Vrees en angstigheid is altyd met ons, trouens dit is iets wat geneties oorgedra kan word, maar veral in dié tyd waar ons al so lank saam met die gevolge van die covid-19-pandemie moet saamleef, blyk dit net asof soveel meer van ons en veral ons jonger kinders, hiermee stoei. Kom ons kyk na so paar redes hiervoor en hoe ons dit op sinvolle wyse kan hanteer.
Vrees is natuurlik
Vrees by kinders is nie noodwendig iets om jou oor te verknies nie. Baie daarvan is natuurlike vrese (soos vir die donker, of vir motte) wat op ’n sekere ouderdom manifesteer en dan verdwyn. Die ryke verbeelding van jou 3- of 4-jarige speel byvoorbeeld ‘n groot rol en dikwels lyk ’n skaduwee darem al te veel na ’n monster, of daardie tak wat teen die ruit krap, is die lang naels van die monster wat wil inkom. Die natuurlike respons hierop is om bang te wees.
So ook het die pandemie ander vrese laat posvat en dikwels kan die kind dit nie verwoord nie en is dit makliker om te sê hy is bang vir die donker, maar inderwaarheid is hy dalk bang mamma of pappa gaan ook dood, of hulle gaan skei, of die virus maak hom siek. Die inperking het ook tot gevolg gehad dat klein babas en kleuters nie gereeld ander mense gesien het nie en daaraan gewoond geraak het dat hul ouers tuis is. Wanneer die situasie dus verander, sien ons dat die kind aan skeidingsangs kan ly. By ouer kinders het dit ook ’n impak op hul sosiale vrese – wat deel is van hulle normale ontwikkeling – tog kan ouers help om veral hulle ouer kinders se selfbeeld te help versterk en gereeld met hulle te kommunikeer.
Ouerskap en opvoedingstyl is die wagwoord
Ouerskap is baie belangrik en daarom moet jy as ouer seker maak jy hanteer die situasie goed en gesond sodat jou kind tussen werklike vrese en natuurlike vrese kan onderskei en die nodige vaardigheid kan aanleer om dit te hanteer. Jy moet dus ook weet wat is ouderdomsgepas en wanneer is dit tyd om iets daadwerkliks te doen. Waak ook daarteen om oorbeskermd op te tree. Nou meer as ooit is die manier waarop jy jou kind grootmaak belangrik.
Hoe hanteer jy jou kind se vrese op daardie oomblik?
’n Geborge kind wat veilig voel, is ’n gelukkige kind. Maar dis ook belangrik om na die praktiese goedjies om te sien.
Eerstens:
- Gee jou kind se emosie/vrees geldigheid. Moenie sy vrese afmaak as twak of nie belangrik nie. Verseker jou kind dat jy hoor wat hy sê, vra uit en kry dan saam met die kind ‘n oplossing daarvoor. Dit kan iets eenvoudig wees, soos om ’n nagliggie aan te skaf, of om poeier te strooi om die monster weg te jaag.
- Let op waarna jou kind kyk, wat hulle hoor en hoe jy goed oordra. Selfs ‘n onskuldige kinderfliek kan sekere kinders bang maak.
- Probeer ook vasstel wat agter die vrees lê en gee dan erkenning daaraan. Dalk is die kind bloot alleen, maar hou in gedagte dat die een vrees na ‘n ander (dalk groter) vrees kan oorgaan.
- Let op jou kind se gedragspatrone, maar waak teen oorreaksie en etikettering. As jou kind egter skielik sy naels tot in die lewe afkou of die bed natmaak, is daar fout en het die vrees waarskynlik oorgeneem en moet daar met ’n plan opgetree word.
Wat kan jy nog doen om jou kind se angstigheid te hanteer?
- Genoeg slaap is ’n moet. Gebrek aan genoeg slaap kan beslis die ontwikkeling van angs aanhelp.
- Skep roetine. Dit laat kinders veilig voel en sluit aan by die skep van grense. Kinders moet duidelik weet wat van hulle verwag word en wat die gevolge gaan wees indien dit nie gebeur nie.
- Moenie heeltyd vra “wat is fout” nie. Wees eerder meer spesifiek: “Ek kan sien jy is bang. Kan ek help met iets?” is beter opsies. Baie belangrik is om nie voorskriftelik te raak nie – want veral tieners is allergies daarvoor.
- Genoeg vrye tyd kan nie genoeg onderstreep word nie. Waar jou kind toegelaat word om net homself te wees – en te ontspan.
