Voormalige Mej. Suid-Afrika en Mej. Wêreld (2014) Rolene Strauss, het geen bekendstelling nodig nie. Die beeld wat sy uitstraal is een van selfvertroue … iemand wat gemaklik is in haar eie vel. Daarom kom dit as ‘n groot verrassing wanneer ‘n mens lees dat sy vanaf haar tienerjare self met selfvertroue gesukkel het en dat sy baie hard daaraan moes werk om haar eie selfvertroue te herontdek. Dit is juis hierdie persoonlike stryd wat daartoe gelei het dat sy besluit het om ‘n selfhelpboek vir vroue te skryf.
“Die boek is ‘n onmisbare gids vir elke vrou wat soms aan haarself twyfel. Rolene se sewe beproefde stappe vir vroue op soek na moed om hul drome vreesloos na te jaag, kan ook jou lewe verander.”
Rolene se nuwe boek, “Herontdek jou selfvertroue – Sewe stappe na ‘n nuwe jy”, was vir haar ‘n passieprojek – en sy dra dit dan ook op aan alle vroue daarbuite. In die boek deel sy haar persoonlike reis en hoe sy uiteindelik weer ware selfvertroue gevind het. Tydens ‘n aanlyn boekkuier op Graffiti Boeke se Facebookblad het Rolene met Katryn Kruger gesels. Hier is ‘n paar hoogtepunte uit die gesprek:
“Selfvertroue is soos ‘n super power – ‘n wapen wat jy kan gebruik om jou volle potensiaal te bereik.”
Rolene vertel dat sy besluit het om die boek te skryf omdat dit iets meer permanent is wat sy met ander kan deel. Sy sê ook dat sy twee verskillende ervaringe tydens die skryf van die boek beleef het. Eerstens was dit ‘n ontdekkingsreis – en het sy na haar eie lewe gekyk – alles wat sy as jong meisie en Mej Suid-Afrika ervaar het. Daarom het die deel ook langer geneem as wat sy aanvanklik gedink het dit sou. Die ander gedeelte van die boek bestaan uit praktiese stappe en wenke wat sy tydens haar navorsing vir haar meestersgraad ontdek het. Sy het haar navorsing en ondervinding verwerk om dit op praktiese wyse aan te bied – “sodat mense dit sou geniet om te lees en ook om daardeur te werk”. Sy noem ook dat die rede hoekom sy soveel van haar eie reis gedeel het, ‘n manier was om ander te laat verstaan hoekom dit so ‘n passie vir haar is. Haar eie ondervinding het haar geleer dat ‘n mens jou altyd meet aan ander, maar dat dit juis dít is wat ‘n mens se selfvertroue steel. “Selfvertroue kan nie gevind word in ‘n titel of kroon of graad of enigiets van buite af nie – dis iets wat jy self moet ontdek. Om aan jou selfvertroue te werk, is om jouself te bemagtig om daardie drome wat in jou hart geplaas is, te verwesenlik.”
In die boek beskryf sy selfvertroue as ‘n leё emmertjie wat opgevul of leeggemaak word deur vier bronne.
Dit is die bronne waarop jy kan fokus om jou selfvertroue op te bou.
- Eerste bron – ervarings van bemagtiging – stel klein doelwitte en bereik daardie doelwitte. Dit kan iets eenvoudig wees, soos om Bybelstudie te doen of kwaliteittyd saam met geliefdes te spandeer.
- Tweede bron – sekondêre ervaring – ervaar iets uit die aksies van iemand anders (rolmodelle/mentors), maar baie belangrik is om ons nie met ander te vergelyk nie, omdat dit die tenoorgestelde uitwerking kan hê. Dit is dus belangrik om na iemand anders se sterk punte te kyk – hul hardwerkendheid, waardes, of hoe hulle moeilike situasies oorkom en hanteer, m.a.w. leer uit ander se “foute”.
- Derde bron – verbale en sosiale oorreding. Dit is om jouself te omring met die “regte” mense. Mense wat jou ondersteun en positief beїnvloed. En dan die heel belangrikste is die woorde wat jy vir en oor jouself sê (affirmations – bevestigings). Laasgenoemde leer jou om meer veerkragtig te wees sodat jy veranderinge in jou lewe beter kan hanteer. Onthou ook: ‘n mens kan beheer waarna jy kyk en luister en dit bly steeds ‘n bewustelike besluit om iets (soos kommentaar op sosiale media) in te neem (jou daardeur te laat raak) of te laat gaan.
- Vierde bron – fisiese en geestelike gesondheid. Beheer dit wat jy kan, bv. wat jy eet, om te oefen, ens. en stel klein doelwitte. Onthou ook om wanneer jy ‘n doelwit suksesvol bereik het, dit te vier en dan daarop te bou.
Rolene noem ook dat daar verskillende tipes selfvertroue is, naamlik algehele en spesifieke selfvertroue en dat die een die ander beїnvloed. As jy dus jou selfvertroue verhoog in spesifieke areas van jou lewe, verhoog dit ook jou algehele selfvertroue.
Volgens Rolene, is die kwaliteit van alles wat jy doen, afhanklik van die kwaliteit van jou denke. Daarom is refleksie ‘n belangrike metode om jouself beter te verstaan. Jy leer daaruit en kom so tot ‘n besluit wat jy daaroor gaan doen. Haar grootste wens vir vroue? “Om selfvertroue te hê en in hulleself te glo om daardie drome en doelwitte wat God in ons harte gesit het, uit te leef … om jou lig te laat skyn.”
Klik hier vir ‘n kort uittreksel uit die boek.
Hou ook volgende week Afrikaans.com se blad dop vir ‘n volledige onderhoud met Rolene Strauss.
Oor Rolene Strauss
Rolene Strauss is ‘n transformasieafrigter, voormalige Mej. Wêreld, gegradueerde mediese dokter, skrywer, internasionale spreker, entrepreneur, eggenoot en ma van twee seuns. Dit is haar passie om vroue regoor die wêreld aan te moedig om NEE te sê vir perfeksie, vergelyking en lae selfvertroue en JA vir selfwaarde, moed, geluk en sukses.
Koop die boek:
Ook in Engels beskikbaar: “Rediscover your self-confidence – Seven steps to a new you”
Die boek is in September 2021 vrygestel en word deur Tafelberg uitgegee. Dit is in sagteband (332 bladsye) en ook as ‘n e-publikasie beskikbaar – aanlyn of by goeie boekwinkels.
ISBN: 9780624091813
Epub ISBN: 9780624091820
Afrikaans.com beveel hierdie boek met groot vrymoedigheid aan. Dit is die ideale geskenk vir die vroue en jong meisies in jou lewe, maar doen jouself ‘n guns en koop die boek sommer vir jouself ook – selfvertroue bou sukses – en ons almal wil tog met selfvertroue die wêreld in die oё kyk.
Bron:
Aanlynkuier op Graffiti Boeke se FB-blad.