’n Mens hoor dikwels iemand sê: “Ek het griep …” Maar, is dit wat dit is? Of is dit bloot ’n slegte verkoue? En wat staan my as ouer te doen as ek vermoed my kind het griep en nie net ’n verkoue nie. Die beste is om jou kind dop te hou en sodra jou kind ’n koors ontwikkel en simptome vererger in plaas van verbeter, is dit dalk raadsaam om jou dokter te raadpleeg. Onthou net, as jy onseker voel, gaan dokter toe. Niemand gaan dink jy is oorversigtig nie. Dit is tog beter om liewer bang Jan as dooie Jan te wees!
Afrikaans.com verduidelik waarna jy moet oplet die seisoen.
Die verskil tussen verkoue en griep
Albei word deur ’n virus veroorsaak en alhoewel van die simptome dieselfde is, is daar tog simptome wat net by griep voorkom. ’n Verkoue is dikwels net ’n ligte infeksie van die boonste lugweë , met simptome wat skielik begin, maar oor ’n paar dae ontwikkel en binne sewe dae vanself opklaar, met soms ’n hoes wat nog ’n rukkie aanhou. Griep (influensa) is gewoonlik heelwat ernstiger, begin skielik en kan jou hele liggaam aantas en soms ook tot sekondêre infeksies lei.
Die simptome en behandeling
Verkoue ontwikkel oor ’n dag of vyf en die eerste tekens is gewoonlik ’n krapperige gevoel in die keel en ’n waterige neusafskeiding:
- Jy voel effens moeg.
- Jy nies, hoes en het ’n loopneus of toe neus.
- Jy het gewoonlik nie ’n koors nie, maar kan soms wel geringe koors hê.
- Jou spiere kan seer wees, jou keel kan seer of krapperig voel.
- Jou oë water.
- Jy kan ’n hoofpyn hê.
Behandeling
- As jy ’n verkoue het, is dit belangrik dat jy die eerste twee tot drie dae tuis bly en rus.
- Dit is ’n virusinfeksie en kan dus nie met antibiotika behandel word nie.
- Daar is talle oor-die-toonbank medikasie wat sonder ’n voorskrif gekoop kan word en simptome behandel, bv. onstuwingsmiddels of parasetamol.
- Drink baie water.
- Raadpleeg ’n dokter as jy na ’n week nie beter is nie, of ander simptome ontwikkel, aangesien dit op ’n sekondêre infeksie (sinusitis of streptokokkusinfeksie) kan dui wat antibiotika kan vereis.
- ’n Aanhoudende gehoes kan ’n teken van asma of brongitis wees.
Griep word deur influensa-virusse veroorsaak, kom vinnig en tref jou soos ’n ton bakstene:
- Jou simptome is erger as die van verkoue.
- Jy voel swak en moeg – geen energie nie. Dit kan tot twee weke lank duur.
- Jy het ’n matige tot hoë koors wat gewoonlik ’n dag of twee, maar selfs tot vyf dae lank, duur.
- Jou hoes is droog, jou neus loop of is toe.
- Jy het kouekoors.
- Jou spiere pyn (algemene lyfseer).
- Jy het kwaai hoofpyn, seer oë en keelseer.
- Naarheid en braking kan soms voorkom, maar is meer algemeen by kinders.
- Tussen dag twee en vier van die siekte sal die respiratoriese simptome begin toeneem.
Behandeling
Griep klaar gewoonlik vanself op, maar soms is mediese behandeling nodig.
Kinders: Kry dadelik mediese behandeling indien jou kind die volgende simptome ontwikkel: haal swaar asem, geïrriteerd, slaperig, wil nie eet of drink nie, sukkel om wakker te word of te reageer.
ONTHOU ook om NOOIT ASPIRIEN vir kinders te gee nie. (Sien blokkie vir verduideliking.)
Doen die volgende:
- Kry genoeg rus en vloeistowwe.
- Gebruik ontstuwingsmiddels en pynstillers wat sonder voorskrif gekoop kan word om simptome te verlig.
- Gebruik antivirale medisyne (slegs op voorskrif). Dit kan komplikasies verhoed, mits dit binne die eerste 48 uur nadat jy siek geword het, gebruik word.
- Kontak jou dokter dadelik as jou simptome vererger of as jy tekens van longontsteking ontwikkel: sukkel om asem te haal, baie seer keel, hoes met groen mukus (slym), hoë, aanhoudende koors, ’n toe bors.
Hoekom is aspirien gevaarlik vir jou kind?
“As kinders met virusinfeksies soos griep of waterpokkies aspirien drink, vergroot hul kanse op Reye se sindroom 35 keer … Reye se sindroom is ’n ernstige siekte wat breininflammasie en lewerskade kan veroorsaak.”
