Meer as ’n jaar later en ons Suid-Afrikaners wat so lief is vir fees, kan steeds nie by die kunstefeeste ronddrentel, pannekoek, vetkoek en boerewors rolls eet en verhoogoptredes bywoon nie. Gelukkig help die tegnologie darem dat daar vir diegene wat nou regtig nie meer sonder daardie kunsinspuiting kan oorleef nie, aanlyn opsies is om hulle gunstelingoptredes te kyk. Jy kan dalk nou nie vir Hannes van Wyk of Sandra Prinsloo in lewende lywe raakloop nie, maar deur kaartjies te koop en die produksies in die gerief van jou eie sitkamer of bed te kyk, ondersteun jy sommer terselfdertyd ons kunstenaars wat die afgelope jaar en langer so swaar trek. Afrikaans.com beveel graag die volgende drie verfilmde teaterstukke aan, maar let net op die datums wanneer die produksies aanlyn gaan wees sodat jy nie een misloop nie.
– Sê Groete vir Ma –
‘n Drama waar die lag en die traan baie naby aan mekaar lê. Geskik vir die hele gesin (met ouerbegeleiding).
Tydsduur: 60 minute
Met Hannes van Wyk
Teks: Desiré Gardner
Regie: Sandra Prinsloo
Verhoogbestuurder: Diaan Hanekom
Vervaardiger: Artist Warehouse CC
Aanlyn produksie: Geoff Butler
Kortliks:
Die band tussen ’n ma en haar kind, hulle lewensreis saam, die pyn en die onvermydelikheid van oudword en hoe ons soms ons grootste foute kan verdedig, omdat dit uit liefde gedoen is. Dis ’n tipe knop-in-die-keel-, tong-in-die-kies-kykie na die dinge waarmee die meeste mense hulle kan vereenselwig, en uiteindelik die een ding wat ons almal bind: Die bleddie getik-tok van die horlosie wat niemand die aardigheid van oudword (en dan ook siekte) spaar nie. Dit is ’n storie vir elke lid van die gesin en beloof om te sorg vir humor, maar ook lag met ’n traan. Elkeen wat ’n ma het, gehad het of sélf ’n ma is, moet dit sien.
Wanneer: 15 Julie tot 15 Augustus 2021
Koop jou kaartjies hier.
– Die naaimasjien –
n Toneelstuk vir die hele gesin (met ouerbegeleiding).
Tydsduur: 60 minute
Indien nodig, is daar ‘n opsie van Engelse onderskrifte beskikbaar (The Sewing Machine)
Met Sandra Prinsloo
Teks: Rachelle Greeff (2008 Nagtegaal-tekspryswenner)
Regie en ontwerp: Hennie van Greunen
Verhoogbestuurder: Jeanne Steenkamp
Oorspronklik vervaardig deur Bev Maritz vir Joho! Produksies
Opname deur Brainwave Productions
Kortliks:
Na honderde optredes landwyd, oor bykans drie jaar, en ’n onvergeetlike speelvak by die Edinburgh-fees in Skotland, kry hierdie legendariese eenvrouvertoning met Sandra Prinsloo as die 80-jarige Magdaleen weer lewe. Magdaleen berei haarself voor om haar geliefde naaimasjien wat 55 jaar lank deel van haar lewe was, te verkoop, terwyl sy terugdink aan haar lewe. Die meeste van ons kan ons vereenselwig met die karakters wat sy beskryf – diegene wat deel was van haar lewe – haar man, haar kinders en kleinkinders.
Wanneer: Tot 25 Julie 2021
Koop jou kaartjies hier.
– Samsa-masjien –
Ouderdomsbeperking – ’n Teaterstuk (drama) vir volwassenes (geen o.18, SNT)
Tydsduur: 100 minute
Met Antoinette Kellermann, Gerben Kamper, Ilana Cilliers en Ludwig Binge
Teks: Willem Anker, ATKV-Woordveertjie vir beste dramateks (2012)
Musiek: Pierre-Henri Wicomb
Regie, ontwerp en vervaardiger: Jaco Bouwer
Beligtingsontwerp: Wolf Britz
Verhoogbestuurder: Rocco Pool
Kortliks:
Gregor Samsa (Kamper) en sy vrou (Kellermann) woon op hul oudag by hul dogter (Ilana Cilliers) en haar man (Ludwig Binge). Gregor ervaar ’n stelselmatige insek-wording, wat deur sielkundiges, psigiaters en dokters toegeskryf word aan die ouditiewe en taktiele hallusinasies van dementia-lyers. Oral waar hy kyk, sien hy insekte en voel hulle op hom loop. Sy dogter, ’n kopieskrywer, kleur dié verhaal verder in met vertellings aan haar terapeut.
Samsa-masjien tree in gesprek met Franz Kafka se Die Verwandlung. Die verhaal speel op drie plekke op ’n dubbelverdieping stel af, in ruimtes wat doelbewus gekies is.
Wanneer: Tot 8 Augustus 2021
Koop jou kaartjies hier.