
Baie ken haar vir haar aanlyn persoonlikheid, Katinka die Kat, maar Katinka Oosthuizen is veel meer as net dít. Met haar borrelende persoonlikheid en unieke styl het sy ’n internetsensasie geword wat vermaak vir oud en jonk bied. Haar Instagam-bladsy staan tans op nagenoeg 81-duisend volgelinge wat daagliks kan uitsien na grappige video’s.
Katinka het die moontlikhede wat sosiale media bied reeds vroeg raakgesien en al in graad nege begin met Instagram-video’s wat die spot dryf met alledaagse trivia. Vandag is sy ook ’n bekende gesig op die kassie as aanbieder van die program Klink soos Naweek met JOOX op VIA, DStv-kanaal 147.
Die 21-jarige van Mosselbaai het onlangs ook geskiedenis gemaak as die jongste deelnemer op Survivor SA waar sy haar staal moes wys in verskeie uitdagings op die eiland van Samoa.
Katinka is egter nie net bedrywig vóór die skerms nie, maar is ook besig om naam te maak vir haar werk agter die lens. Met haar besigheid, Katinka Productions, is sy vinnig maar seker besig om haarself te vestig as gesogte foto- en videograaf. Sy het onlangs aktrise Simone Nortmann en haar man Andries Pretorius se spesiale dag op kamera vasgevang.
Kyk hier na Afrikaans.com se onderhoud met Katinka by Weiveld tydens die skiet van ’n episode van Klink soos Naweek met JOOX.
Volg haar ook gerus op die volgende platforms:
Instagram: katinkadiekat_official
Vir oorspronklike Katinka die Kat-klere en ander bykomstighede: katseblad
Facebook: https://www.facebook.com/katinkadiekat/