Aspirien word gereeld voorgeskryf en is een van die medisynes wat vir talle siektesimptome voorgeskryf word en ook baie effektief is, mits jy nie ’n risikogeval is nie.
Onthou: Koors is ’n normale verdedigingsmeganisme waarmee die liggaam infeksies beveg, veral omdat kieme nie teen hoe temperature kan oorleef nie. Aspirien werk dus eerder teen die liggaam se eie genesingsproses. Waak dus daarteen om jou kind onnodig koorswerende medisyne te gee. Kinders ouer as 16 jaar kan wel aspirien gebruik, maar dan moet daar ’n goeie rede daarvoor wees.
Raadpleeg ALTYD jou mediese praktisyn voordat jy aspirien/anti-inflammatoriese middels gebruik. Vermy aspirien:
- As jy sensitief of allergies vir NSAID’s is – dit is die groep middels wat aspirien bevat.
- Vir kinders en tieners met virusinfeksies.
- Wanneer jy onder andere ’n aktiewe maagseer het, voorheen ’n maagseer gehad het, aan Crohn se siekte ly, ulseratiewe kolitis het, of nier- of lewerprobleme het .
- Wanneer jy bloedverdunningsmedikasie gebruik.
- As jy asma het of jou neus dikwels loop.
Let wel: Parasetamol bly die veiligste keuse. (Lees altyd die etikette en vra jou apteker.)
Werk die griepinspuiting?
Daar is wel inentings vir influenza A- of B-virus en dus antibiotika, mits dit binne 72 uur nadat simptome begin het, gegee word. Daarom word die griepinspuiting liewer aanbeveel. Die griepinspuiting bou teenliggaampies teen infeksie van verskeie griepvirusse en alhoewel dit net gedeeltelike beskerming bied, keer dit tog dat ’n mens nie so ’n ernstige infeksie ontwikkel nie.
Raadpleeg jou dokter indien jy ’n hoërisiko-geval is om komplikasies te ontwikkel.
Risikogroep:
- Mense ouer as 50.
- Swanger vroue en kinders jonger as twee jaar.
- Mense met ’n verswakte immuunstelsel weens MIV/vigs, steroïedbehandeling of chemoterapie.
- Diegene met chroniese long- of hartsiektes.
- Mense met anemie of niersiektes.
- Mense in sorgfasiliteite, soos versorgingstehuise (ouetehuise).
Kan verkoue en griep voorkom word?
Virusse is taai en verkoues en griep versprei maklik en vinnig. Daarom is dit die beste om weg te bly van die werk af tot jou simptome verbeter sodat jy nie jou kollegas aansteek nie. Hou ook jou kind by die huis sodat skoolmaats nie aangesteek word nie. Doen ook die volgende:
- Bly weg van siek mense af.
- Moenie persoonlike items soos eetgerei, tandeborsels en handdoeke deel nie.
- Handhaaf goeie higiëne – vee oppervlakke soos jou rekenaar, selfoon en lessenaar gereeld af.
- Was jou hande gereeld met seep en water of gebruik ’n handreiniger met ’n alkoholbasis.
- Moenie met “vuil”/besmette hande aan jou neus, oë en mond vat nie.
- Hoes of nies in ’n snesie of in die vou van jou elmboog. Gooi die snesie dadelik in die vullisdrom en was ALTYD jou hande daarna.
- Oorweeg die gebruik van ’n neussproei om jou lugweë klam te hou.
- Oorweeg die griepinspuiting aan die begin van die griepseisoen (April/Mei).
- Bou jou immuniteit op deur genoeg te slaap, gebalanseerd te eet, gereeld te oefen, genoeg vars lug te kry, genoeg water te drink en jou stresvlakke te bestuur.
Kan ek oefen wanneer ek verkoue of griep het?
- JA – As dit ’n matige verkoue is, kan jy wel matig oefen. As jy egter koorsig voel, is dit beter om in die bed te klim of op die rusbank te gaan lê en uiteindelik jou gunstelingreeks te vraatkyk.
- NEE – As dit griep is, moet oefening tydens en na griep eers vermy word. Die rede hiervoor is dat jy inflammasie van die hartspier en/of perikardium om die hart kan ontwikkel.
Dus: As dit kom by die nare virusse wat maar tog te graag kop uitsteek wanneer die eerste wintersonnetjie water trek, is voorsorg altyd beter as nasorg. Volg die raad hierbo en kanse is dat die ergste wat die winter met jou gaan gebeur, is dat jy koud gaan kry.
Vrywaring: Die inligting verskaf in hierdie artikel dien slegs as riglyn en dra geen waarborg van feitelike mediese korrektheid nie. Raadpleeg steeds jou mediese praktisyn as jy vrae hieroor het.
Bronne:
https://solidariteit.co.za/verkoue-of-griep-ken-die-verskil/
https://www.netwerk24.com/Sarie/Myself/Gesond/jou-kind-en-aspirien-20170914