Dit is weer daardie tyd van die maand waar Afrikaans.com hande neem met NB-Uitgewers vir jou maandelikse boekekeur – ’n keuse van lekker leesstof om jou boekrak te laat bult hierdie winter. Hierdie maand doen ons dinge ’n bietjie anders en kyk ons na NB-Uitgewers se gunstelingkinderboeke. Bederf jou kinders hierdie winterseisoen met treffers soos Pippie Langkous en berei hulle voor vir die eisteddfod met Eisteddfod-pret 2.
In hierdie lys van topboeke is daar ook ’n paar ou gunstelinge wat jy dalk uit jou eie kinderdae sal herken. Watter van hierdie boeke het jy as kind verslind? Laai ’n gratis hoofstuk uit elk van die boeke af en neem jouself (en jou kinders!) op ’n reis na gister.

1
Die vlerke van naaldekokers
Cecilia Steyn
ISBN: 9780798180252
Uitgewer: Human & Rousseau
Die ongeluk het Kylie se lewe uitmekaargeruk. Nie net het sy haar linkerhand verloor nie, maar haar jonger sussie, Lieke, is vir altyd weg. Boonop is sy die een wat al vir maande lank haar ma se geheim moet ronddra.
‘n Onbeplande road trip saam met haar eksentrieke skrywer-oupa en sy aantreklike jong assistent, Lee, bied vir Kylie die perfekte kans om te ontsnap. En miskien is dit haar geleentheid om iets vir Lieke te doen; om ‘n paar goed op haar sussie se bucket list af te merk: photobomb iemand famous, leer om te surf, maak ‘n verskil, plant ‘n boom, soen ‘n mooi ou . . .
Dit word ‘n vakansie wat Kylie nooit sal vergeet nie. ‘n Reis terug na haarself, na heelword.

2
Bitterbosbende 1
Anzil Kulsen, Stephen Wallace
ISBN: 9780624090434
Uitgewer: Tafelberg
Kurt, sy suster Nieke en hul maats is in graad 5 in Laerskool Bitterbos, en bly in die koshuis. Die nuwe skoolhoof waai soos ‘n yskoue onweerswind by die eerste saalbyeenkoms in. Daar’s ‘n NW-taak wat moet klaarkom, as groepwerk! Toe Kurt-hulle se idee vir ‘n sonkrag-oondjie TE goed werk en hulle ‘n mini-ontploffing in die vierkant veroorsaak, word hulle na die hoof se kantoor ontbied – met verrassende gevolge . . .

3
Die Pippie Langkous-omnibus
Astrid Lindgren
ISBN: 9780798172066
Uitgewer: Human & Rousseau
In 2020 vier Pippie ’n spesiale bestaansjaar en om dit te vier, word daar onder andere ’n musiekblyspel in Northampton (VK) en ’n toneelstuk vervaardig! Pippie, die koddige klein heldin met die sproete en rooi vlegsels, vier haar 70ste bestaansjaar met hierdie spesiale omnibus-versameling van drie klassieke Pippie-titels: Pippie Langkous, Pippie Langkous gaan aan boord en Pippie Langkous in die Suidsee. Pippie versin kostelike stories!

4
Die lewe volgens Wim Vermaak
William Oosthuizen
ISBN: 9780798180313
Uitgewer: Human & Rousseau
Wim Vermaak se lewe is onderstebo. Hy is op die punt om graad 9 te dop, omdat sy aandag in die LO-klas afgetrek word deur ‘n meisie. Sy tweelingsussie wil opsluit deel word van Mars One-sending na Mars. Hul verstrooide ouma val vir ‘n internetslenter en dan is daar Harold, sy ma wat kuns doseer se menslike geraamte, wat die studente in opstand bring en konflik tussen sy ouers saai. Dalk is Wim se LO-taak die antwoord om dinge weer op koers te kry.

