Wiskunde is dalk nie jou geliefde of beste vak nie … en jy sien maar op teen die eksamen. Tog is dit ’n belangrike vak wat baie deure oopmaak, veral as jy graag na skool verder wil studeer. Trouens, wiskunde maak deel uit van ’n mens se daaglikse lewe – meestal sonder dat jy dit besef. Wiskunde verg dalk meer moeite as van jou ander vakke, maar met die regte gesindheid en baie oefening kan jy beslis wiskunde bemeester.
Graad 12-voorbereiding vir eksamen
As jy in graad 12 is en besig is met wiskundevoorbereiding vir jou rekord- en eindeksamen, beveel Afrikaans.com aan dat jy sommer vandag nog by LitNET inteken om weekliks ’n video te ontvang. Lee-Ann West het ’n reeks van vier video’s vervaardig wat beslis gaan help met jou voorbereiding. Daar is ook hulp vir graad 8 tot 11.
Wiskunde is belangrik
Dalk is jy steeds nie oortuig dat wiskunde belangrik is nie, maar lees gerus verder as jy wil weet hoe wiskunde tot jou sukses kan bydra.
- Wiskunde ontwikkel jou kritiese denkvaardighede – soos byvoorbeeld om logies te redeneer, probleme op te los en kreatief te dink.
- Jy leer data analiseer – deur verskillende patrone te herken en toepaslike vrae te vra en metodes uit te werk om by die antwoord uit te kom.
- Wiskunde kan prakties toegepas word – byvoorbeeld wanneer jy jou maandelikse begroting vir kruideniersware moet uitwerk, of ’n koek bak en jou bestanddele akkuraat moet afmeet. Of om vinnig en akkuraat afstande, tye, gewigte en persentasies te bereken.
- Wiskunde open verskeie loopbaanmoontlikhede – met wiskunde as matriekvak, kan jy kus en keur uit studierigtings, veral op die gebied van wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde. Indien jy goed presteer, is die kanse om verskeie winsgewende en opwindende beroepe te beoefen soveel groter. Trouens, die meeste beroepe maak op een of ander manier gebruik van wiskundige berekeninge.
- Wiskunde is ’n universele taal – die basiese beginsels en wette van wiskunde help ons om die wêreld om ons te beskryf en verstaan.
Daar is verskeie hulpbronne beskikbaar vir onderwysers, ouers en leerders. Gaan kyk gerus hier:
- LitNET – wiskunde graad 12: Die eerste video deur Lee-Ann West waar sy deur ’n ou vraestel werk, is reeds gelaai. Klik hier.
- LitNET – wiskunde graad 8 – 11: Kies jou graad en begin die reis na wiskundige geletterdheid.Klik hier.
- Afrikaans.com se Leer- en onderrighulpblaaie. Klik hier en kies uit voorskools, op skool en na skool.