Skrywer: Nicolette Kritzinger
Op Die Heuwels Fantasties se agste ateljee-album, “Volume”, sien ons hoe hierdie konstante innoverende groep die invloed wat die 90’s op hulle musiek het, in die huidige digitale stroomera inspan. “Volume” is Vrydag, 22 Oktober 2021, uitgereik en spog met ‘n eklektiese mengsel van akoestiese treffers, pop-punk, synth-ballades en so bietjie electro-folk vir ’n uitsonderlike oudio-umami.
Hunter Kennedy vertel dat hy uit sy nate is oor die uitreiking van die nuwe album: “Dit is ons derde een sedert die pestilensie en ek dink dit het in ons guns getel om geolie te bly. Pierre het ’n great job gedoen met die skryf van ‘EGGO’ en die samewerking met Spoegwolf het dit natuurlik na ’n volgende vlak geneem. Ek hou ook baie van ‘Werk Vir ’n Lewe’ se energie. Ons het dit ontgin daar waar Blink-182 die wortels begrawe het. Ek sou sê die album as geheel is ’n kombinasie tussen die volwassenheid van ‘Herverbeel‘ en die dringendheid van ‘2021‘. ‘Volume II’ is ook al amper klaar en dit maak my nog meer opgewonde. Ons het baie nuwe musiek om te deel!”
Fred den Hartog voeg by: “Met ‘Volume’ het ons die saksofoon, kitaar, klavier, perkussie en stemme op ‘n ander manier benader. Ons het alles stuk-stuk opgeneem om uiteindelik by ’n plek te kom wat vars, uniek en steeds ‘Heuwels’ is, as dit sin maak. Ek hoop almal hoor en voel ons deur hierdie paar liedjies te luister.”
Die eerste enkelsnit vanaf die nuwe album, “EGGO”, is ‘n ballade vir onseker tye. Die subtiele klavier en tjello skep asemhalingsruimte vir Pierre (Die Heuwels Fantasties) en Danie (Spoegwolf) om hul aparte kwesbaarhede op emotiewe wyse te vertoon. Die lied se crescendo is ‘n katarsiese samekoms van twee generasies van alternatiewe Afrikaner.
Luister hier na die enkelsnit “Eggo” wat reeds vanaf 15 Oktober beskikbaar is. Kyk die video hier.
Snitte op die album:
- Hoor Jy My
- Werk Vir ‘n Lewe
- EGGO – met Spoegwolf
- Okay, fine
- Hardloop Weg 2.0
- Days Are Dark
- Goeiemore Suid Afrika
- Bellville
Die album “Volume” is hier beskikbaar: https://Platoon.lnk.to/volume
VOLUME BY DIE FORT.
Die Heuwels Fantasties, Early B, Coenie de Villiers en Refentse.
Sondag 31 Oktober by Fort Schanskop by die Voortrekker Monument.
Die Heuwels Fantasties stel die “Volume”-album met behulp van hul vriende Early B, Coenie de Villiers en Refentse bekend! In samewerking met Jack Daniels en Marras. Pierre Greeff sê: “Kan nie wag om saam met ons tjommies weer iets in Pretoria te doen op ‘n skaal wat ons nie in 500 dae kon nie. Volume by die Fort om ‘Volume’ die wêreld in te stuur!”
Pak ‘n piekniekmandjie en kom kuier saam. Julle is welkom om ‘n sambreel, kampstoel of kombers te bring. Geen eie alcohol nie. Daar is ‘n kroeg en kosstalletjies op die perseel.”
FB: https://www.facebook.com/events/153653650219982
Kaartjies en meer inligting: http://www.bydiefort.co.za