WEN 1 van 2 Exclusive Books-geskenkbewyse ter waarde van R500
– teken in op ons nuusbrief om in aanmerking te kom! Klik hier.
Die tweede kwartaal van die jaar het gesorg vir splinternuwe en opwindende boekvrystellings. Soos altyd, bly sekere ou en geliefde bekendes ook op die lysie. Of dit nou kos, realiteit, selfverbetering, of fiksie is waarna jy soek, beloof hierdie leeslys om iets te hê vir elke smaak en bui.
1. Fortuine |
Fortuine
Ebbe Dommisse
’n Ongekende opkoms van Afrikaner-magnate het die Suid-Afrikaanse ekonomie die afgelope drie dekades gekenmerk. Dit is veral merkwaardig in die lig van die regering se omvattende program van swart ekonomiese bemagtiging. Vandag ding talle van hulle internasionaal mee. Onder leiding van Koos Bekker het Naspers die Johannesburgse aandelebeurs begin domineer en is die mediagroep omvorm tot ’n internasionale beleggingshouergroep wat op e-handel en die internet fokus. Johann Rupert het Richemont in die naasgrootste groep in die mark vir luukse goedere gevestig, terwyl Christo Wiese en Whitey Basson onderskeidelik Pepkor en Shoprite tot Afrika se grootste kleinhandelgroepe in klerasie en voedsel uitgebou het. Fortuine verduidelik hoe hierdie en ander sakeleiers, waaronder Jannie Mouton, Michiel le Roux, GT Ferreira, Laurie Dippenaar, Roelof Botha, Hendrik du Toit en ’n aantal megaboere, hul sakeryke tot stand gebring het. Dit beskryf hul lewens- en sakefilosofieë en wat van hulle sulke suksesvolle entrepreneurs maak. In onlangse tye het die ineenstorting van Steinhoff Internasionaal, die meubelhandelaar met Markus Jooste aan die stuur, ’n groot hap uit sommige van hierdie fortuine geneem. Jooste is die fokus van een van die hoofstukke, terwyl dit in ’n ander op die filantropiese projekte van hierdie superrykes val.
2. Na ‘n Plaas In Afrika |
Na ‘n Plaas In Afrika
Irma Joubert
In 1939 bars die oorlogbom in Europa. Drie miljoen kinders word uit London ontruim na veiliger gebiede. Een van hulle is die sesjarige Charles Smith, op pad na ‘n onbekende tante van sy pa in ‘n klein dorpie in Skotland. By aunty Grace wag ‘n nuwe lewe op hom. Aan die anderkant van Europa ruk die Duitse Sesde Leёr op teen Rusland. Tussen die manskappe is die vurige majoor Oswald von Stein, Hildegard se stiefseun. Voor hulle wag die Russiese winter, Stalingrad en die krygsgevangenekampe van Siberiё. 90 000 word gevange geneem, net sesduisend oorleef. Charles en Oswald beleef teenoorgestelde kante van die oorlog. Beide bevind hulself egter op pad na ‘n plaas in Afrika waar hul paaie sal kruis met die van Seretse Khama en Mentje de Vries.
3. ‘n Baie Lang Brief Aan My Dogter |
‘n Baie Lang Brief Aan My Dogter
Marita van der Vyver
’n Baie lang brief aan my dogter is Marita van der Vyver, een van Afrikaans se mees geliefde skrywers, se ontroerende jeugmemoires. Hierin vertel ’n Afrikaanse ma vir haar Franse dogter van haar grootwordjare in die sestigs en sewentigs, in die bloeityd van apartheid. Maar is dit ook ’n storie oor taal en boeke en die wonderwerk van woorde. En hoe dit gekom het dat ’n skaam boekwurm uit ’n Afrikaanse middelklasfamilie, wat slegs ’n geslag vroeër nog werkersklas was, ’n skrywer geword het. Dis ’n boek wat die meeste mense nie sal kan neersit nie omdat dit ’n speurtog is deur ’n skrywer se beginjare en ’n liefdesbrief is aan ’n dogter en aan ’n taal en aan ’n land. En ’n ma se poging om sin te maak van hierdie onverskillige en wrede wêreld waarin sy haar nou begewe.
4. Hartedief |
Hartedief
Rudie van Rensburg
‘n Reeksmoordenaar jag by stormweer, en Rooi en Kassie moet hom vastrek. Die Hartedief kom met moord weg, en dan is Kassie se volle aandag ook nie eintlik by die saak nie, want hy is smoorverlief op ‘n aanvallige medeseёlversamelaar. Vlerksleep is nie vir sissies nie. Om sake vir hom en Rooi te vererger, word hul baas daarvan verdink dat sy hul ondersoek in die wiele ry, en Kassie moet haar onskuld bewys. Intussen word Kaapse vroue vermoor wanneer daar onweer broei.
