Die vakansie kruip al nader en dit is tyd om jou leeslysie vir die komende rustyd saam te stel. Met die hulp van NB Uitgewers en Afrikaans.com, is dit so maklik soos 1-2-3! NB Uitgewers se keur van die nuutste Afrikaanse boeke soos Deon Meyer se Donkerdrif, Dana Snyman se Onder een dak, Nataniël se Dik dun thick thin en Hondman deur Dav Pilkey, bied ’n wye verskeidenheid vir oud en jonk.
Laai gerus hieronder ’n gratis uittreksel uit elk van die boeke af en bederf jouself hierdie vakansie met leesstof uit die boonste rakke!
1. Donkerdrif |
Donkerdrif
Deon Meyer
ISBN: 9780798181662
Uitgewer: Human & Rousseau
’n Koelbloedige moord by die Kaapse Waterfront. Wat dalk verband hou met geheimsinnige briewe wat geskorste luitenante Bennie Griessel en Vaughn Cupido ontvang het. Maar eers moet Bennie-hulle op Stellenbosch soek na ’n verdwene student, en die spoor vat van die eiendomsagent wat die kooptransaksie van Donkerdrif, korporatiewe swendelaar Jasper Boonstra se peperduur wynplaas, behartig het. Stadigaan besef die speurders al hul ondersoeke het ’n gemene deler: die donkerste drif, gierigheid.
2. Onder een dak |
Onder een dak
Dana Snyman
ISBN: 9780624091523
Uitgewer: Tafelberg
Dana Snyman deel 100 van sy gunstelingstories. Dit strek van familiestories uit Dana se seunsjare tot intieme onlangse vertellings, waar hy met skerp waarneming ons land en sy mense betrag. Daar is ook wonderlike nuwe stories, oor rugby en oor die inperkingstyd. Wat al die stories in gemeen het, is die meelewing wat Dana se werk kenmerk. Hy laat jou met nuwe oë na jouself en na die wêreld om jou kyk.
3. Dik Dun Thick Thin |
Dik Dun Thick Thin
Nataniël
ISBN: 9780798181419
Uitgewer: Human & Rousseau
‘n Splinternuwe, skitterende versameling kortverhale deur Nataniël. 20 in Afrikaans en agt in Engels. Skreeusnaaks, aangrypend, wys, onvoorspelbaar en – soos altyd – hoogs vermaaklik.
Soos gewoonlik delf hy goud uit sy kinderjare – oor sy ouers, sy ouma – maar daar is ook fantastiese en fantasmagoriese verhale oor sy lewe as sanger op plattelandse dorpies, oor ‘n vreemdeling wat hom een aand in sy huis help om sy vrese te besweer, en hoe ‘n mens jou eerste reus oorwin …
4. Hans gee Herklaas horings |
Hans gee Herklaas horings
Rudie van Rensburg
ISBN: 9780795802324
Uitgewer: Queillerie
Hans van Kraaienburg, verlosser van Huis Madeliefie se oumense, se vriend Vasie nooi hom vir ’n vakansie op Hermanus, as gaste van dié se neef Herklaas. Daar gekom, vind hulle Herklaas in die sop: die Overstrand se rykste skobbejak, Grond Graaffwater, wil sy blyplek koop en herontwikkel – maar Herklaas wil nié trek nie. Toe Grond se kriminele handlangers hardhandig raak, besluit Hans dat Herklaas ’n stel horings moet kry om Grond trompop te loop.
5. Hondman |
Hondman
Dav Pilkey
ISBN: 9780798181198
Uitgewer: Human & Rousseau
Daar is ‘n nuwe soort polisieman op die toneel! George en Harold het ‘n nuwe held geskep wat bedrog uitgrou, sy kloue in kroeke inslaan en diewe omduik! Ben die hond en sy polisiehoof word beseer op diens, maar ‘n operasie verander ook lewe soos ons dit ken, en Hondman word gebore. Met die kop van ‘n hond en die lyf van ‘n mens, het hierdie heldhaftige hond ‘n neus vir geregtigheid. Maar is sy hondemaniere regtig iets van die verlede?
6. Onthou my |
Onthou my
Helena Hugo
ISBN: 9780796322456
Uitgewer: Lux Verbi
Kan jy jou rug op jou verlede draai, jou foute vergeet en nuut begin? Of leef jy vir die res van jou lewe onder die wolk van verhoudings wat skeefgeloop het en verbintenisse wat jy nie kan verbreek nie? Die gevolge van verkeerde keuses is vernederend en vernietigend. Dit slaan jou tot jy omval. Maar God is ’n God van tweede kanse; Hy help jou op en stuur jou na die plek waar jy eens gelukkig was, na mense wat jou onvoorwaardelik liefhet. Die opvolg op Papierblomme.
7. Braaibroodjies en burgers |
Braaibroodjies en burgers
Jan Braai
ISBN: 9780795709531
Uitgewer: Human & Rousseau
Wie sou kon raai dat Jan en sy boeke wêreldbekend sou word vir braai! Die braaikoning is terug met ’n splinternuwe boek en dié keer ondergaan die nederige braaibroodjie ’n gedaanteverwisseling of twee. Vind liplekker hoender-, beesvleis-, vegetariese en veganistiese braaibroodjie- en burgerresepte wat jou gesin sal laat terugkom vir nog! En moenie dink Jan het van die suikertande vergeet nie, die boek bevat alles van soet tot sout, alles oor die vuur – dis mos nou lekker!
8. Die avonture van Speurhond Willem |
Die avonture van Speurhond Willem
Elizabeth Wasserman
ISBN: 9780624091110
Uitgewer: Tafelberg
Willem is oor die wêreld heen beroemd as speurhond. Maar ‘n paar jaar gelede het ‘n sending skeefgeloop en het hy in Kaapstad by die DBV beland. Dis waar Adriaan en sy ouers die oulike swart-en-wit spanjoelhondjie raakgeloop het. En van daardie dag af is Adriaan en Willem onafskeidbaar. Hierdie omnibus bevat die eerste drie avonture: hulle reis na Istanbul, Parys en Londen, ‘n seerower-avontuur op ‘n passasierskip en die Bosveld-vakansie waarin hulle ‘n bende renosterstropers vastrap.
9. Branderjaer |
Branderjaer
Joha van Dyk
ISBN: 9780798180481
Uitgewer: Human & Rousseau
Deidre se lewe is veilig, onder beheer. Sy het egter nie op Louw gebargain nie. Louw is een van dáárdie ouens. Waaghalsig. Windgat. Alles wat Deidre nie kan verdra nie. Maar sy besef gou hoe verkeerd sy was. Daar is iets aan hulle, die Branderjaers: vyf seuns in ’n hegte broederskap gesmee deur gedeelde pyn en skuld. Sý wil die een wees wat al Louw se geheime ontrafel. Want almal in Stormbaai het skuld. Bloedskuld. En die Branderjaers het ‘n aansienlike prys om te betaal.
10. Blokraai-antwoorde |
Blokraai-antwoorde
Adri Burger
ISBN: 9781868902385
Uitgewer: Pharos
Hierdie handige naslaanbron is volgens sewe temas gerangskik: Algemene kennis, Bybelkennis, geografie, die kunste, politiek, sport en skoonhede. Elke tema is verder verdeel in kleiner relevante kategorieë. Dit is in ‘n handige formaat en gebruikersvriendelik.Hier is al die antwoorde wat jy nodig het om jou Afrikaanse blokraaisel suksesvol te voltooi – ‘n ideale geskenk!