#afrikaansaanlyn is ‘n digitale gespreksreeks wat deur René Arendse gelei word.
In hierdie episode gesels sy met die span agter Vannie Kaap.
“Djy kan ook dala”, sê Vannie Kaap se Bernie Fabing.
In hierdie episode van #afrikaansaanlyn gesels ons met die span van die Kaapse sensasie en handelsmerk, Vannie Kaap. En laat ek nou maar eerlik wees: Dit was nie ‘n maklike taak om die hele span om een tafel te kry nie, maar Afrikaans.com het die voorreg gehad om die eerste onderhoud met die hele span saam te kan doen. Bernie Fabing, die stigter van die handelsmerk, kon egter nie oortuig word om sy gesig vir ons te wys nie. Hy wil graag sy misterie behou en ons laat aanhou wonder…
Kyk ons ekslusiewe onderhoud met Vannie Kaap.
Op die vraag oor hoe alles begin het, verduidelik Bernie dit soos volg: “Dit was die behoefte om onsself as ‘n bruin gemeenskap te verstaan. Om te leer waarvandaan ons kom, wat ons geskiedenis is en om onsself as ‘Camissa Africans’ te vier.” Bernie se keerpunt oor sy taal het gekom toe hy bewus geraak het van dokumente wat in die Kaap ontdek is en waarin Kaaps as skryftaal gebruik is. Bernie is passievol oor sy taal al het sy ouers hom na ‘n Engelse skool gestuur omdat hulle gedink het dat Kaaps hom nêrens sal bring nie. Nou ja … dit het toe nie gebeur nie en vandag kan hierdie handelsmerk gesien word in sentrums soos Canal Walk, Cape Gate en selfs by die Watershed in die Waterfront.
Marc Jacobs, ook bekend as die Skarrel Master, is in sy woorde “die ou wat die ding laat ruk”! Sy advies aan ander besighede is om te fokus op verhoudinge. Hy glo dis goeie verhoudinge wat vertroue bou. As daar iets is wat hy graag wil nalaat, dan is dit die boodskap dat almal van ons dit kan doen en dat ‘n mens moet glo dat jy meer kan wees as wat ander vir jou voorskryf of jou wil laat glo. Marc deel sy insig rondom egtheid, empatie en die menslikheid binne ‘n handelsmerk.
Vannie Kaap – dis ‘n leefstyl!
Vernon Adams is die handelsmerkstrateeg en is passievol oor die sosiaal-kulturele praktyk wat deur hulle handelsmerk gedryf word. “Wat Vannie Kaap so uniek maak, is nie net die lekker Kaapse uitdrukkings op T-hemde of bekers nie … maar dat Vannie Kaap stereotipering en taalontwikkeling uitdaag sowel as nuwe verteenwoordiging bewerkstellig,” aldus Vernon.
Vannie Kaap is voorwaar ‘n lewende nalatenskap!
Besoek hul webtuiste, klik hier.