“Boodskapper van die gode is ’n keur uit die veelbekroonde joernalis Murray La Vita se rubrieke, sketse en essays. Sy aangetrokkenheid tot dit wat ongewoon en aweregs is, vind in talle van die stukke in hierdie bundel neerslag. Hoewel die leser melancholie, weerloosheid en selfs gebrokenheid in hierdie stories sal aantref, is daar ook heerlike humor en absurditeite.”
Riette Rust skryf in ‘n onlangse resensie op LitNET La Vita se bundel is toeganklik. Die taal stroom en stoom soos ’n sterk waterval. Inleidings noop jou om te wíl verder lees. Soos hier: “In sy 27ste jaar het Simon ’n eier gelê” of “Die dag toe hulle gekom het om die rob te skiet, was ’n juweel” of “Dit is die man met die hoed en die lang grys bokbaard, die man wie se naels aan sy regterhand swart geverf is en dié aan die linkerhand ’n verskeidenheid van kleure, wat my aan die dink sit.” …
Kyk hier na ’n video tydens die bekendstelling van die boek op 9 April 2019 by The Book Lounge. Izak de Vries van Lapa-Uitgewers het met Murray La Vita gesels.
Uittreksel:
Die vrou met die groot grysblou oë – p. 92-93
Die vrou het my oog getref terwyl ek in die OR Tambo-lughawegebou na ’n uitgang soek.
Haar lang, dik grysblonde hare was met ’n doek teruggebind op so ’n manier dat die hele voorkop bedek was deur die paisley-agtige krulle van die Indiese materiaal. ’n Mooi, lywige vrou in jeans. Sy het die allure van ’n hippie of pottebakker gehad.
Wat my heel eerste van haar opgeval het, was egter haar oë. Die groot grysblou oë. Want in daardie oë was hartseer onmiskenbaar aanwesig.
In die vliegtuig het ek my ore gespits toe die man agter my vertel hoe ’n skerpioen hom een nag aan sy neus gebyt het. Uit sy vertelling kon ek aflei dat hierdie relaas ’n reaksie is op iets wat vroeër aan hom gesê is deur die persoon wat nou weer aan die woord gekom het. Dit was ’n vrou.
Nou was die vrou besig om te vertel sy het pas hul plaas by Hazyview “opgepak”. Die aanvalle daar het sy beskryf. En die mense wat in die omgewing vermoor is. Sy en haar man het onlangs na ’n afgeleë dorp aan die Weskus getrek. ’n Hoë heining is reeds opgerig.
En sy het verlede week ’n elektrisiën daar gehad om ligte om die huis te sit. Hy wou weet hoekom so baie ligte. Sy het net gesê: “Sit op. Ek betaal.”
Sy het ook vertel haar man wil hê hulle moet die honde nou laat uitsit, want hulle gaan ’n gastehuis bedryf en die honde is te kwaai. Maar sy wil graag haar drie boerboele nog ’n rukkie hou totdat die eerste gaste kom.
Toe ons in Kaapstad land, het die man en vrou mekaar gegroet. Sy het gesê hy moet kom kuier as hy die dag op daardie dorpie by die see is. “Vra net waar bly die ou in die rolstoel,” was haar afskeidswoorde aan hom.
Ek het agtertoe gekyk. Vas in ’n paar groot grysblou oë.
Murray La Vita (Foto: Netwerk24)
Murray La Vita is ’n bekende Afrikaanse joernalis wie se werk gereeld in Die Burger, Beeld, en Volksblad verskyn. Hy is bekend vir sy insig en skerp waarnemings in sy profiele van bekende en uiteenlopende Suid-Afrikaners. Sedert 2006 skryf hy die gereelde “Oop Kaarte”, wat sy merkwaardige vermoë om terug te staan as skrywer en die onderwerp na vore te laat kom, demonstreer. Murray woon tans in Kaapstad, maar was jare in Gauteng, waar hy by koerante en tydskrifte gewerk het en meubels ontwerp het. (Bron: www.nb.co.za)
Titel: Boodskapper van die gode – Fabels en fantasieë van ’n vlieg teen die muurSkrywer: Murray La Vita
Uitgewer: LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799393217