Nagereg uit die boonste rakke! Om ’n pavlova te maak skrik die meeste mense af. Hierdie resep is egter maklik en jy hoef nie ’n perfekte pavlova te bak nie. Die Griekse jogurt en crème fraîche maak dit ’n besondere bederf vir ’n spesiale geleentheid.
Lewer 8 porsies
250 ml (1 k) griekse jogurt
250 ml (1 k) crème fraîche
1 vaniejlepeul, oopgesny en saadjies uitgekrap
4 ekstragroot eierwitte, teen kamertemperatuur
250 ml (1 k) strooisuiker
5 ml (1 t) vanieljegeursel
5 ml (1 t) fyngerasperde suurlemoenskil
10 ml (2 t) suurlemoensap
300 g bessies van jou keuse, soos bloubessies, frambose en aarbeie
vars kruisement
- Meng die jogurt en crème fraîche en roer die vanieljesaadjies deur. Voeg die peul by die mengsel en verkoel tot benodig.
- Voorverhit intussen die oond tot 130 °C en voer ’n groot bakplaat met bakpapier uit. Smeer ’n bietjie olie liggies in ’n groot sirkel op die papier.
- Giet die eierwitte, strooisuiker, vanieljegeursel, suurlemoenskil en -sap in ’n groot glasbak. Klits met ’n elektriese klitser vir ongeveer 10 minute of tot stywe punte vorm. Die eiers moet lig en donsig word en die tekstuur van malvalekker hê. Moenie te ver klits nie, dit sal droog word.
- Skep die mengsel op die bakplaat en smeer liggies in ’n 24 cm-sirkel. Dit hoef nie perfek rond te wees nie.
- Bak vir 1 uur of tot net goudbruin en gestol. Skakel die oond af en laat die pavlova heeltemal in die oond afkoel.
- Verwyder die vanieljepeul en smeer die jogurtmengsel egalig oor die pavlova en rangskik die bessies bo-op. Versier met kruisementblare en sit dadelik voor.
Fotograaf: Neville Lockhart
Wenke
- Enige ander vrugte van jou keuse kan gebruik word – selfs vye, granaatpitte en druiwe. Nektariens is ook heerlik saam met bessies.
- Om eierwitte styf te klits: Maak seker dat die mengbak baie skoon en droog is. Enige vetterigheid sal verhoed dat die eiers styf klits. Gebruik ’n glas- of vlekvryestaalmengbak in plaas van ’n plastiek een. Maak ook seker dat die klitser goed skoon is.
- Eiers teen kamertemperatuur klits gouer styf as eiers wat direk uit die yskas kom. Eierwitte wat gevries was, klits maklik tot ’n hoë volume.
- Gebruik die eiergele vir roereier of frittata.
Baie dankie lyk baie lekker.