Meningstukke / Lindie van Gass
Die B-vloekwoord, wat soveel keer geassosieer word met negatiewe goed soos minder pret, minder bederf en heeltemal te min wegneem-cappuccino’s by Seattle Coffee Company, is eintlik die oplossing. Ek weet jy wil dit nie hoor nie, maar BEGROOT het meer voordele as nadele; mens moet net soms jou perspektief verander. Begroot hoef nie moeilik óf vervelig te wees nie! Vryheid, veral finansieel, proe beslis na nóg. So, haal asem en besef dat begroot en beplan bobaas is.
Afhangend van waar jy lees of luister, sal jy moontlik honderd verskillende wenresepte kry om jou eerste begroting op te stel, maar ek het die leeswerk namens jou gaan doen. Die feit dat jy tot hier gelees het, beteken jy het reeds die eerste stap geneem en begin.
Hier is ’n riglyn vir die pad vorentoe:
- Stel vas waar op dees aarde verdwyn jou geld heen! Gaan sit en doen die huiswerk – jy sal die vrugte pluk (of die rente verdien).
- Stel vas wat is jou uitgawes en watter tipe uitgawes is dit. Het jy dit werklik nodig of vertel jy net vir jouself jy het dit nodig?
- Ontwerp ’n begroting wat jou en jou lewe pas.
- Wees realisties en geduldig. Net soos onmoontlike diëte gaan jy nie hierby kan hou tensy dit realisties haalbaar is nie. Rome is nie in ’n dag gebou nie, en ek belowe jou jou eerste miljoen ook nie.
- Toepas, aanpas en toepas. Kuns is nooit klaar nie, en hierdie is kuns.
Daar is verskeie metodes wat mens kan gebruik in die ontwerp van jou begroting. In dié gratis gids is ’n basiese riglyn en raak ek aan sekere van hierdie punte. Jy kan ook ‘n Excel-sjabloon hier kry. Daar is natuurlik talle apps wat jy ook kan gebruik wat ek in ’n latere artikel sal bespreek.
Onthou, ons almal se lewens en prioriteite verskil, so gebruik hierdie net as ’n beginpunt en maak dit jou eie.
Ja, jy is reg, gaan sit solank die ketel aan. Hierdie is een van daardie tipe aktiwiteite.
Oor en uit.
Lindie van Gass is passievol daaroor om mense finansieel toe te rus en te bemagtig. Sy spog met ‘n BCom Honneurs in Beleggingsbestuur, ’n MCom in Finansiële Wetenskappe en ’n nagraadse diploma in Finansiële Beplanning (CFP). Sy is die stigter van Bank Beter met Lindie. Besoek gerus die webtuiste vir meer finansiële hulpmiddels en advies!