Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Die mens is en bly ‘n sosiale wese en maak op sosiale konneksies staat om te oorleef. Tog ervaar miljoene mense wêreldwyd eensaamheid in een of ander vorm. Trouens, volgens navorsing is ongeveer 45 persent van alle mense eensaam. Party mense ervaar dit net soms, terwyl sommige mense daarmee saamleef. Hoe dit ook al sy, eensaamheid is deel van ons elkeen se menswees …
Is eensaamheid en alleenheid dieselfde?
“Vir sommige mense beteken alleenwees onmiddellik ‘eensaam wees’. Vir ander is die alleenwees ‘n heilige oomblik, een van verryking, geestelike asemhaling en sommer net ‘n heerlike, welkome stil word.” – Dr Petrus Moolman, NGK Overkruin
Die kliniese sielkundige Louis Awerbuck skryf in ‘n artikel in die Eikestad Nuus (9 Sept. 2019): “Alleenheid (waar ander mense fisiek afwesig is) kan eensaamheid veroorsaak, maar om alleen te wees, maak ‘n mens nie noodwendig eensaam nie.
“Eensaamheid het nie altyd te doen met die hoeveelheid mense om jou nie – jou emosionele en intellektuele verbintenis met ander en hoe gekonnekteer jy aan die mense in jou omgewing voel, kan ook bepaal of jy eensaam gaan wees of nie.
“Om eensaam te voel, is om ongelukkig, geїsoleerd, verwerp, hopeloos en hartseer te voel en die gevolge op lewenskwaliteit is beduidend.” Awerbuck sê ook dat eensaamheid ‘n mens se gesondheid kan beїnvloed en dat chroniese eensaamheid ‘n mens se lewensverwagting met tot 26% kan verkort. Behalwe depressie en dikwels gepaardgaande misbruik van dwelmmiddels of alkohol, vergroot ‘n mens se risiko vir hoё bloeddruk, hartprobleme, beroerte, demensie en selfs kanker aansienlik.
Dr Moolman verwoord dit soos volg: “Daar is baie mense wat alleen is en daaraan gewoond is. Sommige het verkies om die lewenspad alleen te loop. Ander is deur omstandighede gedwing om alleen te wees. Baie alleenmense – veral dié wat dit so kies – ervaar alleenwees as normaal. Dit is hulle lewe. Ander ervaar alleenwees egter as ‘eensaamheid’. Dit is beslis ook nie net ouerwordende persone wat eensaam kan word nie. Veral die ouderdomsgroep 18-25 jaar is ‘n groep wat baie vatbaar is vir die verskynsel van eensaamheid.”
Volgens dr Moolman is daar baie faktore wat alleenwees in eensaamheid kan verander. Dit verskil tussen ouderdomsgroepe, maar faktore soos persoonlikheid, hoe ons onsself beoordeel, hoe ons dinge hanteer waaroor ons nie beheer het nie, ons sosiale verhoudinge en so meer kan tot eensaamheid lei. Vir baie ouer mense gaan eensaamheid dikwels hand aan hand met “gevoelens van verlies aan selfstandigheid. Ons word toenemend afhanklik van ander. Ons voel dikwels dat mense ons nie ag vir wie ons was en steeds is nie.” Dit veroorsaak dat die ouer persoon se selfbeeld ‘n knou kry, wat dan onttrekking tot gevolg het – en dit dra ook by tot vereensaming.
Dr Elizma van der Smit skryf in haar blog, zenzilelife.com, dat daar twee tipes eensaamheid is:
- Emosionele eensaamheid – dit is ‘n gebrek aan of verlies van geselskap.
- Sosiale eensaamheid – dit is wanneer ons ‘n gebrek aan ‘n wyer sosiale netwerk of groep vriende ervaar.
Eensaamheid is nie ‘n hopelose toestand nie
Daar is wel stappe wat jy kan neem om eensaamheid te besweer en meer betekenisvolle sosiale konneksies te ontwikkel. Dr Van der Smit noem ses stappe om te volg soos voorgestel deur die sielkundige en skrywer Robert L. Leahy.
- Dit is normaal om eensaamheid te ervaar.
Jy is beslis nie al persoon wat eensaam voel nie. Daar is ook talle redes waarom jy eensaamheid ervaar. Dink maar aan gesinne wat uitmekaar dryf, egskeiding, immigrasie, gebrek aan deelname aan sport of organisasies. Daarom is dit nodig om strategieё daar te stel om die gevoel van eensaamheid te hanteer.
