“In die moeilike tyd, het die fees soos ’n feniks uit die as herrys, en die taak voor ons met durf en daad aangepak. Hulle verskaf aan kunstenaars hoop en bowenal die geleentheid om te werk. NATi is saam met die res van die land en ons kunstenaarsgemeenskappe opgewonde om te sien hoe die platform gaan werk. En daarom ondersteun ons graag die fees met hierdie unieke inisiatief. ” – Cornelia Faasen, Hoof- Uitvoerende Beampte: Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi)
Die Covid-19-pandemie het die wêreld op sy kop kom draai en daar moes vinnig aangepas en planne beraam word om te oorleef in hierdie uitdagende ekonomiese tye. Dit is veral ons kunstenaars wat swaar trek – nou meer as ooit. Die Vrystaat Kunstefees was voor in die koor om hierdie uitdagings aan te pak en beoog nou om die fees in Oktober deur middel van verskeie aanlyn inisiatiewe aan te bied. Soos wat die feesdirekteur, dr. Ricardo Peach, sê: “Ons het besluit om aan te gaan, want daar was baie projekte wat ons aanlyn kon doen. En ons wou geleenthede skep vir almal in die kunsbedryf. Almal moet tog eet!” Dit is vanjaar die fees se twintigste bestaansjaar.
“Hierdie inperkingsperiode het ’n uitstekende geleentheid gebied om beduidende aanlyn aanbiedings te ontwikkel wat in die toekoms jaarliks aangebied kan word, nie net aan plaaslike gehore nie, maar ook aan nasionale en internasionale gehore.”
Hoewel die volskaalse digitale fees eers in Oktober plaasvind, was daar reeds ’n lusmaker van wat aanlyn gehore te wagte kan wees. Die Snelstroomsluipkyk is vanaf Mei tot Julie 2020 aangebied en is saamgestel om die moontlikhede van aanlyn optredes en betaalpunte te ondersoek en ook te sien hoe mense reageer – “wat werk en wat nie werk nie – sodat ons die nodige aanpassings kon maak”. Gehore kan uitsien na musiek, komedie, drama, visuele kuns, dans, eksperimentele kuns, film en nog baie meer. “Alles is daar! Jy moet net jou eie mampoer byderhand hê en jou eie pannekoeke bak!”
Hoe ontvang feesgangers hierdie aanlyn aanbod? Ricardo vertel dat hulle nou so halfpad daar is. “Hoe meer mense begin verstaan hoe dit werk, hoe makliker gaan dit word. Party mense sukkel nog met die proses, maar ek dink veral as gesinne saam kyk en die meer tegniese mense in die gesin die ander help om die vertonings op die TV te stroom, hoe meer sal mense dit geniet.”
Hoogtepunte om na uit te sien:
Sê feesdirekteur dr. Ricardo Peach: “Ons beplan groot! Marion Holmes en Dowwe Dolla, Ilne Fourie se die-skunnige-skinnery-van-Smitstraat-se-skinderaars-darem!, Anton Goosen en Zolani Mahola, ’n nuwe aanslag van DEURnis-digitaal en met die ondersteuning van die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi), werke soos Die Besoek (Bartho Smit se vertaling van Friederich Dürrenmatt), Sonkykers met Gerben Kamper en Mount Maak se Amuse Bouche, is maar enkele voorbeelde van ’n lang lys hoogtepunte. “
Vryspraak Digitaal – Suid-Afrika se eerste aanlyn boekefees
Vryspraak Digitaal is ’n digitale uitbreiding van die Vrystaat Literatuurfees en sal Suid-Afrika se eerste aanlyn boekefees wees. Die program bestaan uit 45 aanbiedings, wat stelselmatig deur die loop van September bekendgestel sal word. Die program sal Maandag tot Vrydag aangebied word, met twee, en soms drie, aanbiedings per dag. Dit sluit in: boekbekendstellings, asook boek- en paneelgesprekke, digkunsaanbiedings, en kinderstorie-ure.
