Oor dié resep kan ek letterlik boekdele skryf. Dis maklik om te maak, baie veelsydig en altyd vir mense ’n verrassing op ’n tafel. Dis ook een van die gewildste resepte wat ek al met mense gedeel het. Al wat jy nodig het, is ’n paar alledaagse bestanddele en as jy dit eers een keer gemaak het, gaan dit waarskynlik ook ’n stapel-item in jou yskas word. Gebruik dit op burgers, met eier, as deel van ’n kaasbord, of die beste idee, op braaibroodjies!
Lewer 500 ml
30 ml (2 e) olyfolie
4 groot uie, gehalveer en in dun skyfies gesny
15 ml (1 e) gedroogde tiemie of 5 ml (1 t) komynsaad
45 ml (3 e) sagte bruinsuiker
45 ml (3 e) balsamiese asyn
sout en peper
45 ml (3 e) vars tiemieblare
- Verhit die olie oor matige hitte in ’n braaipan en soteer die uie stadig met die tiemie of komynsaad tot amper sag.
- Voeg die suiker en asyn by en soteer die uie nog 10-15 minute tot heeltemal sag en gekaramelliseer. Geur na smaak. Roer die vars tiemie by.
- Gebruik dit warm of teen kamertemperatuur. Dit hou lank in ’n glasfles in die yskas.
Fotograaf: Neville Lockhart
Wenke
- Harder kruie soos vars roosmaryn of gedroogde kruie kan ook gebruik word. Speserye soos karwy- of vinkelsaad is ook geskik. Gebruik ’n ander soort asyn of gegeurde olie vir interessante geurkombinasies.
- Maak ’n dubbele resep en bêre dit in gesteriliseerde glasflesse, met ’n lagie olyfolie bo-op, in die yskas.
Liewe Marinda..
Wat ñ lekkerte om jou weer te sien kook in jou kombuis saam met jou gaste..
Het jou leer ken van Kokkedoor se dae waar jy altyd jou lipstif opgetouch het..
Was mal oor Kokkedoor..jy het miskien nie “gewen” nie,maar tog het jy nog hoër hoogtes bereik..Doen so voort..kook soos altyd uit jou hart vir jou hartsmense soos jy altyd doen..mag PAPPA jou Seën..