Alita Steenkamp vertel …
Baie mense droom daarvan om ‘n boek op die rak te kry … maar so ‘n droom kort ‘n plan! Navorsing, ure en ure se bloedsweet, taalversorging, ‘n uitgewer en dan redigering … maar eers moet jy ‘n storie kry om te vertel. Alita Steenkamp vertel Stefaans Coetzee, oftewel die Wit Wolf, se aangrypende storie … die Worcester-bomplanter wat op 19-jarige ouderdom verantwoordelik was vir vier mense se dood en tot 40 jaar tronkstraf gevonnis is. Dit is sy lewensverhaal, wat hyself vertel in haar nuwe boek: Wit Wolf – Die storie van die Worcester-bomplanter se bevryding.

Afrikaans.com het met haar gesels oor hoe hierdie boek die lig kon sien en die proses wat dit moontlik gemaak het.
Sy vertel …
In 2011 trou ek met die ondersoekende joernalis De Wet Potgieter, en my hele lewe verander. ʼn Verhouding waarin albei partye alewig op soek is na nuwe stories om te vertel, werk net soveel makliker, het ek gou agtergekom. De Wet sê altyd dat ek die mooi stories van die lewe skryf, en hy die donkeres. Sy loopbaan as ondersoekende joernalis het hom al met baie interessante, vreemde, kleurvolle en selfs donker karakters in aanraking gebring. Langs die pad het ek ook met sommiges van hulle kennis gemaak. Die spreekwoordelike – Never a dull moment! – is beslis hier ter sprake.
Een van die mense wat hy gereeld in die tronk gaan besoek het, is Eugene de Kock, voormalige bevelvoerder van Vlakplaas. Op ʼn dag het Eugene de Kock aan De Wet vertel van ʼn jong man wat saam met hom in die gevangenis is. Eugene was bekommerd oor hom, want sekere verregses in die tronk maak die lewe vir hom moeilik. Die jong man is Stefaans Coetzee wat saam met drie ander verregses, Jan Voetbal van der Westhuizen, Koper Myburgh en Cliffie Barnard bomme gebou het. Stefaans en Jan het op Ou Kersdag 1996 twee bomme in Worcester se sakekern geplant. Vier mense is dood in die ontploffings en 67 is beseer.
De Wet het besluit om die jong man te besoek, en het van tyd tot tyd met hom gesels. Dit was baie duidelik dat Stefaans sy bande met die verregses verbreek het en dat hy nie meer die ideologie van die Israel Visie, waaraan Jan van der Westhuizen hom bekendgestel het, aangehang het nie. De Wet het in 2012 ʼn artikel vir Daily Maverick geskryf met die opskrif: Meet the youngest Worcester Bomber – now a poster boy for reconciliation. De Wet was ook die dag op Pretoria-stasie toe ʼn groepie van die Worcester-slagoffers, wat op een of ander manier deur die ontploffings geraak is, in 2013 na Pretoria gereis het om Stefaans te ontmoet. Hy het toe reeds ʼn lang pad na rekonsiliasie en die soeke na vergifnis geloop.
Nadat Stefaans in Julie 2015 vrygelaat is op parool, het De Wet hom uitgenooi om vir ons te kom kuier. Met ons ontmoeting het ek vir Stefaans gesê dat ek baie graag sy lewensverhaal sal wil skryf. Ek het reeds ʼn voorsmakie gehad van wat ek te wagte gaan wees, aangesien ek vertroud geraak het met Stefaans se storie in die tydperk toe ek De Wet help redigeer het aan sy boek, Grusaam. In hierdie boek, uitgegee deur Penguin Uitgewers, is daar ʼn hoofstuk oor Stefaans wat met die verskyning van die boek nog in die gevangenis was.
ʼn Storie wat vertel móés word!
Alhoewel Stefaans aanvanklik gedink het dat De Wet sy boek moet skryf, kon ek hom oortuig dat ek dit sal doen. Enigeen wat al die geleentheid gekry het om Stefaans te ontmoet, sal weet dat ʼn mens nooit aan hom as ʼn moordenaar kan dink wanneer jy hom vir die eerste keer sien nie. Hy het sagte oë en selfs nou, in sy vroeë veertigs, ʼn seunsgesig. Die berou oor sy misdade, is opreg. Hy het vir geen oomblik probeer om die blaam te verskuif nie, maar staan pa vir sy verkeerde keuses en besluite.

