WEN maandeliks R500 met Afrikaans.com en Exclusive Books – teken in op ons nuusbrief om in aanmerking te kom!
Klik hier.
’n Groot aantal nuwe boeke het vandeesmaand hul regmatige plek ingeneem op Exclusive Books se top 10-verkoperslys. Bekende joernalis Hanlie Retief maak haar verskyning op die topverkoperslys met haar boek Liedjieboer oor die lewe van die legende Anton Goosen. Verder maak Maggie: My lewe in die kamp, ook ’n verskyning op die lys en neem dit die leser op reis met ’n persoonlike vertelling van die lewe in ’n konsentrasiekamp. Lees gerus hieronder watter ander boeke is tans die gewildste in die land.
1

Merk – Rudie van Rensburg
Kassie het geglo sy speurderdae is getel na die Medusa-pedofielsaak, en sy hartaanval. Maar ses maande tuis bring perspektief – hy is ‘n speurder in murg en been. Terug by die Spookeenheid word hy en kollega Rooi Els dadelik by die diep kant ingegooi: Hulle moet ‘n reeksverkragter vastrek – een wat sy slagoffers met ‘n brandyster merk. Is die skuldige die man wat beskryf word as “‘n weerwolf met die sperm van ‘n wildehond”? Of lê die antwoord by die spesifieke merk wat hy op sy slagoffers laat?
2

Die Brug: Na die hel en terug in Angola – Deon Lamprecht
In vergeelde foto’s van drie dekades gelede staan oopgesigseuns vol bravade voor Ratel-gevegsvoertuie. Hierdie dienspligtiges van 61 Gemeganiseerde Bataljongroep staan aan die begin van hul reis diep in Angola in om vir volk en vaderland te gaan veg.
In ’n bloedige geveg op Valentynsdag 1988 en in die doodsakker by Tumpo sou hul jeugdige onskuld egter sneuwel. In die hitte van die gevegte kom die besef: Nou gaan dit nie oor ideologie nie, maar om oorlewing. Na die oorlog gaan die lewe voort, maar die vrae en geestelike letsels wyk nie.
In 2018 keer ’n groep van die ouddienspligtiges terug na Cuito Cuanavale op soek na afsluiting – en om die wrak te vind van die Ratel waarin ’n makker op die laaste dag van die oorlog gesterf het. Die Brug vertel van hul reis van jong man na veteraan en gee ook ’n stem aan die vroue in hul lewe. Dit is ’n verhaal van ontnugtering, maar ook van trotse kameraderie en genesing.
3

Anton Goosen – Liedjieboer – Hanlie Retief
Na 40 jaar se rock ‘n roll in Afrikaans vertel die legendariese Anton Goosen nou sy volle verhaal, soos neergepen deur die bekroonde joernalis Hanlie Retief. Die vader van Afrikaanse rock skryf oor sy grootwordjare in die Vrystaat, sukses en roem, sy lewe op die langpad, die Musiek-en-Liriek-era, die hoogtepunte en teleurstellings langs die pad. Aangrypend, eerlik en vol humor: Dit is die lewe van Anton Goosen. ‘n Lewe teen die stroom op.
4

Erfgeld is swerfgeld – Johan Bakkes
Johannes Bakkes is die geliefde skrywer van andersoortige reisverhale soos Ons is moertoe en Norrevok. Hierdie boek is meer persoonlik; hier skryf hy homself oop. Die subtitel is Reis na binne, die -ste -ste plek – hy is altyd op soek na die koudste, warmste, hoogste, droogste plek om te besoek. Hier word humoristiese vertellings oor sy reise afgewissel met sy pa se wolhaarstories en lewendige geskiedenisvertellings. Hy en sy seun vind aanklank tydens nog ‘n onbesonne reis. Sy liefde vir sy familie is tasbaar. Gerrit Rautenbach noem die manuskrip “sy beste skryfwerk nog” en “blootstellend anders”. Bakkes lê homself bloot in sy weerloosheid, vrees en krankheid. Hy wys wie hy was in die ou bedeling en hoe hy probeer hand bysit in die nuwe bedeling, wat hy nie gekies het nie. Dis ‘n dapper, aangrypende reis vol humor en deernis.
5

Maggie – My lewe in die kamp – Maggie Jooste
Margaretha (Maggie) Jooste was net 13 jaar oud toe die Anglo-Boereoorlog uitbreek en haar lewe ingrypend verander. Na maande in huisarres word sy en haar gesin na ‘n konsentrasiekamp in Natal gestuur. Hier ervaar hulle honger, onsekerheid en verlies, maar ook soms op ‘n verrassende wyse die goedhartigheid van Britse soldate. Hierdie baie persoonlike vertelling, in haar eie woorde, is ‘n verhaal van swaarkry en erge ontbering, maar ook van medemenslikheid en vriendskap oor vyandsgrense heen.
6