- Tree toe tot jou kind se leefwêreld. Bly in voeling met hulle angsvlakke sodat jy vroegtydig kan ingryp: Gaan sit by hulle in hulle kamer en gesels, waar hulle speel, vra watter speletjie hulle op die i-Pad of rekenaar speel. Speel saam, weet wat op hulle fone aangaan en bo alles wys aan jou kinders dat jy hulle geniet, trots is op hulle, hulle respekteer en aanvaar nes hulle is.
Wat is die impak van jou eie vrese of angstigheid op jou kind?
Angstige kinders het dikwels angstige ouers. Daarom is dit belangrik om jou eie angsvlakke te beheer.
Dit is belangrik om eers na jouself te kyk. Wat is jou vrees, hoe reageer jy daarop en beperk dit dalk jou algemene optrede en gedrag? Die rede hiervoor is dat ouers se vrese of gevoelens kan oorspoel na die kind en dit kan dan lei na oormatige angstigheid. Dus: Beheer jou eie angsvlakke! Anders kan jy maklik sit met ’n kind wat ’n vloermoer gooi of “stout” is, want dis al manier waarop die jonger kind aan sy emosies uiting kan gee.
Die afgelople 18 maande waartydens ons inperking en dies meer moes hanteer, het veral ons vlakke van angstigheid verhoog. Daarom is dit so belangrik dat jy as ouer jou eie angsvlakke bestuur. Een manier om dit te doen, is om te sorg vir jou eie geestesgesondheid. Hier is ‘n paar riglyne om dit te doen:
- Fokus op die dinge wat jy kan beheer en hou by ’n roetine.
- Slaap genoeg, eet gesond, oefen, spandeer tyd in die natuur, mediteer, haal diep asem.
- As jy heeldag voor die rekenaar moet sit en werk, maak seker jy staan gereeld op en loop ’n draai deur die tuin, of gaan maak iets om te drink.
- Maak ‘n duidelike onderskeid tussen werk- en leefspasie.
- Gesonde en gereelde kontak met vriende en familie is belangrik.
Spesifieke raad ten opsigte van die covid-19-pandemie
Die pandemie het behoorlik ons en ons kinders se lewens kom omkrap. Daarmee saam is daar verskeie kwessies wat hulle ontsteld en angstig laat voel. Baie kinders ervaar dit as uiters traumaties. En dis veral die meer sensories-sensitiewe kind wat swaar kry.
Hou in gedagte: Jou kind hou jou dop en hoe jy dus op situasies reageer, het ’n direkte uitwerking op jou kind. Die probleem is dat hulle dikwels nie weet hoe om hulle gevoelens te hanteer nie en dan dikwels ’n berg van ’n molshoop maak sonder dat hulle dit besef. Dit is hoekom dit so belangrik is dat jy as ouer jouself bemagtig om in beheer te wees, want slegs dan kan jy jou kind se vrese objektief hanteer. Let ook op die volgende:
- Kommunikeer met jou kind en praat op ’n ouderdomstoepaslike manier met jou kind oor die virus en alles wat daarmee gepaardgaan.
- Ondersteun jou kind en beantwoord hulle vrae geduldig.
- Hou by reёls en roetine, veral as jou kind tuis moet skoolgaan.
- Dissipline bly steeds belangrik en jou kind moet weet hoekom hy moet stil wees as jy dalk besig is met werk, op ‘n Zoom-vergadering of die foon is.
- Klein muisies het groot ore. Maak seker jy praat nie “grootmensgoed” (veral oor die pandemie) waar jou kind dit kan hoor nie – juis omdat hulle nie altyd noodwendig weet waaroor dit gaan nie.
- Maak seker jou kind voel veilig.
- Sensoriese oorlading. Let op hoe hard en vinnig jy praat. Met almal tuis word ons ouditiewe vlakke oorlaai. Die televisie, radio, stofsuier, grassnyer, honde wat blaf, ens. laat ons noodwendig harder praat – sonder dat ons dit besef. Ons kinders kan dit ervaar as “mamma raas met my” of hy dink dalk mamma en pappa baklei.
- Spandeer kwaliteittyd saam met jou kind.
- Dalk is almal tans tuis, maar ons is almal besig met ons eie goed, soos werk of skool. Dit kan nie die plek inneem van dinge saam doen nie, soos uitstappies, speletjies, saam lees, ens. Interaksie binne die gesin is nou belangriker as ooit.
