Marlene le Roux het reeds diep spore in die Afrikaanse leefwêreld getrap, nie alleenlik as kampvegter vir die taal, kultuur en die jeug nie, maar ook vir persone met gestremdhede. Dit is dan ook hierdie passie vir haar taal en die diversiteit van sy sprekers, wat as bousteen dien vir die belangrike rol as voorsitter van die Afrikaanse Taal en Kultuurvereniging (ATKV) se direksie, wat sy nou aanpak.
Vir Marlene is dit nie die titel wat die werk doen nie – dis die mense wat die werk doen.
Marlene meen dit is nou belangriker as ooit vir die ATKV om te kyk hoe hulle die breër gemeenskap kan dien.
“Alhoewel elke dag ’n ontdekkingsreis is, moet ons besef hoe ver ons gekom het in ons land wat met sy vele tale, rasse en kulture, saam die pad vorentoe aangepak het. Die ATKV se rol daarin is merkwaardig.”
As ’n organisasie wat ten alle tye sy lede dien en nuwe lede werf, blink die ATKV uit as die een wat die stryd om Afrikaans en alle tale in die Suid-Afrikaanse milieu omhels. Met die hulp van bekwame personeel, ’n doelgerigte direksie en passievolle lede, is Marlene opgewonde om nog vele ontdekkings saam aan te pak.
Sy beskou haar rol as fasiliteerder om mense saam te laat werk, om hul positief en kreatief te laat dink, om alle persone ’n ervaring van hoop en inspirasie te bied by ATKV-oorde, om die kunste onder die jeug te ontwikkel, om meer te wil doen vir ander en om ons land te laat werk.
Die ATKV vier vanjaar sy 90ste bestaansjaar – ’n jaar van vele uitdagings, maar ook groot geleenthede, veral op die virtuele front. “Die reis van die ATKV op pad na nuwe ontdekkings is oneindig. Die tyd van vingerwys is verby. COVID-19 het my geleer ons almal is gelyk. Ons het nie ’n ander keuse in ons land as om saam te staan en ons woordeskat te verander van ‘hulle’ na ‘ONS’ nie.”

Marlene, ’n beskermvrou vir Afrikaans.com, dien die afgelope ses jaar as uitvoerende bedryfshoof van die Kunstekaap-teater, waar sy die instansie na nuwe hoogtes geneem het deur dit onder andere ’n toeganklike ruimte vir persone met diverse agtergronde te maak. Onder haar leiding as die eerste vrou aan die stuur van dié instansie, is die Kunstekaap bekroon met die gesogte Fair Saturday Foundation-toekenning in Spanje vir hul wye reeks diverse en toeganklike programme en sosiale transformasie deur kultuur. Tesame hiermee is Marlene ook self vereer vir haar moed en deursettingsvermoë as menseregte-aktivis en as sosiale leier wat die regte van minderheids- en weerlose groepe (insluitend persone met gestremdhede) beveg. Sy het ook verskeie ander toekennings op haar kerfstok waaronder die Commonwealth Point of Light-toekenning vir die bevordering van gestremde persone.
Marlene is tans ook betrokke by verskeie ander organisasies waaronder die Chrysalis Jeugakademie, die Stigting vir die Bemagtiging van Afrikaans (SBA) en die Presidensiële Werksgroep oor Gestremdhede. Verder was sy ook tot en met verlede jaar betrokke by die Desmond en Leah Tutu Legacy Foundation waar sy as voorsitter gedien het.
Dit is in haar nuwe rol by die ATKV waar sy ook nou die geleentheid gaan kry om verder diep spore in die bedryf te trap.
Volgens Marlene, is haar droom vir die ATKV dat dit ’n huis sal wees vir alle inheemse tale en die toonaangewende organisasie wat nasiebou bevorder en ons diversiteit in totaliteit sal omarm.
“Ons het ’n diverse land en ons moet dit erken as ons sterkpunt,” sê Marlene. Afrikaans kan net volhoubaar wees as alle inheemse tale bevorder word. Afrikaans moet brûe bou vir geïntegreerde gemeenskappe en die taal wees wat met deernis en met ’n snoes lappieskombers alle variëteite, tongvalle, en al die pilare waarop die erfenis van Afrikaans gebou is, toevou.
Haar wens vir die ATKV in hul 90ste bestaansjaar is eenvoudig: Dat hulle voortdurend op reis sal wees om veeltaligheid, kultuurrespek en menslikheid te bevorder.
“Afrikaans ken geen grense nie en is soomloos. My droom is ook dat ATKV ongemaklike gesprekke moet hê. Ons moet praat oor die stigma van Afrikaans. Dán kan ons vorentoe beweeg.”
