(Foto: Annie Spratt, Unsplash)
Met die winter wat ons behoorlik in sy ysgreep het, het die tyd vir kaggelvure, warmsjokolade en die winterskoolvakansie nou aangebreek.
Om seker te maak die jongspan bly besig (en weg voor die televisie en rekenaar), het Petronell Vorster namens Afrikaans.com die nuutste en lekkerste leesstof gaan uitsnuffel.
Voor ons egter wegspring met die lys, lees eers hoekom dit só belangrik is dat jou kind lees.
Rede tot kommer
Dis geen geheim dat Suid-Afrika se opvoedkundige stelsel ’n krisis beleef nie. In 2017 het navorsing deur die Universiteit van Pretoria (UP) bevind dat 8 uit 10 graad 4-leerders nie op ’n gepaste vlak kan lees nie. Hierdie bevinding is gemaak deur navorsers van die sentrum vir evaluering en assessering aan die universiteit en hul bevindinge is gebaseer op die jongste navorsing van die Progress International Reading Literature Study (PILS), ’n internasionale vergelykende studie van jong kinders se leesvermoë. Suid-Afrika het in dié 2016-PILS-navorsing laaste uit 50 lande gekom.
Maar hoekom is dit so belangrik dat jou kind lees?
Kyk hier na ’n gesprek met Fred Pheiffer, die redakteur van die Oxford University Press-woordeboeke op die Groot Ontbyt oor die belangrikheid van lees, geletterdheid en die krag van woordeboeke:
Om dit eenvoudig te stel: Lesers is presteerders! Wanneer jou kind leer lees en skryf, begin hy verstaan hoe om te lees. Maar hoe ouer kinders word hoe belangriker word dit dat hulle lees om te verstaan. Daar is ernstige gevolge vir kinders wat sukkel om te lees. Dit is onvermydelik: ’n swak leser word ’n sukkelende leerder.
Lees se voordele strek ook baie verder as die klaskamer. Lees bou ’n woordeskat en verbeter die leerder se spelvermoë, dit verbeter konsentrasie en help ons ontspan en kan selfs ’n sosiale aktiwiteit wees (dink boekklubs). Lees verbeter ook jou algemene kennis en stel jou bloot aan nuwe dinge.
Moet ook nie in die ‘My kind is nie ’n leser’-slaggat trap nie. ’n Liefde vir lees is iets wat jy aktief by jou kind moet kweek. Natuurlik gaan jou kind nie van lees hou as hy/sy nie gemaklik is daarmee nie, hoe meer jou kind lees, hoe beter gaan hy/sy word en hoe meer gaan hy/sy wil lees.
Vakansieleesstof
Daar is geen tekort aan goeie Afrikaanse kinder- en jeugboeke nie. Dit is trouens die leesmark in Suid-Afrika wat die vinnigste groei! Die meeste van Suid-Afrika se uitgewers se webbladsye is ook baie gebruikersvriendelik en hulle maak dit vir jou maklik om ouderdom-gepaste leesstof vir jou kind te vind. Jy kan ook boeke direk van die uitgewers af bestel.
Graad 1-3.
Kinders lees graag oor dinge waarvan hulle hou, en ook oor karakters met wie hulle kan identifiseer. Reeks-boeke is dus ideaal om ’n liefde vir lees by jonger kinders te kweek. Die volgende reekse is ’n goeie wegspringplek:

Die Zackie Mostert–reeks, Jaco Jacobs, LAPA Uitgewers
Hierdie reeks is gemik op beginnerlesers en Zackie Mostert se avonture is genoeg om enige kind verder te laat wil lees!

Vakansiepret–reeks, Theresa van Baalen, LAPA Uitgewers
Die Vakansiepret-boekies is gemik op jonger dogtertjielesers en vertel die storie van Jana en Alisha se vakansieavonture.

Lillie die heksie–reeks, Amelia de Vaal (vert.), Protea Boekhuis.
Volg die avonture van Lillie die heksie wat gedink het sy is net ’n gewone dogtertjie… Tot sy op ’n dag ’n towerboek langs haar bed ontdek!

