Afrikaans.com-Skilder met woorde-kompetisie bied ‘kreatiewe uitlaatklep’
Afrikaans.com het vanjaar hande geneem met die bekende musikant Anton Goosen en die kunstenaar Elsie Jooste vir die eerste Skilder met woorde-kompetisie. Anton vermaak reeds dekades lank musiekliefhebbers met sy unieke liedjies en word tereg beskou as die vader van Afrikaanse musiek. Met hierdie kompetisie is skoolleerders aangemoedig om een van Anton se liedjies te skilder. Die lang wag het verlede week tot ’n einde gekom met die aankondiging van die wenner van die kompetisie, Marisa Steynberg.
Die idee vir Skilder met Woorde het ontstaan by ’n gedagte van Ollie Viljoen. Terwyl Elsie en Ollie na een van Anton se liedjies geluister het, het hy genoem dat hy met elke liedjie ’n prentjie sien. “Dit is dan so skilderbaar”, het hy gesê. Elsie het daar en dan besluit om liedjies te kies vanaf 1976 (Jantjie) tot en met die nuutste album (2019) en dit op kitare te skilder. Die idee met die Skilder met woorde-kompetisie was om leerders ook die geleentheid te gee om kreatief na die liedjies te luister en dit te verbeeld. Afrikaans.com het besluit om agt van sy vroeëre liedjies aan die leerders voor te lê om kreatief uit te beeld.
Die aantal inskrywings was oorweldigend, met kunswerke wat van wyd en syd oor die land ingestroom het. Nie net was dit ’n bewys van die ongelooflike talent van ons land se jong kunstenaars nie, maar ook van die groot liefde wat daar vir die taal is. Anton meen hy is verstom oor die deelname. “Wat ’n wonderlike verrassing om so baie inskrywings te ontvang. Elke kunswerk is so uniek en spesiaal. Ek is omtrent nederig beïndruk en dankbaar vir die deelname. Dit verstom my elke keer hoe nuwe generasies kan identifiseer met liedjies wat dekades voor hulle bestaan geskep is. Deur die oë van ’n kind – inderdaad so verfrissend om te sien hoe hulle die liedjies geïnterpreteer en uitgebeeld het.”
Anton meen dat kompetisies soos hierdie aan jongmense ’n “kreatiewe uitlaatklep” en geleenthede bied wat nie noodwendig andersins oor hulle pad sou kom nie. “Miskien spoor dit kreatiewe jongmense aan om hulle drome uit te leef,” sê hy.
Elsie sê die standaard van die Afrikaans.com- Skilder met woorde-kompetisie was ongelooflik hoog, wat die kies van ’n wenner baie moeilik gemaak het.
“Die standaard was baie hoog en sodoende ’n uitdaging om die wenner te kies. Ons het gaan kyk na die uitbeelding van die woorde en hoe dit in ’n storie omskep word. Dan het ons ook gaan kyk na die medium, die tegniek en uitvoering daarvan in elke ouderdomsgroep.”
Die kompetisiewenner, Marisa, se kunswerk is geïnspireer deur Anton Goosen se liedjie Straattroebadoere en sy het van akrielverf gebruik gemaak in die skeppingsproses. Marisa het weggestap met ’n R2000-kontantprys en ’n verdere R10 000 wat as ’n skenking weggegee sal word.

Marisa Steynberg – 16 jaar oud – Steynbergtuisskool – Straattroebadoere
Graag wens ons ook die volgende leerders geluk vir hul posisies in die tweede en derde plek van die Skilder met woorde-kompetisie:

Tweede plek: Ashton Fick
Ashton Fick – Gr 9 – CVO Vivo – Hanoverstraat

Derde plek: Tehilla Meyer
Tehilla Meyer – Gr 7 – Victory Christian School – Trompie
Anton meen die kunswerk het onmiddellik sy en Elsie se aandag getrek. “Marisa Steynberg se uitbeelding van Straattroebadoere het onmiddellik uitgestaan. Haar kunswerk verpersoonlik die liriek en gevoel van die liedjie sonder dat woorde nodig is.” Elsie stem heelhartig saam. “Elke woord in die liedjie het sin gemaak en die emosie is omskep in ’n uitstekende kunswerk wat spreek van gehalte en vakmanskap,” meen sy. “Haar tegniek is iets besonders. Haar kleurgebruik vorm deel van die emosie en die figure in die skildery kom sterk na vore en vorm deel van die fokuspunt. Sy het beslis haar beplanning van die skildery deurdink voordat sy die kwas gebruik het. Sy is voorwaar ’n uitstaande wenner. Mag sy net nooit haar kwas neersit nie.”
Maar, die opwinding van die kompetisie het nie daar gestop nie … ons was so beïndruk met vanjaar se inskrywings dat Afrikaans.com dit goedgedink het om ’n verdere twee pryse weg te gee. Die laerskoolkunstenaars het nie vanjaar teruggestaan nie en het ook besonderse kunswerke opgelewer.
Afrikaans.com was daarom trots om ’n spesiale prys vir ’n grondslag- en ’n intermediêre fase-leerder wat uitsonderlike talent getoon het, aan te kondig. Elk van die leerders het weggestap met ’n R500-kontantprys en die skole waarin die betrokke leerders is, sal ook elk ’n R1000-kontantprys ontvang:

Grondslagfase-wenner: Nika Oosthuizen – 9 jaar oud – Laerskool Volschenk – Straattroebadoere

Intermediêre fase-wenner: Dané Jansen – 11 jaar oud – Laerskool Vastrap – Harlekyn
Skeppende kunste is belangrik…
Elsie is uiters passievol oor skeppende kunste in skole en meen dit is ’n behoefte waarvoor sy op die hoogste vlak baklei.
“Ek het al sover gegaan as om navorsing in Amerika te gaan doen vir my meestersgraad om sodoende te gaan kyk hoekom leerders daar soveel meer sukses behaal in vergelyking met Suid-Afrika. [In Amerika] word so baie klem gelê op die kunste en leerders word op ’n gereelde basis getoets vir vakkeuses. Daarom is ek besig met die Wes-Kaapse Onderwysdepartement vir fondse om breintoetse verpligtend te maak in graad nege en graad elf. Leerders, veral in die kunste, word in verkeerde rigtings gestuur en daarom gee hulle moed op en val uit. Hierdie kompetisie het weereens vir my die behoefte aan skeppende kunste beklemtoon en ek en Anton is regtig baie dankbaar dat ons só baie kinders en ook hul ouers kon betrek om skeppend na Afrikaans te kyk.”
Anton, Elsie en Afrikaans.com wil graag dankie sê aan elke leerder wat hul liefde vir Afrikaans met die kwas gewys het en vanjaar deelgeneem het. Die beoordeling van hierdie kompetisie is onafhanklik deur Elsie Jooste en Anton Goosen gedoen.
Let wel dat elke inskrywing benader is op grond van die ouderdomskategorie waarin die leerder val en daarom beoordeel is op grond van wat van ’n leerder op daardie ouderdom verwag word.
Elke leerder sal na afloop van die kompetisie ’n sertifikaat van deelname ontvang.