Kanaän – Sophia Kapp
Kan hierdie liefde se prys betaal word? Hulle is pole uit mekaar: Hy is ’n eenvoudige Afrikanerboer uit die Vrystaat; sy is die gesofistikeerde dogter van ’n skatryk Engelse sakeman. Hulle moes nooit eers ontmoet het nie, maar op 17 Junie 1944 loop sy in sy arms in, en wanneer haar wêreld om haar in duie stort, bied hy vir haar ’n uitweg – ’n jaar op Kanaän as sy vrou. Dit behoort haar die geleentheid te gee om die stukke op te tel, besluit Catherine, maar kort voor lank besef sy dat sy aan Chrisjan meer het as al haar gesofistikeerde Johannesburgse vriende. Al wat sy nie weet nie, is of sy die verskriklike prys wat hierdie liefde van haar vereis, sal kan betaal.
7

1 Recce – Volume 2: Agter Vyandelike Linies – Alexander Strachan
Daar was hewige vuurgevegte, oorwinnings, maar ook verliese . . . 1 Recce, Agter vyandelike linies, neem die leser tot in die Recces se ‘binnekamer’. In hul eie woorde vertel Recce-operateurs van die lewensgevaarlike operasies wat hulle onder groot geheimhouding in die laat 1970’s in Angola en die voormalige Rhodesië uitgevoer het.
Die leser sien die operateurs sweet in die vliegtuig of duikboot en beleef die gevaar wanneer hulle in die nagdonker riviere met krokodille trotseer. Die spanning en adrenalien loop hoog wanneer die Recces springstof in ‘n treintonnel diep in vyandelike gebied plaas of ‘n groot brandstofbergingsplek in ‘n Angolese hawestad in ‘n vlammehel omskep.
Die wat daar was, vertel van die spanning, afwagting, vrees, adrenalien, moegheid, dors en hartseer wat hulle beleef het, maar ook van die humoristiese momente en die vriendskapsbande wat gesmee is. 1 Recce, Agter vyandelike linies is Alexander Strachan, bekroonde skrywer en gewese Recce, se opvolgboek op sy topverkoper: 1 Recce, Die nag behoort aan ons.
8

Bloedsteen – Irna van Zyl
Dinge ontrafel vinnig wanneer iemand speuradjudant Storm van der Merwe se ma voor ‘n trein op Paddington-stasie instamp. Storm moet Londen toe, al is sy tot oor haar ore met ‘n moordsaak: Beebee Bukelwa Babu, befaamde Suid-Afrikaanse modeontwerper, lê leweloos in ‘n luukse hotel op Hermanus.
Hande om Storm te help met die ondersoek na Beebee se dood is min, want protesaksie lê die dorp lam. Boonop sweep ‘n charismatiese profeet die skare tot ‘n histerie op. Storm besef gou dit is nie net haar ma se lewe wat in gevaar is nie. Sy is self ‘n teiken. Intussen probeer haar ekskollega, Andreas Moerdyk, nou ‘n privaat speurder, om ‘n skaars rooi diamant van onskatbare waarde op te spoor. Van Londen se donker strate tot Antwerpen se diamantebeurs, van Port Nolloth se verlate kuslyn tot Storm se geliefde Hermanus, ontvou die storie in Irna van Zyl se derde misdaadroman teen die pas van ‘n sneltrein.
9

Hans steek die Rubicon oor – Rudie van Rensburg
Hans loop op 90 nié met ’n loopring nie. Sy orige kinders maneuvreer hom vanuit hul tuistes oorsee in Huis Madeliefie in, maar Hans skop nog kliphard, en gou lei hy ’n ouetehuisopstand teen die onhoudbaar drakoniese matrone. Dis daggakoekies, ontkleedansers en vet sports net waar jy kyk in hierdie hoogs komiese roman oor oudword op eie terme.
10

Negentien minute – Jodi Picoult
Nadat hy jare lank wreed verbaal en fisiek deur klasmaats geboelie is, knak die 17-jarige Peter Houghton een oggend. Binne slegs negentien minute sterf tien inwoners van die dorp Sterling in Amerika.
Die geskokte gemeenskap is vasberade dat geregtigheid moet geskied. Soos die hofsaak ontvou en Peter getuienis lewer, kom dit egter aan die lig dat die inwoners van Sterling ’n rol daarin gespeel het om ’n innemende, liefdevolle seun in ’n moordenaar te laat verander.
In ’n era waarin boeliegedrag toenemend ’n probleem is, hou hierdie meesleurende boek talle insigte in vir ouers, onderwysers en tieners.
WEN maandeliks R500 met Afrikaans.com en Exclusive Books – teken in op ons nuusbrief om in aanmerking te kom!
Klik hier.