5. Donkerdrif |
Donkerdrif
Deon Meyer
‘n Koelbloedige moord by die Kaapse Waterfront wat dalk verband hou met geheimsinnige briewe wat geskorste luitenante Bennie Griessel en Vaughn Cupido ontvang het. Maar eers moet Bennie-hulle op Stellenbosch soek na ‘n verdwene student, en die spoor vat van die eiendomsagent wat die kooptransaksie van Donkerdrif, korporatiewe swendelaar Jasper Boonstra se peperduur wynplaas, behartig het. Stadigaan besef die speurders al hul ondersoeke het ‘n gemene deler: die donkerste drif, gierigheid.
6. Marinda se Koskas |
Marinda se Koskas
Marinda Engelbrecht
“Die resepte in hierdie boek het ek fyn uitgekies. Dit is kos wat ék sien as onthoukos.” Marinda se koskas maak voorsiening vir ontbyt, sop en voorgeregte, brood en beskuit, slaai, seekos, vleis, groente, pasta en bygeregte, nageregte, terte, koeke en ander soetigheid. Lipleklekker kos wat jy in ’n japtrap kan berei sonder fieterjasies of vreemde bestanddele. Die resepte is in eenvoudige taal geskryf vir elke dag se gebruik, vir elke kosliefhebber.
7. Dink Soos ‘n Miljardêr |
Dink Soos ‘n Miljardêr
Daniel Strauss
Wat onderskei die rykes van ‘gewone mense’? Hulle dink anders. In Dink soos ‘n miljardêr verduidelik Daniel Strauss, die Strauss in die beleggingsonderneming Stocks & Strauss, wat dit beteken om soos ‘n miljardêr te dink en deel sy geheime tot sukses. Soos hoe om toegang tot kapitaal te verkry, die regte mense te vind om jou te help om jou doelwitte te bereik en hoe om jou gedagtes van selfopgelegde beperkings te bevry, sodat jy ook soos ‘n miljardêr kan dink – en uiteindelik self een kan word.
8. Die Uil In die Ysbos |
Die Uil In die Ysbos
Susan Coetzer
Gracie-Jane Coetzee se eerste kleinkind word gebore kort voordat die president die eerste inperking aankondig. Gracie is ‘n skrywer en illustreerder van kinderboeke, en nie juis ‘n konvensionele ouma nie. Sy verkies die geselskap van haar getroue basset-hond bo enige ander verhouding in haar lewe. Saans wanneer PTS haar tussen die mure van haar huis rondjaag en die gevoel van onheil soos ‘n uil op die dak kom sit, dokter sy graag die kompulsief-obsessiewe simptome met ‘n glasie wyn of twee.
9. Hou die Kruit Droog |
Hou die Kruit Droog
C. Johan Bakkes
Johan Bakkes is die geliefde skrywer van aweregse reisjoernale soos Norrevøk, Moertoe die vreemde in en Nou’s ons in ons donner in en Erfgeld is swerfgeld. Hierdie boek bevat sy roerende, inspirerende en vreksnaakse Facebook-plasings in inperkingstyd, toe hy gereeld vir sy lesers gevra het om hul kruit droog te hou.
Saam met foto’s uit sy albums en lekker filosofiese, snaakse brokke uit sy vorige boeke, word dit so persoonlik soos ’n kuier om ’n hardekoolvuur. Die kwasterige Bakkes tree in al sy grinterige glorie na vore. Dis ’n dol reis vol humor en deernis.
