Jou kind ly daaraan en jy as ouer ken die gevoel – jy is naar, jou maag is op ’n knop, jy kan nie slaap nie of daardie moeilike wiskundeprobleem bly deur jou kop maal. Jip – dis eksamenstres vir jou! Huisgenoot Digitaal gee hierdie sewe wenke oor hoe ons as ouers te werk kan gaan om eksamenstres vir ons kind te troef:
- Skep ’n rustige en kalm atmosfeer in die huis.
- Moenie die dag se eksamenvraestel in te veel detail bespreek nie – dit kan die kind onnodig laat tob oor gedane sake.
- Oefening is uitstekend om spanning te verlig.
- ’n Goeie dieet en genoeg slaap is veral tydens eksamentyd belangrik.
- Beklemtoon positiewe sêgoed om stres te beheer: “My angstigheid is nie permanent nie.” “Ek is nie alleen nie – baie ander leerders is bekommerd dat hulle dalk gaan druip.”
- Moedig jou kind aan om diep asem te haal as hulle angstig voel.
- Maak seker jou kind voel veilig om sy bekommernisse oor die eksamen met jou te deel.
Die regte studiemetodes dra by tot minder stres
In ’n artikel op Vrouekeur oor hoe om eksamenstres te bestry, beveel bedryfsielkundige, Gerhard van der Merwe, die volgende studiemetodes aan:
- Lees baie vinnig (vluglees) deur die werk wat jy moet leer net om jouself te oriënteer. Die ouer kan die jonger kind kortliks oor die groter prentjie inlig.
- Maak opsommings van ‘n spesifieke stuk leerwerk.
- Leer nou die opsommings deur dit vir jouself op te sê of neer te skryf. As jy al die punte kan neerskryf sonder om na die antwoorde te kyk, beloon jouself deur vir vyf minute iets te doen wat jy baie graag wil. Gaan sit weer ná die vyf minute en herhaal dit.
- Ouers kan help deur hul kind die werk te laat opsê. As dit suksesvol is, kan die kind na die volgende leerwerk aangaan en dit op dieselfde manier hanteer.
- Leer is soos fietsry, hoe meer jy oefen en herhaal, hoe beter raak jy. Leer is dieselfde: Jy moet leerwerk herhaal om dit in jou langtermyngeheue gevestig te kry.
- Die belangrikste is dat jou kind vroegtydig moet begin en elke dag ‘n bietjie moet werk anders plaas hy homself onder stres.
In dieselfde artikel op Vrouekeur, kan jy meer lees oor die studiemetode wat van breinkaarte gebruik maak en is daar agt basiese stappe wat uitgelig word om met ’n breinkaart te studeer.
Eet vir ’n wakker brein
So gee Mariana Davel, ’n dieetkundige ook raad en wenke in die Vrouekeur-artikel en sê dat dit belangrik is dat jou kind kos eet wat geleidelik bloedglukose aan die liggaam voorsien, om energievlakke te handhaaf en die brein wakker te hou.
Hoe dit ook al sy, daar is baie wat ’n mens kan doen om jou kind se eksamenstres te bestuur – selfs in vandag se besige lewe.
Webtuistes wat kan help
Lees gerus hier waar jou kind nog hulp kan kry. Ons lig graag die volgende webtuistes uit, maar daar is ook ander webtuistes en blogs met nuttige inligting:
LitNet – Vir skakels na notas, vraestelle, leerhulp en toetse, klik hier.
My klaskamer – Idees en gedagtes uit ’n juffrou se pen. Klik hier vir lesplanne en –idees vir Grondslagfase en werkkaarte vir aflaai en uitdruk.
Skoleondersteuningsentrum vir ’n aanlynwinkel waar vraestelle en werkkaarte gekoop en verkoop kan word.
WorksheetCloud vir tweetalige werkkaarte en toetse in Wiskunde, Natuurwetenskappe, Afrikaans en Engels – gebaseer op die KABV-kurrikulum.
Lees meer:
- Lees meer oor breinkaarte hier.
- Hier is nog wenke om eksamenstres te bestuur deur op die slaggate wat in die pad van jou voorbereiding kan kom, bedag te wees.
- Maroela Media gee raad oor hoe om eksamenstres te hanteer.
- Ina Genade se blog beveel sterk aan dat ’n mens maar liefs nie van humor moet vergeet wanneer dit by eksamenstres kom nie.
- Nog tien wenke om eksamenstres te hanteer.
I would like to commend all who are involved to have put together these very thorough and comprehensive aids (die afrikaans leerhulpmiddels), & access to information to assist with education for children of all ages.
Thank you and well done to all!