‘n Kunswerk deur Stefaans Coetzee
Ons het in Januarie 2016 aan die werk gespring met die skryf van die boek. Ons het om ʼn tafel gesit en koffie drink en terwyl ek getik het, het ek terselfdertyd Stefaans se storie uit hom getrek. Wat is jou eerste herinneringe? Wat onthou jy van jou grootwordhuis? Hoekom was die tydperk in die kinderhuis vir jou erger as 19 jaar in die tronk? Dis maar ʼn paar van die vrae wat ek in sy rigting gegooi het. Stadig maar seker het ek al die inligting bymekaargemaak, en toe het ek gaan sit en die storie geskryf.
Dit was ʼn lang pad tot die boek uiteindelik in Junie 2019 verskyn het. Langs die pad het ek ongeduldig geraak, maar Stefaans het volgehou om te sê: “God se tyd is die regte tyd. Die boek sal verskyn wanneer dit moet.”
Die heel eerste uitgewery aan wie ek die boek gestuur het, het dit afgekeur. Daarna het ek dit aan nog ʼn ander groot uitgewery voorgelê, en dié het besluit om dit te publiseer. Salig onder die indruk dat die proses aan die gang is, het ek agteroor gesit. Net om maande daarna ʼn e-pos te kry waarin ek meegedeel is dat een of ander besluitnemer die boek anders vertel wil hê. Dit moet nie in die eerstepersoon geskied nie, maar wel in die derde persoon.
In daardie tyd was ek baie besig met Afrikaans.com se ambassadeursprojek, en ek het net nie die tyd gehad om dit te herskryf nie. Omdat dit Stefaans se eie storie was, het ek ook gevoel dat dit in sy stem vertel moet word. Ek het die manuskrip weggevat by daardie uitgewery, en nog twee ander gerekende uitgewers probeer. Een van hulle het aan my ʼn keurdersverslag gegee. Die keurder wat die boek onder oë gehad het, was duidelik nie beïndruk nie. Hierna het ek by twee kleiner uitgewers aangeklop. Albei was dadelik bereid om Stefaans se lewensverhaal uit te gee, maar ek sou self moes betaal vir die redigering. Geld wat ek nie gehad het nie.
Die grootste frustrasie was dat almal wat die boek gelees het, saam met my geglo het aan die boek. Tog sou ek nog so ʼn bietjie geduldig moes wees.
In Oktober 2018 het ek die boek vir Maryna Lambrecht van Tafelberg Uitgewers gestuur. Sy het dadelik van die boek gehou en vroeg in Desember 2018 het ek en Stefaans die kontrak geteken. Ek kon dit nie glo nie! Ons boek sou uiteindelik ʼn werklikheid word.
In Januarie 2019 is daar met die redigeerproses begin en Dolf Els het ʼn uitstekende taak as redigeerder verrig, al het sy 1000 vrae wat ek soms op ʼn dag moes beantwoord, my moedeloos gehad. Die soeke na foto’s vir die boek het ook baie opdraandes veroorsaak. Indien ek ooit weer iemand se boek skryf, sal ek van dag een af seker maak dat die foto’s al gesoek word. Dit kan ʼn nagmerrie wees om die nodige hoeveelheid foto’s in ʼn hoë kwaliteit te kry – veral foto’s wat dateer uit die jare voor digitale kameras!

Wit Wolf – Die storie van die Worcester-bomplanter se bevryding het aan die begin van Junie 2019 op die rakke geland. Ons is oneindig dankbaar oor die positiewe manier waarop die boek ontvang is. Willemien Brümmer se treffende storie oor Stefaans en ons boek het op Netwerk 24 verskyn, Dana Snyman het ʼn uitstekende resensie vir Rapport geskryf waarin hy selfs voorstel dat die boek as deel van lewensoriëntering op skool aangebied moet word. Mariné Lourens se storie oor ons boek wat op Maroela Media verskyn het, is ook aangrypend.
Stefaans se verhaal is een van onreg op vele vlakke. Sou hy ooit ʼn bomplanter geword het as hy in ʼn stabiele huis grootgeword het? Ek glo nie. Hoe sou sy lewenspad geloop het indien sy ma hulle nie kleintyd verlaat het nie? Indien hy nooit vir Jan Voetbol en sy Israel Visie-teologie raakgeloop het nie, sou hy soveel verkeerde keuses gemaak het?
Vir my was dit ʼn wonderlike voorreg om hierdie jong man se lewensverhaal te kon skryf. Dis ʼn verhaal van opregte berou aan die een kant en ware en ruimhartige vergifnis aan die ander kant. Dis ʼn verhaal van bevryding op vele vlakke! Stefaans se motto deesdae is Leef Liefde! Indien hierdie boek dit kan regkry om mense met liefde in hul oë na ander te laat kyk, om anders na vergifnis en rekonsiliasie te laat kyk, sal dit ons intens gelukkig maak.
Wit Wolf – Die storie van die Worcester-bomplanter se bevryding
Stefaans Coetzee & Alita Steenkamp
ISBN: 9780624088264