Skrywer: Nicolette van Schalkwyk
Of dit nou tydens ’n seevakansie, op ’n reënerige, luilekkerdag by die huis, of selfs tydens inperking is, daar is niks wat ’n familie bymekaarbring soos ’n aand rondom ’n bordspeletjie nie.
Dit was een van die groot redes waarom Sanet du Toit die nuwe Afrikaanse bordspeletjie Tel jou woorde ontwikkel het. Hierdie Afrikaanse speletjie is sedert Novermber 2020 op winkelrakke beskikbaar en is die eerste Afrikaanse weergawe van die bekende Krabbel (Scrabble)-speletjie wat in 1995 vir die laaste keer uitgegee is.
Sanet se liefde vir dié speletjie kom van haar skoonouers wat hul ure lank kon vermaak met die destydse Krabbel. “Een van die eerste prentjies wat opkom as ek dink aan kuiers by my skoonouers op die plaas in die Kalahari, is skoonma en skoonpa wat op die leikliptafel voor die huis onder ’n groot kameeldoringboom sit en Afrikaanse Scrabble (Krabbel) speel. Alhoewel ek die spel geken het, het ek eintlik eers by hulle regtig agtergekom hoe lekker dit is. Dit was altyd vir my so lekker om te sien hoeveel ure hulle as gesin so saam kon spandeer, en al die gesonde kompetisie wat dit tot gevolg gehad het. Ons lag nou nog vir al die woorde wat destyds uitgekom het… Daai tradisie sorg steeds vir ‘nuutskeppings’ as die spanning hoog begin loop…”
Vandag is dit steeds een van die eerste speletjies wat ingepak word as sy en haar familie saam met vakansie gaan. Dis eers toe Sanet vir haar eie gesin ’n stel wou koop dat sy agtergekom het dat die laaste Afrikaanse weergawe in 1995 vervaardig is.
“Met die gebrek aan ’n Afrikaanse produk, het ons noodgedwonge die Engelse speletjie aangeskaf. Toe ons kinders groot genoeg raak om te begin saamspeel, was die frustrasie met die taal en Engelse letterverdeling egter net te groot. Ek het toe besluit om my eie letterteëltjies te maak volgens die Afrikaanse letterwaarde en -verdeling, waarmee ons dan op die Engelse bord kon speel. Ons eerste stelletjie was maar baie primitief en handgemaak, sommer van swembadteëltjies met ‘plakkers’…”
Sy het egter besluit om in 2017 ’n beter kwaliteit produk te ontwikkel. Aanvanklik het sy net die teëltjies verkoop wat mense op hul bestaande borde kan gebruik, maar namate die aanvraag vir ’n volledige stel al hoe groter geword het, het Sanet besluit om ’n nuwe Afrikaanse woordbouspeletjie te ontwikkel wat aan hierdie behoefte kon voldoen.
“Midde die inperking van 2020 het ons aan die werk gespring, en Tel Jou Woorde (grendeluitgawe) is gebore. Met die Krabbel-agtergrond kon ons kreatief te werk gaan en ’n paar vars strategieë toepas om woordbou ’n totaal nuwe dimensie te gee.”
Sanet meen een van die grootste voordele van die speletjie, is dat dit aangepas kan word sodat oud en jonk dit saam kan geniet. “Tel jou woorde het ’n hele klomp voorgestelde opsionele reëls wat gebruik kan word om die speelveld meer kompeterend te maak vir nuwe/jong spelers wat die meer ervare spelers aanvat. So die doel is beslis om dit pret te maak vir almal om op ’n gelyke voet te kompeteer. Elke spel is totaal uniek, so die variasie maak elke spel ’n nuwe uitdaging.” Tel jou woorde kan tot ses spelers akkommodeer wat dit gepas maak vir groter gesinne.
Vir Sanet hou Tel jou woorde ’n baie groter waarde in as bloot gesinsvermaak. “Ek dink ons almal het ongelooflik behoefte daaraan om dieper verhoudings met ons hartsmense te bou… In ’n eeu van tegnologie kan elke gesinslid so maklik in sy eie wêreld wegraak en net meer en meer van mekaar af wegdryf. Bordspeletjies is ’n wonderlike manier om ons weer nader aan mekaar te bring.
Met Sanet se liefde vir woorde, is dit geen verrassing dat haar gunstelingwoord ’n nuutskepping is nie. “As ek moet kies, sou ek sê ‘kampoomblik’ is my gunstelingwoord. Dit is dalk nog nie ’n erkende Afrikaanse woord nie, maar in my vriendekring beskryf ons dit as ’n kampmilieu; die oomblik nadat die hele geselskap klaar geskarrel het om die kinders te bad, kos te gee en in die bed te kry – en ons volwassenes om die kampvuur kan gaan sit met ’n ietsie koud in die hand en sorgeloos begin ontspan en kuier…
Waar kan jy die speletjie koop?
Die speletjie word versprei deur Spoetnik, wat dit verskaf aan kleinhandelaars soos PNA, Toy Kingdom en Takealot. Jy kan dit ook bestel op hulle webwerf www.spoetnik.co.za.
Tel jou woorde kan ook direk op die Tel jou woorde-Facebookblad bestel word of jy kan ’n e-pos stuur na info@teljouwoorde.co.za om jou bestelling te plaas.
Toets jou taalvernuf!
As ’n lusmakertjie vir die Tel jou woorde-speletjie het ons ’n paar aktiwiteite opgestel om jou taalvernuf behoorlik te toets.
Laai die volgende aktiwiteite gratis hier af en kyk hoe ver jy met hierdie taaltoffies kan vorder.
AKTIWITEIT 1 | AKTIWITEIT 2 | AKTIWITEIT 3 | AKTIWITEIT 4 |