Skrywer: Nicolette van Schalkwyk
Die teaterproduksie Die poet, wie’s hy? het vanjaar skoonskip by die Fiëstas gemaak deur met vyf toekennings weg te stap waaronder die beste algehele produksie, musiekgedrewe produksie, nuutgeskepte Afrikaanse teks, beste regie en beste teaterontwerp. Hierdie bekroonde produksie is saamgestel deur Frieda van den Heever en Dean Balie en vervaardig deur De Klerk Oelofse. Dean, ook bekend vir sy rol in David Kramer se Kat and the Kings, is geprys vir sy meesterlike spel as vertolker en storieverteller in Die poet, wie’s hy?

Foto regs (twitter): Dean Balie en Tracey Lange
Afrikaans.com het met Dean gesels om meer uit te vind oor sy liefde vir teater, sy rol in Die poet, wie’s hy? en “Oom Adam” se werke. Die poet, wie’s hy? is ’n ikoniese reis deur die werk en lewe van die digter Adam Small.
Deur Small se werke te kombineer met onkonvensionele klanke, word daar nuwe lewe in dié legende se woorde geblaas.
Dean staan in dankbaarheid vir die lof wat die produksie tans ontvang. “Dit is altyd wonderlik om erkenning vir jou werk te kry,” sê hy. “Ons as ’n span is verskriklik trots en staan nederig in diens van die uitvoerende kunste. Die produksie het die passie en dissipline van almal betrokke geverg. Ek was geseënd om ’n kreatiewe span te hê wat net so sterk oor Oom Adam se boodskap voel soos ek. Die toekennings is ’n refleksie van die werk wat ons gedoen het en nog gaan doen. Ek is dankbaar vir die eer en dit is motivering om nog beter werk te skep.”
Volgens Dean het die idee vir die produksie voortgespruit uit ’n Kersprogram van RSG waarby die ontslape Margot Luyt hom in 2012 betrek het. “Sy het my na die sessie laat dink dat ’n produksie van Adam Small se verse en my musikale benadering goed kan werk. Ek is haar verewig dankbaar.”
Dean se eie agtergrond van musiek sluit in Namakwalandse klanke asook die tradisionele ‘khoi’-klanke. “Ek wou die twee wêrelde met mekaar saamsmelt om onder die vers te sit en die betekenis beter oor te dra.
Dit was vir my belangrik dat die klank nooit steur nie, maar altyd bydra. Van dag een af het ons besluit dat dit Small se woorde is wat die ster van ons show sal wees.
In die ontwikkelingsfase het ons jam sessions gehad en almal het geweet ons loop nou op heilige grond en dat ons besig is met werk wat nog nooit so voorgestel is nie. Elke kap op ’n blikkie, of blaas van ’n fluitjie was net so belangrik soos die stram van ’n kitaar.”
Balie meen die trefkrag van Small se werk lê in die feit dat hy nie noodwendig geskryf het soos wat mense lees nie, maar liewer soos hulle praat en voel. Vir hom is daar drie Adams: “Adam die godsdienstige jong skrywer met die worsteling van ons sosiale omstandighede, asook sy struweling met sy God: ‘Die Here het gaskommel en die dice het verkeerd geval vir ons’ [Die Here het gaskommel]. Adam die Kaaps-Afrikaaps ‘rebel’ wat vroeg besluit het hy sal die pen gebruik as ’n vorm van aktivisme: ‘Toe sê Toefie toe sê Toefie ‘Ek sal vi djulle blêrie wys’ [Toefie se kait] en Adam die ou man wat terugkyk na sy werk en tevrede voel: ‘…daardie klein bruin kind se wil vervul, hom ingebind in Afrikaans vir altyd’ [Trap der bruin jeugd].
“Hy was beslis voor sy tyd en sy grootste les vir my is wanneer hy sê: ‘As daar nou swart en bruin en wit is, is die grootste hiervan vir my die liefde’.
Ek glo dit is wat ons nou nodig het. Daar is baie meer dinge wat ons saambring, as wat ons apart maak. Dit is wat hom ’n ikoon maak nie net in Afrikaanse digkuns nie, maar ’n ikoon van Suid-Afrika en haar kinders.”

Tydens die produksie is daar van meer as 30 onkonvensionele musiekinstrumente gebruik gemaak waarvan baie sélf vervaardig is. Vir Dean was dit ’n droom om met kunstenaars soos die Khoisan Gypsy Band, Frazer Barry, Garth Erasmus, Leon Ecroignard, Collin ‘The Bushman’ Meyer en Ulric ‘Namasun’ Roberts ’n verhoog te deel. “Die Khoisan Gypsy Band is meesters in hulle veld. Die band was soos ’n Griekse koor wat die heeltyd die betekenis van die vers baie sensitief en met respek dra.
Met die beperkings van Covid-19, is dit onseker om te sê wat die toekoms van die produksie inhou. Die produksie is verlede jaar November verfilm met Christiaan Olwagen wat die regie behartig het. Verder beplan hulle ook om binnekort ’n CD van die klankbaan bekend te stel. Dean meen sy enigste wens is dat hulle ’n volle speelvak sal hê. “Die grootste sale en klein gemeenskappe moet dit sien en ervaar! Die boodskap sluit ons almal in en as ons mekaar kan sterk maak en laat lag en huil dan kan ons mekaar genees ook,” sê hy.
Vir Dean is dit belangrik dat mense moet verstaan dat Die poet, wie’s hy? nie protesteater is nie, maar eerder “genees-en-hoop-teater”.
“Dit is kerk vir die gehoorlid wat ’n Christen, Moslem, Jood, Hindu, Rastafariër of Ateïs is. Dit eer die werk van Adam Small, vertel deur mense wat weet die boodskap is groter as hulself. Wat nie ons geskiedenis of die politiek vergeet nie, maar dit embrace as deel van die ‘vadoek’ van ons sosiale welsyn. Mag hierdie vertoning lank na my nog in die denke van ons mense lewe. Mag ons nooit vergeet as oom Adam skryf: ‘…en na die atoombomme sal daar ’n nuwe wêreld wees met twee soort mense. Die gelowiges en die ongelowiges is een soort, die paar ander sal liefhê en beweeg met die vliegende sterre, en bome en afstand, wind en vrugte en lig en met die ander meeleef omdat die liefde toelaat vir baie dinge.’ Hy praat hier van ons almal!”