Onderwysers, studente, dosente en taalkundiges is konstant besig om te soek vir inligting oor Afrikaans en die reëls wat die onderbou van die taal vorm. Die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) het hierdie behoefte raakgesien en onlangs ’n Afrikaanse taalkundepyplyn bekend gestel wat nie net ’n eerste vir Afrikaans is nie, maar ook uniek is in die wêreld.
Na vele gesprekke met kenners op die gebied van taalkunde, is daar besluit dat ‘n moderne, wetenskaplik begronde beskrywing van Afrikaans se grammatika aan die taalgemeenskap beskikbaar gestel moet word. Dit het gelei tot die skep van die Taalportaal.
Uit die Taalportaal vloei daar ‘n Algemene Afrikaanse grammatika (AAG), ‘n Afrikaanse skoolgrammatika (ASG) en die Taalonderrigportaal waar die Afrikaanse grammatika vir verskillende gebruikers van die taal beskikbaar gestel word.
Die Taalonderrigportaal is ’n oop, digitale ruimte waarin gehalteversekerde, akademies begronde en geverifieerde vakinhoud oor Afrikaans se grammatika vir die hele taalgemeenskap beskikbaar gestel word. Die Taalonderrigportaal word gratis aangebied met die doel om ’n platform te skep waar dosente, onderwysers, taalkundiges en die algemene publiek toegang kan kry tot taalhulpbronne sonder om ’n duik in hul beursies te laat.
Die Taalonderrigportaal is tweeledig en bestaan uit die volgende primêre bronne: die Algemene Afrikaanse grammatika (AAG) en die Afrikaanse skoolgrammatika (ASG). Buiten hierdie twee afdelings, stel die Taalonderrigportaal ook inhoud in die vorm van video’s, blogs en podsendings beskikbaar wat die grammatika van die Afrikaanse taal toeganklik en bruikbaar maak vir soveel as moontlik gebruikers.
- Algemene Afrikaanse grammatika (AAG) is daargestel om die Afrikaanse grammatika volledig en omvattend in Afrikaans te beskryf. Hierdie afdeling is hoofsaaklik saamgestel deur gebruik te maak van insigte in Taalportaal, reeds bestaande navorsing uit betroubare grammatikabronne en insigte van AAG-skrywers wat met voorbeelde uit hedendaagse Afrikaanskorpusse werk.
Hierdie afdeling is spesifiek gemik op Afrikaanse taalkundenavorsers en -dosente, studente wat die vak Afrikaans op voor- en nagraadse vlak neem, Afrikaanse onderwysers en persone wat die taal interessant vind en antwoorde op sekere grammatikavrae verlang.
- Die Afrikaanse skoolgrammatika (ASG) daarteenoor, is spesifiek gemik op onderwysstudente en Afrikaansonderwysers in die VOO-fase. Die ASG se inhoudsfokus is baie wyer as wat deur die skoolkurrikulum, oftewel die KABV (CAPS) ondersteun word. Die ASG se doelwit is egter om, met die voltooiing van die projek, die vereistes soos uiteengesit in die kurrikulum, te ondervang en die nodige inhoud te verskaf sodat ouers en onderwysers aan hierdie vereistes kan voldoen.
Aangesien die Afrikaanse grammatika op ’n daaglikse basis ontwikkel en verander, sal hierdie bronne deurlopend aangevul, aangepas en versterk word.
Die eerste onderwerp wat op die platform onder die loep kom, is woordsoorte. Die rede hiervoor is dat woordsoorte die hoeksteen van die meeste taalkundige kwessies of vrae is. Die uitbou van hierdie afdeling is steeds in proses en daar word gepoog om dit teen die einde van 2020 bekend te stel. Verder word daar ook beplan om binnekort afdelings oor sintaksis en fonologie beskikbaar te stel.
Die tipe Afrikaans wat in die grammatikawêreld onder die vergrootglas geplaas word, is algemene Afrikaans – die Afrikaans wat die wydste voorkom. Dit is die gesproke en geskrewe Afrikaans van moedertaalsprekers aan die begin van die 21ste eeu – die tipe Afrikaans wat veral in die hoofstroommedia voorkom.
Besoek gerus die Taalportaal en die Taalonderrigportaal deur hier te klik en verken die wye wêreld van die Afrikaanse grammatika.