- Maak ‘n plan.
Bepaal wanneer jou eensaamheid die ergste is en struktureer jou dag. Weet wat jy vandag wil doen en wat jy wil bereik. Maak dan vooraf planne om daardie tye saam met ander te verkeer of om iets te doen wat jy geniet. Bel iemand, luister na musiek, begin ‘n stokperdjie. Sluit by ‘n klub aan.
- Jy kan goed alleen doen – veral dinge wat die moeite werd is.
Onthou – jy hoef nie saam met iemand te stap, fiets te ry, te gaan uiteet of fliek nie – solank dit natuurlik in ‘n veilige omgewing plaasvind. Dalk voel jy selfbewus om alleen dinge te doen, en voel jy dalk mense gaan jou skeef aankyk, maar dikwels is dit net jou eie persepsies. Buitendien, hoekom gee jy om wat ander dink? Jy is juis onafhanklik en sterk as jy dinge alleen kan aanpak.

- Hoe dink jy oor eensaamheid?
Dink oor jou emosies en erken dit. Net omdat jy alleen is, hoef jy nie noodwendig alleen en hartseer te voel nie. Beskou dit as ‘n kans of te doen wat jy graag wil doen. Geniet die rus en stilte om te lees, na jou musiek te luister, te eet waarvoor jy lus het – sommer net dinge op jou eie tyd te doen en te geniet. Ja, jy hou dalk nie daarvan om alleen te wees nie, maar dit is die manier waarop jy dit sien en hanteer wat op die ou end saakmaak. Sien dit liewer as iets van verbygaande aard – iets wat jy kan beheer en hanteer.
- Bou ‘n gemeenskap van verbondenheid.
“Elke mens wil graag behoort, en hoe meer jy ervaar dat jy verstaan word en dat jou menings en belewenisse gedeel word, hoe minder eensaam sal jy voel.”
– Kliniese sielkundige Louis Awerbuck (Eikestad Nuus – 9 September 2019)
Daardie behoefte aan kontak met ander mense of diere is universeel. Oorweeg dit dus om ‘n troeteldier aan te skaf, doen vrywilligheidswerk – maak planne om mense te sien. Dink buite jouself en neem eerste die inisiatief en skakel met mense wat jou belangstellings deel. Dit verg dalk ‘n bietjie dapperheid van jou kant af om jouself met ander te deel, maar dit is alles die moeite werd. Reik uit na mense na wie jy verlang of met wie jy lanklaas gepraat het. Ondersteun en bemoedig diegene wat dit nodig het.
- Wees goed vir jouself.
Aanvaar jouself, m.a.w. “kry beheer oor wie jy is en hoe jy oor jouself dink”. Beoefen deernis met jouself. Sê vir jouself dat jy saakmaak en verdien om deur ander geag te word.
Sien om na jou gesondheid, bederf jouself met iets lekker om te eet of ‘n klein geskenkie, geniet jou eie tyd en wees jou eie beste vriend. “In ons besige lewens, is stil word baie nodig en kan selfopgelegde eensaamheid selfs genesend en positief wees.”
Dis oukei om nie oukei te wees nie
Ons kan almal teen eensaamheid veg deur betrokke te raak, deernis teenoor ander te toon en goedhartigheid te beoefen.
Vind betekenis in jou lewe en leef bewustelik. Glo jy is goed genoeg. Moenie in ‘n negatiewe spiraal vasgevang word nie. Leef met dankbaarheid. Reik uit na ander. En as jy regtig nie die mas opkom nie, raadpleeg ‘n sielkundige of ‘n berader. Dit help meestal om met iemand buite jou binnekring te praat.
Bronne
https://welstand.solidariteit.co.za/kuur-vir-eensaamheid/
https://ngoverkruin.org.za/ons-joernaal-voorbeeld/
https://www.vrouekeur.co.za/leefstyl/eensaam-en-alleen
https://www.netwerk24.com/netwerk24/ZA/Eikestadnuus/Nuus/is-ons-alleen-20190904-2
https://afrikaans.zenzilelife.com/blog/voel-jy-alleen-ses-stappe-om-jou-eensaamheid-te-hanteer