10. Marilyn |
Marilyn
Chanette Paul
Omring met haar geliefde vywervroue, weet Marilyn sy is nie een van hulle nie. Sy is kaivrou, die waterwese wat mans en kinders die dieptes intrek en verdrink. Daarvan getuig haar hele lewe tot hier toe. Dis iets waarmee sy gedink het sy vrede gemaak het. Met die pandemie wat die wêreld op sy kop keer en die ouderdom wat Marilyn al hoe meer bewus maak van haar sterflikheid, is dit seker nie vreemd om bestek op te neem van wat agter lê nie. Dit moet wees waarom haar gedagtes deesdae aanhoudend terug foeter na die verlede toe. So ver terug as daardie jaar toe sy Paul Avenant ontmoet het, en uiteraard ook die tragiese gevolge van die ontmoeting. Nie dat dit daarna veel beter gegaan het nie. Een onbesonne ding na die ander het sy aangevang tot sy hier op Vywerbaai beland het. Hier waar sy met haar seun kon herenig en, as enorme bonus, die vywervroue leer ken en hegte vriendskappe gesmee het. Sy was sowaar naїef genoeg om te dink die meetsnoere begin nou vir haar in die regte plekke val. Tot die dag voor die eerste grendeltydperk toe sy besef mens se sondes haal jou altyd in. Selfs sondes wat jy nie self gepleeg het nie …
11. Vleis |
Vleis
Annelien Pienaar
Suid-Afrikaners is nou maar eenmaal gaande oor vleis. Dis onontbeerlik op enige feestafel, en vir die meeste van ons is selfs ‘n gewone weeksaandete nie volledig daarsonder nie. Nie net is dit heerlik en vullend nie, dis ook propvol voedingstowwe wat goed is vir ons. Vleis: Die omvattende gids is ‘n moderne ensiklopedie wat ‘n ereplek verdien in die kombuis van almal wat graag vleis eet en gaarmaak. Afgesien van resepte vir smullekker vleisgeregte vir elke okkasie bevat dit hope inligting oor die beste manier om die verskillende snitte en soorte vleis te berei, hoe om vleis te vries of tot perfeksie te verouder, tesame met ‘n hordes wenke om geur en sappigheid te verseker – alles sonder preserveer- en ander kunsmatige bymiddels. Die voedselwetenskaplike en gewilde kosskrywer Annelien Pienaar se passie vir goeie, volhoubare vleis word weerspieël op elke bladsy van hierdie boek. Vleis: Die omvattende gids is die enigste vleisboek wat jy ooit weer sal nodig kry. Dit bevat: Meer as 100 resepte wat die toets van die tyd deurstaan het – daar is beesvleis, lam en skaap, vark, pluimvee, afval en wildsvleis, en enigiets van maklike gesinsetes, tradisionele treffers en spoggerige onthaalkos tot kitsplanne met die oorskiet; beskrywings van al die verskillende vleissnitte, hul gebruike en die beste metodes om dit gaar te maak; nuttige inligting oor die voedingswaarde en veroudering van vleis, vleisterme en omskakelingstabelle; en ekstra resepte vir marinades, souse, soutmengsels, aftreksels en deeg wat vleis komplementeer.
12. Op Soek Na Saartjie |
Op Soek Na Saartjie
Dominique Malherbe
Op 15 Julie 1932 sterf CJ Langenhoven skielik. Dat hy ‘n jong Joodse vrou, die vurige rooikop Sarah Eva Goldblatt, as eksekuteur van sy literêre nalatenskap benoem, kom as ‘n verrassing. Dominique Malherbe was van kleins af gefassineer deur die familiefluisteringe oor die groottante van haar en haar verhouding met Langenhoven. Uiteindelik besluit sy om antwoorde te soek oor Saartjie se lewe, haar werk en die raaisel rondom haar babaseun.’n Ongewone en boeiende literêre liefdesverhaal.
13. Die Stella-Moorde |
Die Stella-Moorde
Susan Cilliers
“Maar, Xander, wat het by die koshuis gebeur? Ons weet jy was by die koshuis. Wat het presies gebeur daar? Vertel vir my. Jy kan maar met my gesels, Xander… Praat met my, ou seun, moenie slaap nie. Wat het gebeur by die koshuis? Ek weet jy wil nie daaroor praat nie, maar jy moet. Wat het gebeur by die koshuis, Xander?” En toe is dit asof die damwal meegee. Die moord op twee pragmeisies in hul skoolkoskuis vroeg op ’n wintersoggend in 2018 het die hegte boeregemeenskap van Stella in Noordwes onherroeplik getraumatiseer. Die ysingwekkende feite van die saak het trouens die hele Suid-Afrika geruk. Xander Bylsma (19), ’n aantreklike boerseun van die omgewing, is aangekla van die wrede wurgmoorde op die sprankelende Sharnelle Hough en Marna Engelbrecht, ’n skrander donkerkop. Watter intriges het tot die moord gelei? En hoe leef die gesinne van drie belowende en geliefde jong mense met die gevolge van ’n grudaad in ’n gemeenskap van vervlegte lewens? Susan Cilliers, skrywer van die topverkoper Huis van Gruwels, skryf indringend oor die vrae wat ná die hofsaak onbeantwoord bly, oor lewens vernietig in hul fleur en oor die moontlikheid van berusting en vergifnis.