Volgens Corneli van den Berg, koördineerder van die Literatuurfees, is die program uiteenlopend en divers. Enkele hoogtepunte sluit in memoirs (Anton Goosen en Basetsana Kumalo), spanningsverhale (Irna van Zyl en Anel Heydenreich), kortverhale (Madré Marais en Jolyn Philips), bekroonde romanskrywers (Anchien Troskie, Christine Barkhuizen-le Roux, Francois Smith), niefiksie (Albert Blake, Heinz Modler, Ena Jansen, André le Roux), vertaling (Daniel Hugo en Kobus Geldenhuys), aktuele onderwerpe (Jana Marx, Susan Cilliers, Jan-Jan Joubert, Oscar van Heerden, Ivor Price), kinderstories (Antoinette Louw en Fanie Viljoen), digkuns (Jolyn Philips, Diana Ferrus, Mongane Serote, De Waal Venter, Petrovna Metelerkamp/Jeanne Goosen, Pieter Odendaal), asook verskeie internasionale skrywers (Mira Feticu, Jerzy Koch, Nachoem Wijnberg, Bart de Graaff).
Corneli sê voorts: “Ons is tans besig met voorafopnames van die verskeie aanbiedings. Hierdie opnames sal deur die loop van September op die kunstefees se webbladsy bekendgestel word. Om ‘n geleentheid te skep vir gehoordeelname beoog ons om ook Zoom-geleenthede te hê wat oop sal wees vir die publiek en wat lewendig na Facebook gestroom sal word.
Virtuele Vrystaat – Klank & Klassiek
September 2020
Die Virtuele Vrystaat Klank & Klassiek is ’n nuwe inisiatief van die Vrystaat Kunstefees om klassieke musiek en klankkuns in die Vrystaat te bevorder en te vier. Dit bied ’n voorafbetaalde, aanlyn geleentheid en is ’n kombinasie van vooraf opgeneemde en regstreekse sessies. Dit behels interaktiewe digitale foyers waar gehoorlede voor elke vertoning saam kan vergader, asook lewendige vraag-en-antwoord-sessies met die musici na elke uitvoering. Dit bied ook ’n platform vir plaaslike en nasionale kunstenaars asook werksgeleenthede vir kunstenaars en tegniese personeel.
Snelstroom
Oktober 2020
Snelstroom is gemaak vir almal en deur almal. Die program sal gevul word met bekende en nuwe gesigte. Gehore sal na regstreekse optredes kan kyk en wêreldwye samewerking sien, met kunstenaars wat iets nuuts skep vir almal om te geniet.
Daar sal ook geleentheid wees om kursusse by te woon en te gesels met mense wat jy nooit voorheen gedink het moontlik sal wees nie. Die program word ontwerp om alles so toeganklik as moontlik te maak, insluitend vernuftige lae-tegnologie platforms en nuwe webreekse, asook deelname van die
publiek in die skepping van nuwe werk. Byvoorbeeld: Skep kortfilms en wees deel van die fees se filmkomponent, of toets jou skryfvaardighede deur middel van toneelstukvoorlesings.
Crossings Aanlynlaboratorium
November 2020
Crossings bied die geleentheid vir jong kunstenaars om deur middel van die internet verbind te word
en om mekaar se ruimtes oor te steek en binne te gaan, met die doel om nuwe werke te skep. Jong
choreograwe, beligtingontwerpers en komponiste sal idees aanlyn deel met die doel om uiteindelik met die ondersteuning van ’n jong, kreatiewe fasiliteerder drie nuwe kontemporêre danswerke te skep.
Hoe werk die aanlyn proses?
’n Paar maklike stappe en jy kan solank jou stoel regskuif…
- Klik op die produksie wat jy wil sien.
- Registreer as jy nog nie het nie.
- Koop of “huur” ’n kaartjie met ’n kredietkaart of Paypal.
- Jy het 48 uur om die vertoning te kyk – waar en wanneer jy wil.
Om kaartjies te koop:
Gaan na die Vrystaat Kunstefees se webwerf. Klik hier.