Skrywer: Nicolette van Schalkwyk
Die Wille Willemien is keelvol vir dik wees. En bang wees vir kaas en inkopies doen. Hoe kan ’n mens so verwyderd van jouself wees dat jy van buite liederlik obees is, maar in jou kop sing jy vry en kaal op ’n krans?
Met ’n kluis en ’n winkeltrollie op die dak van haar motor, durf Willemien en haar suster die Richtersveld aan om hul pa se kluis oor ’n afgrond te gooi. Dit is egter meer as net ’n rit Richtersveld toe; eerder ’n reis na die verlede, wanneer Willemien vertel van haar ouers se persepsies oor oorgewig wees, van haar pa wat geen imperfeksie by die vroue in hul huis kon duld nie en sy vele onwettige sakeondernemings wat hom gereeld agter tralies laat beland het.
In Anoeschka von Meck, skrywer van Vaselinetjie, se nuutste roman, Die heelal op my tong, lê sy ’n stukkie van haar eie lewe bloot en vertel sy van haar verhouding met haar liggaam en die verhouding tussen ’n dogter en haar pa. Hier verwys sy ook na haar verhouding met haar eie pa, Vloog Theron, aan wie sy die boek opgedra het.
In ’n artikel in Rapport op 15 November 2020, skryf afgetrede professor aan die Universiteit Stellenbosch, Louise Viljoen, oor hierdie “oorrompelende roman” waarin “’n vrou op soek na God finale afsluiting probeer kry van haar pa én haar eie liggaam”.
“Selde was daar nog so ’n oortuigende uitbeelding van ’n eetsteurnis hier,” skryf Viljoen. “’n Mens sien hoe dit ontstaan, hoe dit skakel met onsekerheid rondom sorg en liefde, hoe dit groei uit spanning en angs, leer ken die siklusse van verhongering en ooretery waarin dit manifesteer. Dit teken – in Willemien se woorde – ‘’n leeftyd van oorlog met my lyf’.”
In ’n resensie in die Vrye Weekblad, beskryf Deborah Steinmair, skrywer en redakteur by Protea Boekhuis, Von Meck se roman as “onweerstaanbaar”.
“Die skryfwerk is uit die boonste rakke, met woorde en beelde wat my tone laat omkrul en karakters wat my uit die slaap hou.”
Afrikaans.com het by Anoeschka ingeloer om meer te leer oor die skrywer agter dié moet-lees verhaal. Die vrae is gebaseer op die entrepreneur en skrywer Tim Ferriss se boek Tribe of Mentors.


Wat is die drie boeke wat ’n groot invloed op jou lewe gehad het en hoekom?
Abdoltjie deur Alba Bouwer
Ek het oorsee gewoon toe een van my tannies – ‘n baie eksentrieke en slimme vrou vir my die kopie stuur waaruit sy vir ons as kinders gelees het. Sy het vir my ‘n “brief” met rooi pen oral binne-in geskryf. As ek die blaaie van daai boekie oopmaak. stap ek saam met Abdoltjie en Bella-bok teen die hange van Tafelberg in ‘n onskuldige tyd wat my steeds bekoor.
Tintin in Tibet
Ek het ontsettend gesukkel met Engels as kind en spanningshoofpyne gekry by die skool as ons ‘n Engelse les gehad het. Om my intense weersin teen die taal te help oorkom, het my ma vir my uit Tintin leer Engels lees, totdat ek so ingesluk was deur dié karakter dat ek met “sy” bravado ook die vreemde taal kon bemeester. Tibet het my fassineer, want my pa het in sy reise daarvan met soveel verwondering van daardie land se mense en monnike gepraat.
Beyond Human: Fully identified in the new creation deur Justin Paul Abraham
Justin Paul is ‘n wilde volgeling van Yeshua en mistieke denker. Sy boek het my denke oor Vader en myself vir altyd verander.