14. Soldaat |
Soldaat
Reynardt Hugo
Reynardt Hugo speel dr Tertius Jonker in Binnelanders en was lid van die Afrikaanse popgroep ADAM. Tog, agter al sy sukses was daar ‘n diep gewonde en verlore siel. Reynardt praat eerlik oor die impak wat sy ouers se egskeiding op hom gehad het, en die invloed van drankmisbruik in hulle huis, sy swakheid vir vroue en die gevolge van sy dade. Vandag is Reynardt Hugo ‘n suksesvolle jong man wie se lewe ‘n getuienis is van hoe God ‘n storie van verwoesting in ‘n storie van hoop kan verander.
15. Elisabet se Oorlog |
Elisabet se Oorlog
Helene de Kock
Dis 1938 en Elisabet Uys se onrus oor haar voorgenome huwelik met Johannes Barnard groei saam met die gerugte dat daar dalk ’n tweede Groot Oorlog mag uitbreek. Gepantser met Ouma Liesbet se raad, besluit sy kort voor haar troue om die verlowing te verbreek en vrou-alleen na Europa te reis.
Sal Elisabet in die oorloggeteisterde Londen vryheid en onvoorwaardelike liefde vind? Helene de Kock op haar beste.
16. Kook & Geniet |
Kook & Geniet
S.J.A. de Villiers
Kook & Geniet het in 1951 vir die eerste keer verskyn. Met meer as ‘n halfmiljoen eksemplare in druk is dit ongetwyfeld die klassieke Suid-Afrikaanse kookboek. Generasies is grootgemaak en het self leer kook aan die hand van die boek. Kook & Geniet dek alles wat jy ooit oor kook sal wil weet – van hoe om bestanddele te meet, oonde optimaal te gebruik, groente voor te berei en vleis gaar te maak, tot hoe om kos perfek te vries – naas die meer as 700 ekonomiese, beproefde en geliefde resepte. Dink aan Japie se gunsteling, waterblommetjies of souskluitjies.
17. Ware Spookverhale van Suid-Afrika |
Ware Spookverhale van Suid-Afrika
Daniёl Lötter
Dit spook beslis al sedert die oertyd in Suid-Afrika, maar die skrywer begin sy hervertelling van dosyne ware spookverhale met ’n vreemde voorval in November 1653 op ’n seilskippie in Tafelbaai, die eerste opgetekende geval.
Die magdom ware stories is tematies ingedeel volgens die soort verskynsel, van verjaarspoke, saampraatspoke en tydspronge, tot spookmotors, spookdiere, voorbodes en sieners. Die verteltrant is lig en gemaklik met skeute humor, soos net Daniël Lötter kan.
18. Een Of Ander Held |
Een Of Ander Held
Zirk van den Berg
In November 1905 beskryf ‘n Windhoekse koerant Siegfried Bock as ‘n nuwe soort held. Maar die moordenaar wat hy voor die hof gebring het se advokaat stel Siegfried in ‘n heel ander lig. Boonop is uberluitenant Berghammer en die Namakryger Jager Orlam albei daarop uit om Siegfried te laat boet.
En dan is daar die burokraat Stauffacher met sy skreiende planne. Siegfried sien nie uitkomkans nie. Maar daar móét een wees, veral noudat liefde vir hom wink . . .
19. Braaibroodjies en Burgers |
Braaibroodjies en Burgers
Jan Braai
Wie sou kon raai dat Jan en sy boeke wêreldbekend sou word vir braai? Die braaikoning is terug met ‘n splinternuwe boek en die keer ondergaan die nederige braaibroodjie ‘n gedaanteverwisseling of twee. Vind liplekker hoender-, beesvleis-, vegetariese en veganistiese braaibroodjie- en burgerresepte wat jou gesin sal laat terugkom vir nog! En moenie dink Jan het van die suikertande vergeet nie, die boek bevat alles van soet tot sout, alles oor die vuur – dis mos nou lekker!
20. Dit Proe Soos Huis |
Dit Proe Soos Huis
Herman Lensing
In Dit proe soos huis eer Herman Lensing sy ma met sy uitsonderlike talent. Hy weef haar gunstelingresepte, passie vir kos en hul eie stories ineen. Dit is resepte van onthou dié – ‘n kosverhaal wat dít wat is, verbind met dít wat was. Kos is liefde en in die kombuis klop die hart van die huis.
WEN 1 van 2 Exclusive Books-geskenkbewyse ter waarde van R500.00 – teken in op ons nuusbrief om in aanmerking te kom! Klik hier.