
Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
“Sol-Tech bemagtig ons jeug om binne Suid-Afrika welvaart vir hulleself en hulle gemeenskap te skep … Sol-Tech is daarom die wind onder die vlerke van ons jongmense.”
– Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit
Die eerste sooi is in September 2019 deur dr Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gespit en op 26 Maart 2021 (so bietjie meer as ’n jaar later) is die nuwe Sol-Tech-kampus in Monumentpark amptelik geopen. Nie net is die bouwerk vroeër afgehandel as beplan nie, maar daar is tot dusver ook minder geld as waarvoor begroot is, spandeer. Dr Hermann het destyds die kampus “’n lewende monument van hoop” genoem – ’n projek wat met groot sukses uitgevoer is. Flip Buys, uitvoerende hoof van Solidariteit, en ’n groot dryfveer agter die totstandkoming van Sol-Tech, skryf op ’n keer dat die “onmoontlike moontlik is” en “ons kan as ons wil en as ons net begin en aanhou en volhou – al is dit nie altyd maklik nie – Sol-Tech is die bewys dat selfhelp regtig help!”
“Baie bietjies maak baie!”
Elke baksteen wat gelê is, is deur die gemeenskap gefinansier (Solidariteitslede dra maandeliks R10 tot ’n boufonds by) en daarom is dié wêreldgehalte kollege ’n toonbeeld van wat vermag kan word as ’n gemeenskap saamstaan en self werk maak van ’n projek. “Elkeen moet doen wat hy kan, maar doen net iets.” Aldus Flip Buys.
Die eerste studente het reeds in Februarie 2021 by die nuwe kampus begin. Die volgende projek wat nou voorlê, is die bou van ’n 400-bed-koshuis.
Maar hoekom ’n instelling soos Sol-Tech?
Sê Flip Buys: “Beroepsopleiding is belangrik. Meer as tweederdes van ons Afrikaanssprekende studente gaan nie universiteit toe nie. Dit is vir hierdie jongmense wat ons voorsiening moet maak – om beroepsopleiding binne die breë spektrum van beroepe te ontvang. Afgesien daarvan dat daar ongeveer 300 beroepskolleges in Suid-Afrika is, met 800 kampusse, is daar nie een ander Afrikaanse kollege nie. So ook is opleidingsgeleenthede vir ons jongmense skaars weens die wette van die land. En dit is die behoefte en leemte wat deur ‘n instelling soos Sol-Tech gevul kan word.”
Opleiding bly die beste belegging
Daar is tans ’n nasionale tekort aan gekwalifiseerde ambagsmanne in Suid-Afrika. Trouens, ons lei tans minder ambagsmanne op as in die 1980’s. Tegniese opleiding is ook baie duur, maar bly steeds die beste belegging wat ’n mens in jou toekoms kan maak. Daarom is ’n privaat, geakkrediteerde en wêreldgehalte instelling soos Sol-Tech – met Afrikaans as onderrigmedium – nie net broodnodig nie, maar ononderhandelbaar.
Net ’n paar redes hoekom Sol-Tech werk
- Opleiding geskied in die student se moedertaal, wat leer vergemaklik.
- Sol-Tech se studente slaag die nasionale vaktoetseksamens met ’n gemiddelde slaagsyfer van 96%.
- 57% van Sol-Tech se gekwalifiseerde ambagsmanne het reeds werk na afloop van hulle opleiding en die res word binne ses maande in diens geneem.
- Meer as 20% van Sol-Tech se gekwalifiseerde ambagsmanne begin hul eie ondernemings.
- Die fokus is suiwer op doel-spesifieke opleiding wat tot die verwerwing van ’n nasionaal erkende en bruikbare kwalifikasie lei.
- Die fondasie wat by Sol-Tech gelê word stel studente in staat om verder in tegniese beroepsrigtings te studeer.
- Die persoonlike ontwikkeling van studente –soos leierskap – word ook as belangrik beskou.
- Lenings wat deur die Helpende Hand Studiefonds bestuur word, word rentevry aan studente toegeken. In 2021 sal daar bykans R50 miljoen vir verdienstelike studente beskikbaar gestel word. (Dit kos ongeveer R150 000 om een ambagsman op te lei.)

Video-regte: kykNET
Voltydse opleiding
Opleiding geskied in drie fases: teoretiese opleiding, praktiese werkwinkelopleiding en indiensopleiding by goedgekeurde werkgewers.
Dit word opgevolg met eksterne vaktoetsvoorbereiding en daarna ’n finale kwalifiserende toets by ’n geakkrediteerde toetssentrum.
Leerprogramme wat tans aangebied word:
Dieselwertuigkundige, elektries, gereedskapmaker, meulmaker, pas-en-draai, sweis, trekkerwerktuigkundige en outo-elektries.
Opedae
Daar is vier innames per jaar en voornemende studente moet een van die opedae bywoon , asook ’n keuringstoets aflê.
Die volgende opedae by Sol-Tech vind op 5 Junie en 4 September plaas. (Gaan lees gerus meer op Sol-Tech se webtuiste: Toelatingsvereistes – keuringstoets.)
Nasionale Ambagsdag
Die Solidariteit Ambagsgilde het tydens die opening aangekondig dat 26 Maart voortaan as Nasionale Ambagsdag bekend sal staan. Op dié dag sal die gilde sy jaarlikse “Jou Yster”-toekenning maak aan die ambagsman wat ‘n besondere bydrae in die ambagsbedryf gemaak het. Die eerste toekenning is dan ook tydens die opening aan Leon van Wyk, bestuurder tegniese dienste en lektor by Sol-Tech, gemaak.