Watter aanvanklike mislukking of skynbare mislukking, het later vir jou sukses ingehou?
Het jy ’n “gunsteling”-mislukking?
Soos meeste van ons, het ek al in situasies beland waar ek saam, of selfs “onder” ‘n persoon moes werk wat ‘n gevaarlike brose ego en persoonlikheidsafwykings gehad het. Aanvanklik ‘n innemende en intelligente mens, wat jy eers mettertyd besef oor die vermoë beskik om jou op ’n baie slinkse en manipulerende manier in hul netwerk van leuens te verstrengel. Hulle verdoesel dinge so dat dit lyk of dit jý is wat die vark in die verhaal is. Om met so ‘n persoon saam te werk, is ontnugterend en ‘n hengse frustrasie, maar uiters leersaam. Jy leer bid en ‘n wag voor jou mond sit. En jy leer dat as jy net aanhou op jou pad van integriteit en eerlikheid, ander mettertyd wel sal sien dat jy onder die leuens uitgestap het en nooit daarvan deel was nie. Ek onthou duidelik hoe magteloos ek in sulke situasies gevoel het en dat ek moes veg teen die oortuiging dat ek ooit uit dié “mislukking” sou kom nie, weens die ander persoon wat mense teen my beїnvloed of my werk gekaap en verander het.
Al was dit uiters pynlik met byna ondraaglike spanning, was dit van my beste vuurdope en leerskool ooit!
As jy ’n massiewe buitelugadvertensiebord iewers kon oprig wat miljoene mense sou bereik, wat sou dit sê en hoekom?
Soek die Deur.
Dit is wat ek oral in my klaskamer opgeplak het toe ek vir ‘n wyle by Hoërskool Calvinia uitgehelp het. Ook op my klas se deur, want ek het geweet kanse is goed dat leerlinge niks gaan onthou wat ek oor les gee nie, maar iets vreemd soos dit sal hul lank bybly. Daar is net een Deur uit hierdie dimensie en as jy nie deurdringend soek om een met Hom te word nie, bly jy net hier vasgevang.
Wat is een van die beste beleggings wat jy al ooit gemaak het?
Dit kan tyd, geld, energie, ens. wees.
Om tikklas op skool te neem. Daai tyd was die mite dat net die dommes tik neem.
Wat is ‘n ongewone gewoonte wat jy het of iets skynbaar absurds wat jy mal oor is om te doen?
Daar is ‘n lys, maar as ek dit verklap is die sports mos verby.
Watter advies sal jy vir ‘n jong gedrewe persoon gee wat op die drumpel is om die sogenoemde regte wêreld te betree?
Watter advies moet hulle ignoreer?
Maak ‘n “afspraak” met die Skepper van die Heelal – tyd, plek, datum, als. Vat ‘n lys van wat jy met die Skepper wil bespreek met al jou drome en vrese. Verkieslik iewers in die natuur, maar as die enigste privaatplek ‘n toilet is, gaan sluit jou daar toe en gesels met Vader. Vind uit waarvoor Hy jou geskape het en wat jou lewensdoel is. Vra spesifiek daarvoor! Die antwoord mag dalk nie dadelik kom nie, maar dit sal.
Moenie skrik vir hongerly of swaarkry of jouself oor ‘n mik werk nie. As jy as koffiemaker in ‘n kantoor moet begin, doen dit met ‘n smile op jou gesig en maak jouself onmisbaar deur die energie wat jy na die werksplek bring. Dit maak jou taai en bou stamina. Mense wat in makliker omstandighede grootword, moet nog leer wat jy klaar oorkom het.
Die heelal op my tong is nou beskikbaar by Exclusive Books. Klik hier om dit aanlyn te bestel.
Bronne:
Baie sal aanklank vind by oorrompelende roman – Louise Viljoen, Rapport, 15 November 2020
Von Meck se cowboys en pylstertengele – Deborah Steinmair, Vrye Weekblad, 30 Oktober 2020