kritzinger
Die groot wag is uiteindelik verby! Klein Karoo 2 is Woensdag, 15 Desember, op DStv Box Office vrygestel en kykers kan nou na agt jaar uiteindelik sien wat die lewe vir van hul gunstelingkarakters ingehou het. Bekendes soos Tim Theron, Leandie du Randt, Marciel Hopkins, Sisanda Henna en Nicole Fortuin is te sien in hierdie film wat die verskillende draaie en kronkelpaaie wat die liefde met jou kan loop, ondersoek.


Waaroor gaan die film?
Frans, ’n 38-jarige dokumentêre regisseur, word gedwing om ‘n tree terug te neem en sy lewe te herevalueer nadat hy onverwags vir die tweede keer voor die kansel gelos is.
Hy kom gou agter dat dinge eintlik erger kan word – op pad terug nadat hy ontdek het dat hy ‘n breingewas het, stop Frans langs die pad om Chloë, ‘n beeldskone boer wat besig is om ‘n heining reg te maak, te help. Sy vertel dat al die boere in die Karoo-omgewing sukkel omdat hul vee gesteel word. Dit is ‘n groot kommer omdat hul lewensbestaan in gevaar is.
Sonder om dit te weet, probeer Frans Chloë red en vestig hy die aandag op die probleem deur ‘n dokumentêr te maak oor die verskriklike voorvalle wat die boere in die gesig staar. Bongi en Jackie, saam met Tarryn, die direkteur van fotografie, moet almal help om die dokumentêr te laat realiseer.
Frans is bang en versigtig omdat sy hart pas weer gebreek is. Maar dit is duidelik dat daar aantrekkingskrag tussen hom en Chloë is. Terselfdertyd spandeer Frans meer tyd saam met Jackie en ontdek ’n kant van haar wat hy nie ken nie. Hy identifiseer met haar kuns en kan nie ontken dat sy sy hart ‘n bietjie vinniger laat klop as wat hy wil erken nie.
Die regte soort liefde kom net een keer in ‘n leeftyd. Sal Frans probeer om nog ’n vrou te red, of sy hart volg na waar hy verlang word?
Tim Theron, wat die rol van Frans vertolk, is ook een van die vervaardigers van die film. Tim meen hulle wou met die film wys dat Frans, en die ander karakters, nie onaangeraak deur die lewe gaan nie. “Hulle is nie heeltemal net spookasem-dun karakters wat deur ’n perfekte wêreld beweeg op soek na hulle one true love nie. Hulle kry ook stampe en stote, en moet hul pad vind deur die uitdagings van die lewe.”


Afrikaans.com het gaan inloer by drie van die film se hoofkarakters (Tim Theron, Leandie du Randt en Marciel Hopkins) om te hoor wat hulle te sê het oor hul karakters en hul ervaring van die verfilmingsproses.
Is daar iets aan jou karakter wat jou aan jouself herinner?
Tim: Wel, ons het albei swart hare … Ek dink Frans het ’n idealisme en positiwiteit aan hom wat ek ook deel – hy glo altyd daar is ’n manier om iets goed te kan doen, iemand te kan help, ’n verskil te kan maak.
Leandie: Ons het albei ’n wil van ons eie en ek is ook nie baie girly nie, nes Jackie. Ons sarkasme en eerlikheid is ook soortgelyk.
Marciel: Ek en Chloë het beide op ‘n plaas grootgeword en het ‘n groot liefde vir diere en die natuur. Ons is vreesloos as dit kom by wat ons wil hê en dít waaroor ons passievol is. Ons wil nie van ‘n man afhanklik wees nie – ons soek ‘n lewensmaat wat ons gelyke is en ons ondersteun in die drome wat ons najaag.
En op watter manier verskil julle?
Tim: Wel, niemand het my al voor die kansel gelos nie … alhoewel daar al definitief een of twee kere was wat my vrou daaraan gedink het! Soveel as wat Frans die regte ding wil doen, mense help ensovoorts, is hy steeds soms so bietjie besluitloos, asof hy weet daar moet iets gebeur, en as hy net lank genoeg stilstaan dan sal dit gebeur. Dis hoekom Bongi so ’n belangrike deel van sy lewe is – hy is die een wat hom altyd aanpor om te beweeg, om iets te doen – selfs al is dit nie altyd heeltemal in die regte rigting nie.
Leandie: Ek dink ek gee meer om oor mense as diere en Jackie gee meer om oor diere as mense. Ek is ook bietjie meer van ’n people pleaser as Jackie. Ek wens ek kon my so min bekommer oor ander se gevoeles en wat hulle dink.
Marciel: Chloë is bietjie meer earthy as ek – sy lewe naby die aarde en sy boer voltyds. Ek lewe in die stad en volg ‘n loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf, so hul loopbaandrome is baie verskillend. Chloë dra nie grimering nie en sy is op haar gemaklikste in haar vellies. Ek gaan nêrens sonder maskara nie en ek hou daarvan om elke dag mooi aan te trek en om moeite te doen met my voorkoms.
Wat was vir jou die uitdagendste en lekkerste aspek van jou rol?
Tim: Hierdie karakter, soos oorspronklik deur die talentvolle Etienne Fourie geskryf, en nou verder gevat deur die net so talentvolle Lize Vosloo, het my hoofsaaklik uitgedaag deur hoe openlik hy sy hart op sy mou dra. Frans kan nie help om alles wat hy voel en dink te wys nie, en dit maak mens ontsaglik oop en weerloos, om te voel wat hy voel, om dit binne jouself te gaan haal. Dit kan uitputtend ook raak, maar is terselfdertyd ook amper die lekkerste deel daarvan om hom te vertolk – hy is so eerlik oor wat hy voel, so onskuldig, maar ook so oop om TE voel – selfs al maak dit seer. Daar is iets ontsaglik mooi daarin. Dan is daar natuurlik die komiese oomblikke. Komedie bly my heel eerste liefde – so enige kans om my so bietjie te verlustig daarin gryp ek met beide hande aan.
Leandie: Mees uitdagend was definitief die tonele met Tim Theron – ons is al vir lank soos familie en baie goeie vriende, so sekere tonele (waaroor ek nie nou te veel kan sê nie) was ’n stretch vir ons verhouding. Lekkerste aspek is om heeltyd ’n ongeёrgde houding te kon hê soos Jackie. Ek love ook haar eerlikheid en sarkasme.
Marciel: Die uitdagendste deel was om nie myself te speel nie, want daar is soveel ooreenkomste tussen my en Chloë. Ek moes regtig gaan ondersoek instel oor hoe ons van mekaar verskil om haar menswees so eerlik as moontlik te kon uitbeeld. Die lekkerste deel van die vertolking was Chloë se natuurlikheid. Geen deel van haar menswees gee voor nie, sy is net wie sy is. Ek was mal daaroor!
Wie is jou gunstelingkarakter in die film en hoekom?
Tim: My gunstelingkarakter sal definitief Bongi moet wees, en dan ook Dr Fourie. Ek en Sisanda Henna is al goeie vriende sedert die eerste Klein Karoo-film, en hy bring net ’n lekker energie na die stel toe. En dan natuurlik Dr Fourie, gespeel deur nog ’n ou vriend, Bennie Fourie. Ons tonele saam was 100% gefokus op komedie, en dit was ontsaglik lekker om saam met Bennie net bietjie te kon lostrek en die komedie van die oomblik totaal en al te ontgin.
Leandie: Sisanda se rol Bongi – ek voel altyd beter na ek in ’n toneel saam hom was. Mal oor hoe hy Bongi vertolk!
Marciel: Meyer! Ek het my doodgelag vir sy gebrek aan subtiliteit. Dit sorg vir groot komiese vermaak.