- Emosionele steun en normaliteit op sosiale vlak is belangrik.
- Aanlyn etiket is belangrik.
- Leer hulle dat om netjies aan te trek en ordentlik aanlyn op te tree, soos byvoorbeeld in ’n aanlyn klassituasie, en dat die virtuele klaskamer met dieselfde respek as die gewone skoolklaskamer hanteer behoort te word.
Nog wenke:
In ’n vorige artikel, het die spraakterapeut Christien Neser die volgende wenke van ouers en kundiges met wie sy gepraat het, met ons gedeel:
- Kry hulp en raad van kundiges. ‘n Spelterapeut, ‘n sielkundige, ‘n pediater of ‘n psigiater. Die meeste kundiges doen aanlyn beradings, indien ‘n persoonlike kontak nie moontlik is nie.
- Luister na jou kind. Hoe kleiner die kind, hoe moeiliker is dit vir hulle om hul emosies en bekommernisse te verwoord. Probeer hulle gevoelens verwoord: Dit maak mens baie bang as daar ‘n nuwe siekte kom. En veral as mens nie weet hoe lank die siekte gaan bly nie. Maar ons doen al die regte dinge, so jy hoef nie bang te wees om siek te word nie.
- Maak seker die kind het die regte feite byderhand. As jou kind met verkeerde inligting by die huis kom, help hulle sagkens reg. As die kind ouer is, kry selfs ‘n dokter of kundige familielid/vriend om met hulle daaroor te praat.
- Bemoedig jou kinders deur hulle te verseker dat dokters en wetenskaplikes die wêreld oor aan die vaksiene werk en dat die liggie in die tonnel al helderder brand. Vir ouer kinders kan die geskiedenis van pokke, die pes en die Groot Griep vertel word. Die geskiedenis bemoedig ons dat selfs die ergste epidemies onder beheer gebring is deur slim wetenskaplikes.
- Bemagtig hulle met die nodige protokol. As hulle hande was, maskers dra, afstand handhaaf en so meer, is hulle besig om soos soldate teen die virus te baklei. Vir heel kleintjies is snaakse maskers prettig. Selfs ouer kinders gaan eerder met ‘n Supermanmasker winkel toe, as met ‘n gewone witte. ‘n Hele versameling maskers is ook meer higiënies.
- Herinner hulle aan die lekkertes van inperking! Dink net hoeveel tyd het ons vir speletjies, vir legkaart bou, vir saam stories lees, sáám TV kyk. EN DOEN DIT DAN. Vir ouer kinders, vra hulle wat hulle alles sal mis van die pandemie-tyd. Dit was beslis nie alles net sleg nie!
- Hou jou kind se persoonlikheid in gedagte. Die introvert gaan die inperking geniet, waar die sosiale ekstrovert baie swaarder gaan kry. Reël Skype- of Zoomkuiers met maats of familie. Sorg dat grootouers en ander belangrike persone in hul lewe, baie gereeld met hulle aanlyn of per video-oproep kuier.
- Biblioterapie: Kleiner kinders wil weet dat monsters oorwin kan word, selfs ook virusse. Soek boekies waarin die held telkens die monster of die slegte ou uitoorlê. Ek dink hier aan boeke soos The Gruffalo, wat vertaal is as Die Goorgomgaai. Maar selfs die ou feeverhale soos Hansie en Grietjie, Rooikappie en Sneeuwitjie, bevat dieselfde elemente. Soek tussen julle boeke vir soortgelyke temas. As jou kleuter dieselfde boekie vir weke aaneen wil lees, dan is dit dat hulle daardeur na sekuriteit soek. Lees en vertel daardie storie totdat hulle gereed is vir ‘n nuwe een.
Bronne:
Potgooi op RSG: Hanteer jou kind se vrese so. Gaan luister hier na Johan van Lill se gesprek met twee opvoedkundige sielkundiges.
Vorige artikel: So help jy jou angstige kind. Gaan lees meer hier.
Inligting en lees meer:
Die e-boek vir kinders, Koronavirus, vertaal deur Jaco Jacobs, is te kry by LAPA Uitgewers. Klik hier.
Interessante angs- en covid-19-verwante artikels deur Megan Clerk, opvoedkundige sielkundige. Klik hier.
Kry ook hulp by Die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsvereniging (SADAG). Klik hier.
Moets en moenies as jou kind angstig is. Klik hier.