5
Sindikaat
Annerle Barnard
ISBN: 9780624087601
Uitgewer: Tafelberg
Die sestienjarige Paul is verwikkeld in ‘n gevaarlike hofsaak. Dan ontdek hy per abuis ‘n smokkelary en dinge word baie gevaarlik vir hom en sy vriende, Adriaan en Karlien. ‘n Vlugtog deur Botswana en Zimbabwe volg – met die hulp van die voormalige recce Bossie. Die vakansie, wat eintlik ‘n avontuur moet wees, ontaard in ‘n nagmerrie.

6
Toring van Jasmyn
Derick van der Walt
ISBN: 9780624087519
Uitgewer: Tafelberg
Toring van Jasmyn speel in die kleurvolle strate van Istanboel af. Markus Combrink reis saam met sy pa, suster en “nuwe boetie” Neil (hy trek in by hulle na sy ouers se dood), na dié Turkse stad. Terwyl hulle pa werk, verken die tieners die pragtige besienswaardighede en raak bevriend met twee plaaslike tieners, Meryem en Sahib. Daar is politieke onrus, en bomaanvalle deur plaaslike terreurgroepe dreig om die Combrinks se vakansie in ’n nagmerrie te omskep. Boonop worstel Markus met sy ouers se onlangse egskeiding en moet Neil die verlies van sy ouers verwerk. Wanneer Markus se suster egter ontvoer word, begin die poppe behoorlik dans. Die vakansie ontaard in ’n avontuur wat die Combrinks nie sommer sal vergeet nie.

7
Saartjie Omnibus 8
Bettie Naudé
ISBN: 9780798180344
Uitgewer: Human & Rousseau
In die laaste omnibus in hierdie reeks, wat nóg drie gewilde Saartjie-stories bevat, word Saartjie Baumann, die langbeenmeisie met die wipneus, kuiltjies in die wange en duisende duiweltjies in haar oë, se avonture voortgesit. Saartjie verdedig haar boetie, Apie, wanneer hy van diefstal beskuldig word. Sy moet ook tussen haar boesemvriendin en ‘n koshuismeisie kies as kaptein van die netbalspan en sy neem deel aan ‘n groot kompetisie wat ‘n reis na Amerika as prys aanbied.

8
Trompie Omnibus 8
Topsy Smith
ISBN: 9780798180375
Uitgewer: Human & Rousseau
Die laaste omnibus in hierdie reeks bevat nóg drie gewilde Trompie-stories. Die sproetgesig Grootkaptein en die Boksombende se avonture word voortgesit en Trompie en sy maats besluit om in die kloof te gaan swem en dan teen die berg op te klim en die grotte daarbo te verken. Trompie ontmoet ook die mooiste meisie wat hy nog ooit gesien het en ding mee teen sterk kompetisie in die atletiekspan.

9
Dagboek van ’n dork: Stories van ’n nie-so-fantastiese lewe
Rachel Reneé Russel
ISBN: 9780798180757
Uitgewer: Human & Rousseau
Nikki Maxwell is nie gewild nie. Eintlik is sy die teenoorgestelde van gewild. Sy’s ’n absolute dork. Nikki hoop sy kan vriende by die nuwe skool maak en dat haar dorkdae nou verby is. Maar die lewe is nie so eenvoudig nie. Wanneer sy vir die kunskompetisie inskryf, vind sy uit dat die mislikste meisie in die skool ook nou haar grootste kompetisie is. Wat staan ’n dork te doen? Lees Nikki se dagboek vol drama en dinge en maak reg om die dork in jou ‘n drukkie te gee.

10
Eisteddfod-pret 2:
Nog gedigte, monoloë en samesprake vir die laerskool
Gloudine Kellerman, Jonelle du Toit, Tumi Steyn
ISBN: 9780798180245
Uitgewer: Human & Rousseau
Hierdie versameling van 108 oorspronklike gedigte, 24 monoloë en 20 samesprake volg op die baie suksesvolle eerste titel in die reeks en is weereens perfek geskik vir laerskoolleerders. Elkeen van hierdie werke het die potensiaal om die hoogste punte by ‘n eisteddfod te verwerf. Louise Lachenicht se riglyne vir ouers, onderwysers en afrigters – met ‘n fokus op gedramatiseerde poësie – verseker dat elke deelnemer hul beste werk kan lewer.