Die kombinasie van vars kruie en suurlemoen stel nooit teleur nie. Basiliekruid en tamatie val in dieselfde kategorie. Sit nou ’n bietjie fetakaas by al hierdie geure en almal gaan hul lippe aflek. Om ’n heel hoender as plathoender voor te berei, is nie moeilik nie – volg net die stappe soos in die resep. As die hoender só gaargemaak word, lyk dit indrukwekkend, word mooi eweredig gaar en is baie maklik om in porsies op te sny.
Lewer 4 – 6 porsies
1,5 kg heel hoender
60 ml (¼ k) olyfolie
sap en fyngerasperde skil van 1 suurlemoen
45 ml (3 e) grofgekapte vars basiliekruidblare
15 ml (1 e) vars tiemieblare
15 ml (1 e) grofgekapte vars Italiaanse pietersielie
sout en peper
2 skywe fetakaas, gekrummel (verkieslik sagte feta, soos ’n Deense-styl feta)
8 gemarineerde songedroogde tamaties, gekap
- Voorverhit die oond tot 180 °C.
- Sit die hoender met die borskant na onder op ’n snyplank. Knip met ’n skerp kombuisskêr dwarsdeur die ruggraat van die hoender, van die holte tot bo in die nek.
- Draai die hoender om, vou die twee helftes ‘oop’ en druk met die palm van jou hand op die borsbeen om die hoender plat genoeg te druk. Moenie skrik as dit kraak nie – hoe platter die hoender lê, hoe egaliger word dit gaar.
- Meng die olie, suurlemoensap, -skil en kruie saam. Geur na smaak.
- Meng die helfte van die olie-mengsel met die feta en songedroogde tamaties tot ’n dik ‘pasta’ vorm.
- Plaas die plathoender, met die vel na bo, op ’n groot bakplaat. Maak die vel van die nek se kant versigtig los en smeer helfte van die fetamengsel eweredig onder beide borsgedeeltes se vel. Maak die vel verder los soos jy die mengsel smeer, maar wees versigtig dat die hoendervel nie skeur nie.
- Maak die vel tussen die dy en boudjie aan ‘buitekant’ (weg van die borsgedeelte) los. Smeer nog ’n kwart van die fetamengsel onder die vel van elke dy-boudjie se kant.
- Skink die orige olie-kruiemengsel oor die hele hoender en geur na smaak.
- Rooster vir 40-45 minute of tot goudbruin en gaar. Om te toets of die hoender gaar is, prik die dikste deel van die boudjie of dy met die punt van ’n skerp mes. Die vloeistof wat uitloop moet helder wees en glad nie ’n skynsel van pienk wys nie.
- Sny in porsies (sien wenk) en sit dadelik met suurlemoenwiggies, ’n groot groen slaai of enige van die bygeregte in die artikel voor.
Fotokrediet: LiG-tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira
Wenke
- Die maklikste manier om ’n hoender in porsies te verdeel, is deur dit met ’n skerp kombuisskêr, deur die litte, in porsies te sny.
- Maak die plathoender in ’n kettelbraai gaar. Die ekstra rokerige smaak sal heerlik wees.