
Lees is die grondslag vir sukses, nie net op skool nie, maar ook vir latere sukses in jou beroep. Daarom is dit belangrik om ’n liefde vir lees van kleins af by jou kind te kweek … en is dit een van die grootste geskenke wat jy aan jou kind kan gee.
Jy kan ook jou kinders aan die wonder van lees bekendstel. Hier is nuttige wenke en skakels wat jou sal inspireer. Watter boeke is gewild, lekker leestoeps. Leesraad vir verskillende ouderdomsgroepe en nog meer …
Nuttige skakels
- Keina Swart se insiggewende artikel, oulike boekwurmwenke en nog baie meer.
- Kry nuttige wenke oor hoe om ’n leeskultuur te skep hier.
- Het jou kind disleksie? Hier is goeie wenke.
- Hoekom is lees belangrik? Lees hier.
- Nog nie genoeg rede om tyd vir lees te maak nie? Lees hier.
- Hier kan jy meer te wete kom oor kennerswenke vir lees vir verskillende ouderdomme.
- Het jy geweet lesers is leiers? Lees hier.
- Watter boeke om te kies? Hier is ’n paar wenke.
- Is jy ’n juffrou wat die passie vir lees wil aangee? Hier is lekker idees.
- Waarvan hou die jong klomp?
- Boeke vir die kleintjies.
- Kyk hier vir boek-toeps vir kleuters.
Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument het reeds duisende kinders bereik sedert hul leesprojek in 2013 begin het. Boeke word geskenk aan gemeenskappe wat smag na leesstof. Die ATM vra jou vir enige boek in enige taal, oud of nuut. Vir meer inligting oor die leesprojek, kontak Janine Brown by 021 872 3441 of e-pos: opvoeding@taalmuseum.co.za.

Om te lees …
Om te lees, is vir party van ons deel van ons DNS en ons kan goed onthou hoe dikwels ons raas gekry het omdat ons na slaaptyd met die flits onder die komberse gelees het, of omdat ons kamer soos ’n “varkhok” gelyk het. Maar … watter wonderwêreld was dit nie! Omring met boeke was jy nooit alleen of verveeld nie. Jy was die prinses, die speurder, of die wêreldberoemde filmster.
Dit is hoekom dit seker een van die grootste geskenke is wat jy aan jou kind kan gee … ’n liefde vir lees. Lees van kleins af vir jou kind en staan elke dag ’n paar minute hieraan af en gou is dit iets waarna jou kind gaan uitsien – en boonop versterk dit die band tussen julle. Deur gereeld vir jou kind te lees, ontwikkel jy sy verbeelding en kreatiwiteit, brei sy woordeskat en taalvaardigheid uit en help sommer dat hy goed vaar op skool. “Voorlees vorder na saamlees en dit vorder na selflees.” Voorlees bly egter noodsaaklik vir die leer-lees-proses en jy kan gerus daarmee aanhou, selfs wanneer hy reeds self kan lees.
Lees vir pret behoort ’n gewoonte in elke huishouding te word en hoef nie noodwendig ’n duur boek te wees nie. Selfs deur te blaai deur ‘n tydskrif en prentjies te “lees” en daaroor te praat, sal jou kind se liefde vir lees aanwakker. Oorweeg dit ook om so vroeg moontlik by die biblioteek aan te sluit. Dit word ’n pretuitstappie waarna jou kind kan uitsien en is een van die goedkoopste maniere om boeke te bekom. Stel ook sommer self ’n voorbeeld en maak seker jou kind sien jou gereeld lees. Kinders moet besef dat lees deel van die daaglikse bestaan is, soos tandeborsel en harekam. En die regte ouderdom om vir jou kind te begin lees? Sommer van babadae af. Maak dus seker jou kind het sy eie boekrak en leeshoekie waar hy rustig kan sit en lees of deur boeke blaai, met of sonder jou.
Hoekom is lees so belangrik?
Kinders wat sukkel om te lees, sukkel om te leer. Lees is een van die eerste vaardighede wat aangeleer word en ook die grondslag vir sukses, nie net op skool nie, maar ook later wanneer ’n mens ’n beroep beoefen. Dink maar waar jy oral in jou daaglikse lewe lees moet inspan. Of jy nou ’n speletjie wil speel, ’n koek wil bak of wil besluit watter fliek om te gaan kyk, lees moet jy kan lees. En hoe gaan jy weet wat in die res van die wêreld gebeur as jy nie kan lees nie? Prof. WW Charters het reeds in 1941 die belangrikheid van lees beklemtoon toe hy gesê het: “Lees is die mens se magtigste vaardigheid. Daarsonder word sy wêreld deur sy bure bepaal …” Volgens ’n artikel op www.edublox.co.za is daar ses redes hoekom lees belangrik is: Lees bou woordeskat; lees verbeter konsentrasie en laat ons ontspan; lesers spel beter; lees kan ’n sosiale aktiwiteit wees; woorde is boustene – selfs in tegnologie; lees is die sleutel tot opvoeding, opleiding en ‘n kwaliteit lewe.
Dus, wanneer jou kind weer na ’n maatjie se partytjie genooi word en jy wonder wat om die keer toe te draai, koop ’n boek! En as jy kopkrap oor wat om Kersfees onder die boom te sit, belê in boeke. Wat is dan nou lekkerder as om vir elke persoon ’n spesiale boek wat by hom of haar pas, uit te soek.