Die graad-eens van Laerskool Rietenbosch hou konsert voor hul nuwe Afrikaanse muur.
Skole in Paarl en Stellenbosch spog met Afrikaanse mure
Laerskool Rietenbosch
Laerskool Rietenbosch hou groot makietie en vier hul Afrikaanse muur!
Op 30 Augustus was dit Laerskool Rietenbosch se beurt om voortaan met hul eie Afrikaans.com-muurskildery te spog. “Danksy die inisiatief van Afrikaans.com is daar weereens opbouende werk gedoen aan die karakters en toekoms van jongelinge … in hul moedertaal, Afrikaans,” sê mnr. Lukas Hanekom, verteenwoordiger van die SAOOT: Moedertaalinisiatief. Mnr. Hanekom was een van die gaste tydens die spesiale geleentheid. Hy sê voorts dat as mense saamwerk sukses altyd ‘n gegewe is.
Afrikaans is in al sy prag deur die graad 1-leerders van die skool gevier met hul pragtige optrede van ‘Die alfabet’. Die rymkletser en Pasella-aanbieder, Oxjijin, het met sy besondere optrede vir almal ‘n kykie in sy lewensgeskiedenis gegee en so die leerders geïnspireer met sy storie oor al die uitdagings wat hy moes oorbrug en hoe sukses nooit in jou skoot val nie. Die gemeenskapskoördineerder, René Arendse, het die leerders meer vertel oor die uniekheid van hul moedertaal, dat hulle trots daarop moet bly en hoe die muur hulle vir altyd moet herinner dat enige droom met harde werk vervul kan word. Prof Niel Krige, voorsitter van die Het Jan Marais Nasionale Fonds, was die gasspreker tydens die spesiale program. Milanie Vosloo, hoofprojekbestuurder van Afrikaans.com, het ook die geleentheid bygewoon en is baie trots dat Laerskool Rietenbosch nou ook deel van die Afrikaans.com-familie is.
Laerskool Rietenbosch spog nou trots met ‘n pragtige Afrikaans.com-muurskildery wat nie net die skool verfraai nie, maar ook as ‘n baken van hoop en drome binne die gemeenskap van Cloetesville, Stellenbosch dien. Sterk skole skep sterk gemeenskappe!
“Met die onthulling van die Laerskool Rietenbosch in Stellenbosch se muurskildery, ‘n inspirerende projek van Afrikaans.com, is hierdie week op ‘n hoë noot afgesluit,” aldus Ria Olivier, projekbestuurder van die ATR (Afrikaanse Taalraad).
Mnr. Roy van Rooyen (skoolhoof van Laerskool Rietenbosch) gesels met leerders tydens die muuronthulling. ’n Baken van inspirasie en hoop … leerders van Laerskool Rietenbosch staan in verwondering terwyl die kunstenaars hul muur verf. Die leerders en gaste geniet die muuronthullingsprogram wat aangebied is deur Afrikaans.com. Van links: Lukas Hanekom (SAOOT), Danie van Wyk (Fedsas), René Arendse en Elmarie Wright (Afrikaans.com). Laerskool Rietenbosch se voltooide Afrikaanse muur. Die Afrikaans.com-span aan die werk! Milanie Vosloo (Afrikaans.com-projekbestuurder) het die muuronthulling saam met prof. Niel Krige (voorsitter van die HJMNF) bygewoon. Mnr. Irvin van Kerwel saam met hoofdogter, Edlin Kannemeyer. Oxijin (Remarques Gelderbloem) lewer ’n kragtige boodskap aan leerders van Laerskool Rietenbosh tydens die muuronthulling.

Charleston Hill Sekondêr in die Paarl spog met hul nuwe Afrikaanse baadjie
Afrikaans.com se muurkuns versier sedert 2017 talle skoolmure in die Wes-Kaap. Hierdie mure dien as inspirasie en motivering vir leerders om groot te droom in hul moedertaal, Afrikaans en om trots te wees op hul herkoms. Onlangs was dit Charleston Hill Sekondêr in die Paarl se beurt. Die Afrikaans.com-kunstenaars het twee dae lank geverf aan die muur terwyl die leerders nuuskierig nadergestaan het om die transformasie dop te hou. Uiteindelik is hulle beloon met ’n pragtige en kleurvolle muur wat nie net hul skoolgrond verfraai nie, maar ’n boodskap van hoop na die gemeenskap uitstuur. Hierdie onthulling vind op ’n latere geleentheid plaas omdat die leerders besig was met eksamens.
“Die pragtige helder kleure het my sommer opgewonde gemaak om skool toe te kom,” sê Habre Herandien,’n graad 11-leerder by die skool. “Baie van ons leerders kom uit baie moeilike omstandighede, maar hier by die skool kry ons die ondersteuning van ons onderwysers en hulle maak ons skool baie spesiaal,” vertel sy verder.
“Afrikaans.com is baie trots om Charleston Hill Sekondêr deel te maak van die Afrikaans.com-familie. Ons het ook bande gesmee met die plaaslike gemeenskapsradio, Radio KC, wat Charleston Hill Sekondêr benoem het as een van die skole om hierdie spesiale muurskildery te ontvang,” vertel René Arendse van Afrikaans.com.
“Die skool gaan ons nog baie sien en dit is ons voorreg om hier met ons muur die leerders en gemeenskap van die Paarl trots te maak op hul skool, hul gemeenskap en veral elkeen se unieke identiteit. Ons boodskap en veldtog hierdie jaar is #droomgroot in Afrikaans en hiermee wil ons leerders en die gemeenskap herinner dat elke suksesstorie met ‘n droom begin het en dat enige droom met harde werk vervul kan word,” aldus René.
Afrikaans.com beplan ‘n spesiale onthulling om hierdie muur saam met die leerders van Charleston Hill Sekondêr te vier!
Die muur van Charleston Hill Sekondêr is nou gereed vir die Afrikaans.com-span! Die Afrikaans.com-span spring aan die werk. Die eindproduk.