Ouers bevind hulself dikwels in situasies waar hulle moeilike onderwerpe, soos die dood van ‘n familielid, angstigheid by hulle kind, boeliegedrag, alleenheid en so meer, met hulle kinders moet bespreek en dan onseker is oor hoe om dit te benader. Gaan soek ‘n mens na leiding, is daar wel boeke oor die onderwerpe, maar nie altyd noodwendig ouderdomsgepas nie, want dit bly belangrik om die gesprekke lig te hou en in verstaanbare taal wat die kind kan verwerk, te gesels.
Siegfried Louw, ‘n predikant, musikant, spelterapeut en skrywer van die reeks, het die leemte raakgesien en vier boekies gepubliseer met die doel om kinders en volwassenes te help om oor hierdie moeilike onderwerpe te praat. Die boekies met hulle kleurvolle karakters wat almal in Ligland woon, is in eenvoudige taal geskryf, maar met baie diepte. In Ligland is almal welkom en word daar met lig, lag en liefde geleef.
Die boekies is nuttig vir ouers en grootouers, sielkundiges, kindersielkundiges, spelterapeute, gesinsterapeute, maatskaplike werkers, opvoeders en nasorgsentrums.
Hoe kan die boekies help?
- Dit gee aan ons nuwe maniere om oor die ervarings in ons lewe te dink.
- Dit ontsluit gesprekke tussen mense van verskillende ouderdomme wat dalk nie mooi weet hoe om met mekaar oor ’n moeilike ervaring te praat nie.
- Dit gee aan kinders die kans om hulle eie ervarings te verken.
- Dit bevestig aan kinders dat hulle ervarings geldig is.
- Dit bemagtig ouers (en ander volwassenes) om met kinders oor moeilike ervarings én opwindende moontlikhede te gesels.
Kortliks oor die vier boekies in die reeks:
Die klip in Lisa se borskas |
Soos Lisa, ken baie van ons daardie hartseer wat so intens is dat dit soos ’n klip in jou borskas voel. Die meeste van ons weet egter nie wat om met die klip te maak nie. Kinders weet nog minder hoe om trauma en verlies te hanteer en te verwerk. Dit is ’n storie wat sê die liefde is altyd sterker as die dood. Deur Lisa se storie ontdek kinders dat hulle uniek is, dat daar dinge en mense is wat hulle help om deur die moeilike tye van die lewe te kom, en dat die liefde nooit weggaan nie. Agter in die boek is tien bevestigings vir wanneer jy (of ’n kind) iemand verloor het.
Lisa se storie sal jou hiermee help:
- Verwerk die dood van ’n geliefde.
- Omarm jou emosies vir wat dit is.
- Leer dat jou manier van verlies hanteer uniek is.
- Weet dat jy mág voel wat jy voel.
- Ontdek hoe gelowiges saam verlies verwerk.
- Vind hoop vir die toekoms, al voel vandag dalk swaar.
Ben en die drakie |
Ben het ’n geheim. ’n Drakie kom kuier soms by hom, sommer so onverwags. En wanneer Drakie by hom kom kuier, haal Ben vinnig asem en hy sweet. Drakie steel selfs Ben se gedagtes. Op ’n dag praat Ben met oom Petrus oor Drakie, en oom Petrus leer vir Ben hoe om vir Drakie te tem. Ben en die drakie is spesiaal geskryf om kinders te help om meer te ontdek oor angstigheid en hoe dit werk, en wat hulle kan doen om hulle drakies te hanteer en te tem. Agter in die boek is vyf wenke oor hoe om jou drakie mak te maak.
So herken jy angstigheid en wat om daaraan te doen:
- Jou lyf reageer op angstigheid. Dit voel asof jy beheer verloor. Maar jy hoef nie so te voel nie.
- Jy wil graag van die angstigheid ontslae raak. Maar angstigheid is baie nodig om jouself te kan beskerm. Moet dit daarom nie wegwens nie.
- Wanneer dit voel of die angstigheid te veel of onnodig sterk in jou lewe is, kan jy jouself leer hoe om minder angstig te voel.
- Leer saam met Ben hoe om jouself te anker sodat jou drakie ’n plek sal hê om tot rus te kom.
Kolle en die gif |
Gromla en Grim is twee gruwelike boelies wat hulle gif oral met hulle boeliegedrag versprei. Hulle maak die lewe vir die kinders in die skool regtig onaangenaam, ook vir Lisa en Ben. Maar Gromla en Grim se gif doen niks aan Kolle, Lisa en Ben se hondjie, nie. Kolle en die gif help kinders om boeliegedrag te herken en leer hulle wat om met ’n boelie se gif te doen. In die storie is daar ook voorbeelde van boeliegedrag waarop jong lesers met hulle ie ervarings sal kan uitbrei. Agter in die boek is daar wenke oor wat om met ‘n boelie se gif te maak.
Só help Kolle en die gif kinders:
- Herken boeliegedrag en leer wat om daaraan te doen.
- Verstaan hoekom boelies so lelik is met ander mense.
- Ontdek hoe jy iets positief aan boeliegedrag kan doen.
Sofia en die grot |
Sofia die Uil is oud en wys. Gawie het ’n wegkruipplek teen die moeilike dinge van die lewe gekry en Sofia sien hoe Gawie se wegkruipplek ’n grot word wat hom gevange hou.
Sofia help vir Gawie om te ontdek hoe hy uit die alleenheid van sy grot kan ontsnap: Jy kyk in die oë van die mense vir wie jy lief is sodat hulle jou kan help om nie alleen te leef nie.
Sofia en die grot is ’n storie wat spesiaal geskryf is om kinders (oud en jonk) te herinner:
- Jy is nie gemaak om alleen in jou grot te leef nie.
- Kyk in die oë van die mense vir wie jy lief is om uit die alleenheid van jou grot te ontsnap.
- Vra mense om jou te help met dié dinge in die lewe wat nie lekker is nie. Dit sal keer dat jy in jou grot gaan wegkruip.
- Kyk na alles wat jy in die lewe doen. Vra dan vir jouself: Help dit my? Of maak dit my lewe ongesond?
- God het ons vir mekaar gegee om mekaar te help en saam te leef. Jy kan hierdie waarheid gaan lees in 1 Johannes 4:12 in die Bybel
Bestel die boekies hier
Die boekies word deur Bybel-Media uitgegee en is reeds in Afrikaans, Engels, isiXhosa en Sesotho beskikbaar. Klik hier om jou boekies te bestel.