Dít is jou Afrikaans en dít is my Afrikaans …
Stel jou voor: ’n Gesin wat in die Kaap woon. Nog ’n huishouding in Kimberley, en nog een in Gauteng. Al dié mense praat Afrikaans, dikwels ook Engels, en ander tale tussenin. By die huis, by die werk, by die skool; met hulle familie en bure; met ander mense in hulle omgewing; kollegas by die werk; onderwysers, klasmaats. Hulle whatsapp mekaar gereeld en wanneer hulle skryf, skryf hulle min of meer dieselfde. Maar wanneer hulle praat, is elkeen se tongval net ’n bietjie anders, praat elkeen met net ’n effens anderse aksent.
Die standaardvariëteit van ’n taal (die skryftaal) is om verskeie redes ’n nuttige variëteit, maar dit is lank nie die enigste manier van praat of skryf nie. Dit bly ook nie staties nie. Standaardafrikaans word voortdurend deur al die ander variëteite en ook deur invloede van buite gevoed. Vergelyk radio-uitsendings vandag met die radio-uitsending van vroeër. Blaai in 2019 deur ’n Afrikaanse koerant of tydskrif en vergelyk die berigte, artikels en advertensies daarin met soortgelyke berigte, artikels en advertensies in ander uitgawes van dieselfde publikasies, maar van 1998, 1968, 1948.
“Standaardafrikaans is vriendelik en behoort aan elkeen wat die taal praat. Standaardafrikaans is nie ’n dialek nie… dis ’n ding wat gemaak word deur sy sprekers. Dit is ’n vriendelike kommissie wat Standaardafrikaans maak. Hulle kan hom maak soos sy sprekers wil hê dit moet lyk… maar ons moet die ding doen. Ons moet hulle rede gee om dit anders te maak deur dit te praat, te skryf en te spel”– wyle Prof. Christo van Rensburg.
Vandag heers daar ’n lewendige debat oor die herstandaardisering van Afrikaans waar streeksvariëteite méér prominent deel is van die standaardvorm. In ’n artikel op LitNET skryf André Gouws, ’n lektor aan die Skool vir Kommunikasiestudies op NWU se Potchefstroom-kampus oor hierdie geprek wat sedert die 1980’s al sterker gevoer word. Hy skryf dat hierdie proses allesbehalwe maklik is. “Waarom lyk dit of daar nog niks formeel gebeur het nie? Gebeur dinge dalk agter die skerms?” Hy het met ’n aantal kenners en belanghebbendes oor die pad vorentoe gepraat. Lees die volledige artikel hier.
Afrikaans is ’n lewendige taal en bly in beweging
In Suid-Afrika met sy elf amptelike tale verstaan meer as 7 miljoen mense Afrikaans, en uit die mond van elk van dié 7 miljoen klink Afrikaans net ’n klein bietjie anders as die Afrikaans van enigiemand anders. Soms is dit opvallend; soms hoor ’n mens die verskille net effens, maar vandat ons gebore word totdat ons doodgaan, ontwikkel daar by elkeen van ons ’n eie idiolek – ’n individuele manier van praat wat heeltyd klein veranderinkies ondergaan na gelang van hoe die manier waarop ons kommunikeer van buite beïnvloed word.
Die taalgebruik van die mense rondom ons; elke ander taal wat ons hoor en verstaan; die radioprogramme en die musiek waarna ons luister; die TV-programme en die flieks waarna ons kyk; ook wat ons lees, hoeveel ons lees en die tale waarin ons lees, bring verandering teweeg.
Hoe ontwikkel die standaardvorm?
Nederlands, waaruit Afrikaans ontwikkel het, het uit die tale van Germaanse stamme ontstaan; tale wat op hulle beurt uit die tale van vroeëre stamme ontwikkel het. Die Germaanse tale het op hulle beurt met die tale van naburige stamme, soos dié van die Kelte vermeng, en ook met die tale van invallers, soos die Romeine, wat die Germane se grond beset het. Van ’n standaardtaalvorm was daar in dié ontstaanstyd geen sprake nie. ’n Standaardvorm van Nederlands het eers in die 17de eeu sy beslag gekry; danksy die Sinode van Dordrecht, ’n vergadering van die Gereformeerde Kerke van die Verenigde Nederlande, wat in 1618 die regstreekse vertaling van die Bybel uit die oorspronklike Hebreeus, Aramees en Grieks, bepleit het.
