Die Drietalige woordeboek van Kaaps- (DWK-) projek, wat die eerste woordeboek van Kaaps gaan ontwikkel, is pas bekend gemaak. Dié projek word gelei deur die Centre for Multilingualism and Diversities Research (CMDR) aan die Universiteit van die Wes-Kaap en die nieregeringsorganisasie Heal the Hood Project. Die drie tale wat deel uitmaak van die projek is Kaaps, Standaardafrikaans en Engels.
“Hierdie projek gaan ’n bron wees wat ons sal help om Kaapssprekers beter te kan verstaan, maar ook oor hoe ons die toekoms van Afrikaans kan verseker, en al sy gemarginaliseerde sprekers.”
– Quentin Williams, direkteur van CMDR in gesprek met Menán van Heerden, LitNet
Menán van Heerden van LitNet het met Quentin Williams, direkteur van die CMDR gesels. Afrikaans.com deel graag ‘n kort uittreksel van die insiggewende onderhoud.
Sê Quentin: “Die DWK-projek is ’n beskrywende korpusprojek wat sal help om die eerste woordeboek van Kaaps te ontwikkel. Met hierdie projek wil ons graag die volgende doelwitte behaal: Om die historiese wortels van Kaaps verder te belig; om by te dra tot die huidige debatte oor die eenwording van die skryfstelsel van Kaaps; om die gebruik van Kaaps in alle toepaslike modaliteite, platforms, genres, praktyke, optredes, interaksies en taalkundige landskappe te dokumenteer; om die geleefde taalervarings van sprekers van Kaaps te beskryf.”
Negatiewe persepsies van Kaaps
Volgens Quentin is van die negatiewe persepsies van Kaaps dat dit nie ‘n ware taal is nie en ook nie goed genoeg vir gebruik in skole en universiteite nie. Ook dat die sprekers van Kaaps ‘n minderwaardige vorm van Afrikaans praat wat geassosieer word met die register Sabela – soos gepraat deur die Numbers-gangsters. “Die projek help korrigeer die foute van koloniale en apartheids- taalkundige studies wat voorheen volgehou het dat hierdie persepsies natuurlik is en dat ons dit onkrities kan toeskryf aan veral bruin en swart sprekers van Kaaps. Ons moet dit verander, maar spesifiek, die negatiewe houdings in onderwysers wat veral in Afrikaans Kaapssprekers leer om in Standaardafrikaans te skryf, lees en praat.”
Positiewe persepsies van Kaaps
“Dat Kaaps die taal van die hip-hop-kultuur is, ten minste in die Wes-Kaap, saam met ander variante van Afrikaans. Dat dit die taal van sogenoemde bruin mense was, en nog steeds is, maar wat vandag deur vele ander mense in Suid-Afrika gebruik word. Dat dit die identiteit bevestig van baie nuwe-generasie-sprekers van Kaaps. Dat dit taalkundig ryk en uiteenlopend is in sy fonologiese, leksikale, grammatiese en pragmatiese stelsel.”
Die ekonomiese voordele van Kaaps
“Die oorgrote meerderheid van Kaapssprekers, van alle rasse, is werkersklassprekers. Baie van die sprekers neem nie deel aan die ekonomie van Suid-Afrika nie. Dit is ons plig as taalkundiges, akademici, Afrikaans en Nederlands-departemente en die regering om te verseker dat ons kurrikula, taalbeleide en wetgewing ontwikkel wat die gebruik van Kaaps in ons ekonomie verseker. As ons dit doen, sal ons die lewens van hierdie Kaapssprekers vir altyd verander. Daarbenewens, sal ander Afrikaanssprekers voordeel trek as Kaaps grootliks in die ekonomie gebruik word. Dit sal misverstande wat spruit uit interkulturele kommunikasie verminder, en dit sal nog meer die toekoms van Afrikaans verseker.”
Die toekoms van Kaaps as akademiese taal
“Wat moet gebeur om die toekoms van Kaaps te verseker op universiteitsvlak, is die behoud en ontwikkeling van dosente en navorsers (nuwegenerasie-taalkundiges) wat voorgraadse modules en nagraadse navorsingsprojekte kan ontwikkel wat eksklusief fokus op Kaaps. Ons moet beurse eenkant sit en belê in die transformasie van Afrikaans en Nederlands-departemente, en so verseker ons die toekoms van Kaaps as ’n akademiese taal.”
’n Kernbron in die akademie
“Die projek is spesifiek gemik op die beskrywing van Kaaps, en vertaling na Standaardafrikaans en Engels. Dit gaan ’n kernbron word in die akademie en help met die skryftaal van Kaaps-leerlinge. Maar onthou, om op die skryftaal te fokus moet ons die kurrikulum transformeer vir Kaaps. Op die oomblik is daar net fokus op die gebruik van Standaardafrikaans. Ons sal moet die kurrikulum transformeer en Kaaps as ’n taal van onderrig en leer opneem. Die probleem op die oomblik is dat Kaaps as skryftaal ons eintlik lei na die kwessie van standaardisering. En ons is nog ver daarvan. Maar as ons suksesvol is met hierdie projek, sal dit heel moontlik die kunste, godsdienste en politiek vir Kaapssprekers veral transformeer. My hoop is dat dit ’n impak sal hê op ander histories gemarginaliseerde variëteite soos Gariepafrikaans, ens.”
Klik hier om die volledige onderhoud te lees.
Lees ook:
Ekonomiese bemagtiging deur Kaaps. Klik hier.
‘n Onderhoud in Kaaps met die stigter van die uiters suksesvolle handelsmerk, Vannie Kaap. Klik hier.