Klapper die drakie–reeks, Ingo Siegner, NB Uitgewers.
Klapper se avonture is reeds in meer as 23 tale vertaal! En watter kind wil nou nie ’n verhaal lees waarvan die held ’n draak is nie!
Graad 4-7

Die Swart Kat-reeks, Chris Sasner, Protea Boekhuis
Hierdie ou gunsteling spog nou met ’n nuwe baadjie om ’n nuwe generasie jong lesers ook te lok.

Rillers-reeks, Francois Bloemhof, Lizmar Boeke
Francois Bloemhof se Rillers-reeks is ’n Afrikaanse alternatief vir die ‘Goosebumps’-boekies en is grillerig genoeg om enige kind se aandag te hou!

Stalmaats-reeks, Lize Roux, LAPA Uitgewers
As jou kind perdemal is, is die reeks vir haar! Volg die avonture van die maats by die Dagbreek-ryskool in die opwindende reeks.

Die @Thomas-reeks, Carina Diedericks-Hugo, LAPA Uitgewers
Hierdie aksie-avontuurreeks van Carina Diedericks-Hugo volg die avonture van Thomas, ’n tienerseun wat skelms beter kan vastrek as enige gesoute polisieman.
’n Ander ou gunsteling wat ook met ’n nuwe baadjie spog en ook gepas is vir kinders in die ouderdomsgroep is onder meer; Die Maasdorp-reeks, die Trompie– en Saartjie-reeks, die Uile-reeks en die Reënboogrant Maats–reeks.
Hoërskoolleerders
Vir ouer kinders wat reeds ywerige lesers is, is daar ’n magdom boeke (in elke moontlike genre) beskikbaar. Nuwe vrystellings wat aftrek kry sluit onder meer in:

Asem, Jan Vermeulen, LAPA Uitgewers
’n Aangrypende grootwordverhaal oor verslawing, tweede kanse en wat dit beteken om jouself waarlik te vind.

Afkop, Fanie Viljoen LAPA Uitgewers.
In hierdie aweregse, doller-as-kop-af spanningsverhaal loop dinge in regte Tarantino-styl skeef en die leser moet behoorlik aan sy sitplek vasklou om by te bly met al die naelbyt-aksie.

Al wat ek weet, Marita van der Vyver, LAPA
Vertel die verhaal van die probleemkind Gabriel. Gabriel is 15 going on 50 (volgens sy ma) en in die verhaal kom woorde tot sy redding.

Blou is nie ’n kleur nie, Carin Krahtz, Tafelberg
Hierdie boek is in 2018 met die M.E.R-prys vir jeugliteratuur bekroon en vertel die verhaal van die 16-jarige Vicky Vorster. In hierdie jeugboek kulmineer vrese oor die toekoms, disfunksionaliteit en ander bagasie van gesinslede in een meesleurende, ontstigtende verhaal.

Soen, Jan Vermeulen, Tafelberg
Jan Vermeulen is bekend vir die relevante, aktuele temas van sy jeugromans. Soen is sy derde in hierdie genre.
Lesers kan die volgende webtuistes besoek om die boeke wat in die artikel genoem is, te bestel:
Lees ook …
Nuttige skakels
- Het jou kind disleksie? Hier is goeie wenke.
- Hoekom is lees belangrik? Lees meer …
- Nog nie genoeg rede om tyd vir lees te maak nie? Klik hier.
- Hier kan jy meer te wete kom oor kennerswenke vir lees. vir verskillende ouderdomme.
- Het jy geweet lesers is leiers? Lees meer …
- Watter boeke om te kies? Hier is ’n paar wenke.
- Is jy ’n juffrou wat die passie vir lees wil aangee? Hier is lekker idees.
- Waarvan hou die jong klomp?
- Boeke vir die kleintjies.
- Kyk hier vir boek-toeps vir kleuters.
- Keina Swart se insiggewende artikel, oulike boekwurmwenke en nog baie meer.
- Kry nuttige wenke oor hoe om ’n leeskultuur te skep.