Die soort liefde wat Frans in die film ervaar, kom net een keer in ‘n leeftyd. Sal Frans probeer om nog ’n vrou te red, of sy hart volg na waar hy verlang word? Wat sal Tim se raad aan Frans wees?
Frans se groot probleem is dat hy nie dink hy verdien liefde nie, tensy hy iets groot doen, iemand “red”. So hy probeer konstant om liefde te verdien. Hopelik kies hy hierdie keer die liefde wat hóm kies voor hy een of ander groot romantiese gebaar kan maak. Wat hom dalk selfs kies wanneer hy op sy swakste is.
Dit sou my raad aan ou Frans wees. Net so min as wat mens liefde kan koop, net so min kan jy dit verdien. Ware liefde kom sonder voorwaardes. Want as mens dit kon verdien, dan sou liefde ook maklik en so bietjie goedkoop gewees het. Maar liefde is onperfek, het gewoonlik al so paar stampe en stote van die lewe gekry, ’n paar krapmerkies waar dit laat val is en weer opgetel moes word, en liefde wat werk.
Jou karakter, Jackie, geniet Frans (Tim Theron) se geselskap, maar wil ook nie word “wat ’n man van haar verwag nie”. Wat sal Leandie se raad aan Jackie wees?
Jy moet altyd jouself wees. Al vat dit dan langer as die “normale” vrou om te trou of om ’n man te vang. As dit regtig is wat jy wil doen – hoekom moet jy? Mens moet net doen wat jy wil. Ek glo hoe meer jy jouself vind en voluit lewe hoe makliker gaan jou verhouding wees die dag wat die regte een kom. Lewe op jou EIE tydlyn – moenie jou verhouding of lewe met enigiemand anders vergelyk nie. Ek praat baie hieroor in my nuwe boek My Hacks Vir Die Lewe wat tans aanlyn beskikbaar is by tobegiftboxes.com.
Marciel, jy is meestal voor die kamera te sien as aanbieder. Hoe verskil hierdie ervaring as aktrise vir jou?
As aanbieder is ek 100% Marciel, ek speel nie ‘n karakter nie. As aktrise kan ek in iemand anders se skoene klim en hulle storie vertel. Soms is dit bevrydend om nie myself hoef te wees nie – ek kry die geleentheid om iemand heeltemal anders as myself te speel. Beide verantwoordelikhede het hulle eie uitdagings, maar ek geniet die variasie van die verskillende rigtings.
Volgens Tim is hul enigste hoop, en die rede waarom hulle die film gemaak het, dat mense selfs net ’n glimlag sal wegneem uit die film. “Ons hoop natuurlik die film raak mense dieper aan, gee hulle dalk self weer so bietjie moed en hoop in hierdie vreemde tye waarin ons onsself tans bevind. Maar as iemand die film kyk, en net vir ’n oomblik van hulle stres en sorge vergeet, net vir ’n oomblik kan asemhaal en glimlag, dan sal ons tevrede wees!”
Klein Karoo 2 is nou beskikbaar op Box Office. Vir meer inligting, besoek gerus hul Facebookblad.
Foto’s is geneem deur David Swart.