Tot in daardie stadium het die Hollanders en hulle bure verskillende Bybelvertalings gebruik, onder meer die een van Maarten Luther, in Hoogduits. Nederlandse Bybels van dié tyd was almal vertalings van vertalings; dikwels onvolledig. In 1626 het die State-Generaal, die destydse parlement wat uit verteenwoordigers van al die verskillende Nederlandstalige streke bestaan het, die sinode se voorstel bekragtig. ’n Groep vertalers het aan die eerste amptelike Nederlandse Bybelvertaling begin werk. Drie aan die Ou Testament en drie aan die Nuwe Testament.
Die werk duur uiteindelik elf jaar. Om te verseker dat die sprekers van die verskillende Nederlandse dialekte almal die “nuwe” Bybel verstaan, ontsyfer die ses vertalers en hulle nasieners nie net die brontekste nie. Ook in die doeltaal moet hulle die hele tyd verskillende woorde teen mekaar opweeg, verskillende uitdrukkings en sinskonstruksies met mekaar vergelyk. Hulle moet besluit watter woorde om te gebruik, en watter nie; hoe daar geskryf en gespel moet word.
Die eindproduk – die Statebybel – is in 1635 voltooi. Die eerste eksemplare is in 1937 gedruk. En tot vandag toe word dié vertaling steeds in sommige protestantse kerke gebruik. Dit was nie net die eerste amptelike Bybelvertaling nie; dit het ook die basis van die geskrewe standaardvorm van Nederlands geword.
’n Gesproke standaardtaal het eers later ontwikkel. In die universiteitstede, waarheen die toekomstige elite gekom het om te studeer. Die geleerdes en studente, sprekers van verskillende dialekte, moes noodgedwonge hulle taalgebruik by mekaar aanpas. Geleidelik het ’n gemeenskaplike spreektaal ontwikkel. Die afstuderende dominees en notarisse het dié spreektaal met hulle saamgeneem na die plekke waar hulle hulle ná hulle studie gaan vestig het, en daar het hulle aansien as geleerdes daarvoor gesorg dat ook die plaaslike dialeksprekers dié variëteit, wat van buite na hulle geografiese gebied gebring is, as die standaardvorm van Nederlands begin beskou het.
Aan die Kaap, in die 17de eeu, het Afrikaans op ’n baie soortgelyke manier ontwikkel: Uit die interaksie tussen sprekers van verskillende dialekte: Nederlandse VOC-amptenare, maar veral matrose, en ook soldate; Duitsers; seelui van oral; die sogenaamde Vryburgers, grondbesitters van verskillende nasionaliteite; die inheemse Khoi-Khoin en Sangroepe; Hugenote uit Frankryk; slawe uit Indonesië, Arabië, Afrika, Madagaskar, waarvan baie, naas hulle onderskeie moedertale, ook die sogenaamde Maleis-Portugees van die tyd, ’n soort Aanleerdersportugees, magtig was.
In die monde van al hierdie mense saam is Afrikaans gevorm. As ’n omgangstaal en ’n spreektaal, lank voordat dit ’n skryftaal geword het. Eers in die jongste verlede, in die afgelope bietjie meer as honderd jaar, is Afrikaans doelbewus tot ’n skryftaal met ’n standaardvorm vir gebruik in amptelike dokumente en niefiksietekste ontwikkel.
Die standaardvorm, ook die standaardvariëteit genoem, is ten opsigte van streekskenmerke die neutraalste vorm van die taal wat as oorkoepelende vorm gebruik word. Aan ’n teks wat in die standaardvariëteit geskryf is, is gewoonlik moeilik af te lei uit watter deel van die land die skrywer kom, of uit watter sosiale groep. ’n Standaardvorm van Afrikaans word ook as gesproke vorm in toesprake, in hoër opvoeding, in regspleging, (in die verlede, maar vandag waarskynlik minder dikwels) in kerke, in administrasie en in die staatsdiens gebruik. Dit is die vorm van Afrikaans wat aangebied word aan sprekers van ander tale wanneer hulle Afrikaans aanleer.
Die variëteite van Afrikaans
Afrikaans.com se eerste reklameveldtog, ‘Hoe lyk JOU Afrikaans?’ was ‘n heerlike viering van dié unieke verskeidenheid binne ons taalfamilie. Kyk hier na enkele voorbeelde:
Afrikaans in die mond van sy mense
Wanneer groepe mense, in verskillende streke, byvoorbeeld, nie net met aksentverskille praat nie, maar hulle taalgebruik ook op ander maniere verskil, word in die taalkunde na die verskillende variëteite van ’n taal verwys. Afrikaans.com se reeks: Afrikaans in die mond van sy mense gee ’n oorsig oor die verskillende variëteite van Afrikaans. Klik hier