Talle ken haar as die hoofsanger van die gewilde groep Die Melktert Kommissie wat in die vroeë 2000’s naam begin maak het en verhoë aan die brand gesing het. Vandag druk Lucinda Neethling opnuut haar stempel op die Afrikaanse musiekbedryf af met die vrystelling van haar eerste solo-album getiteld UITGESKRYF.
Lucinda beskryf dit as ’n eerlike album van hartseer en hoop.
“Die afgelope tyd was ‘n tyd waarin ek baie dinge uitgeskryf het,” sê sy. “Ek het gedigte en kortverhale en liedjies geskryf en dan met dieselfde pen ook kuns gemaak wat dít wat binne my aangaan reflekteer. Dit was ‘n tyd van instrospeksie, waarvan die laaste stap moes wees om die moed bymekaar te skraap om uiteindelik ‘n solo-album uit te bring.”
Die meeste van die liedjies op UITGESKRYF is tussen 2019 en 2020 neergepen, behalwe “Engele Kom” wat in 2016 geskryf is. Lucinda het die album saam met Wesley van der Westhuizen vervaardig wat ook die meeste van die instrumente bespeel het. Marie-Louise Pretorius het die tjello gespeel. Die bekende musikant Peach van Pletzen van Planet Awesome het die finale meng van die album behartig.
Lucinda meen die klanke van hierdie album verskil van dié van Die Melktert Kommissie. “Ek was baie jonger met die laaste albumvrystelling van Die Melktert Kommissie. Ek het nou baie meer selfvertroue om eerlike lirieke te deel … om bietjie te speel met verskillende klanke,” sê sy.
Volgens Lucinda skryf sy veral in emosioneel moeilike en uitdagende tye.
“Musiek gee woorde aan dít wat in jou binneste borrel, sonder om dit met enigiemand te bespreek. Die ironie is dat mens dit dan later weer deel met almal. Ek hou van die idee daarvan.”
Een van die hoogtepunte van die album is die enkelsnit wat sy saam met die bekende akteur en sanger John-Henry Opperman opgeneem het. John-Henry is die hoofsanger van die groep Klopjag wat ook gereeld saam met die Melktert Kommissie getoer en gekuier het. “Ek wou nog altyd iets saam met hom opneem en het besluit nóú is ‘n uitstekende tyd daarvoor. Ek het ‘Ons is Ons’ ‘n ruk terug geskryf en toe vir hom gestuur en gevra dat hy daarop sing, en ek dink dit was toe perfek vir sy stem.”

Volgens Lucinda handel “Ons is Ons” daaroor om iemand te vind wat jou aanvaar vir wie jy is in die heel donkerste tye van jou lewe. “[Iemand] wat al jou geheime ken en geen oordeel fel nie. Vir wie jy nie skaam is om al die kante van jouself te wys nie, en [iemand wat] jou ook so diep wil leer ken. Iemand wat ‘n veilige hawe bied in stormagtige tye. Dit gaan oor daardie soort liefde (of vriendskap) wat mens nie kan verduidelik nie behalwe om te sê ‘ons is ons’.”
Wat is haar gunstelingsnit op die album?
Lucinda meen dit verander kort-kort. “My uiteindelike gunsteling sal seker altyd ‘Engele Kom’ wees. Dit is ‘n soort gebed wat ek in ‘n moeilike tyd geskryf het en oor en oor gesing het. Dit voel vir my asof dit troostend bly met enige uitdagende tyd waardeur mens gaan,” sê sy. “Engele Kom” is reeds in 2016 geskryf terwyl die ander musiek op die album eers in 2019 en 2020 neergepen is.
In 2019 het sy saam met Bouwer Bosch ’n EP vrygestel, getiteld “Waar Die See Die Kus Omhels”. Dit is dan ook in Bouwer se ateljee waar haar splinternuwe solo-album opgeneem is. In 2020 het haar eerste solo-enkelsnit getiteld “Weerloos” die lig gesien en is dit ook op die nuwe solo-album vasgevang.
Lucinda meen sy kan nie wag om te begin optree en hierdie nuwe album in persoon te deel nie. “Ek wil die musiek en stories deel soveel ek kan.”
Kyk hier na die musiekvideo van “Ons is ons”:
Besoek gerus Lucinda se webtuiste en Instagramblad vir meer inligting oor die album
Wie is die Melktert Kommissie?
Die Melktert Kommissie is ’n Afrikaanse musiekgroep van Jeffreysbaai wat reeds vanaf 2002, na hul destydse sege by die Jip Rockspaaider-kompetisie, gehore op hul voete het. Hul debuutalbum, Volroom, is in Junie 2003 uitgereik. ’n Tweede album, Wonderwoorde, is in 2006 vrygestel en kort op die album se hakke, in Augustus 2007, volg hul derde studio-album, Vergewe en vergeet. Na ’n lang onderbreking het die vier lede van die groep weer in 2017 begin optree en is hulle terug in die studio om nuwe musiek op te neem. Hul nuwe enkelsnit, Weier, is in Mei 2019 vrygestel.
Die groeplede is:
Lucinda Neethling — hoofsanger en akoestiese kitaar
Jean-Marie Korff — elektriese kitaar en agtergrondsang
Tim van der Westhuizen — baskitaar
Jan-Adriaan Korff — tromme en agtergrondsang
Onthou jy nog hierdie liedjies van Die Melktert Kommissie?