‘Afrikaans is ‘n Afrikataal”
Datum: 7 November 2016
Plek: Laingsburg, Karoo
Hoe langer my reis, hoe meer leer ek dat ek Suid-Afrikaners glad nie moet onderskat nie. Suid-Afrika lyk dalk op party plekke of reuse molle onderdeur die paaie gegrou het of tonnels deur sekere mense se logika gevreet het, maar hierdie is ook ‘n landskap waar steenkool onder druk in skitterende diamante kan verander!


Keer op keer kom ek agter hoe verkeerd ek is om Suid-Afrikaners te wil onderskat en elke keer is my fout ‘n wonderlike ontdekking.
Louis Serfontein en Marida het idees oor Afrikaans wat my aanhoudend my kop laat knik soos een van daai knikkerhondjies wat mens agter-in sommige karre gekry het. Die feit dat Louis vir sowat 25 jaar lank en in 92 lande, as impakbestuurder oorsee gewerk het, gee hom ‘n groter visie. Hy sien ‘n geheelbeeld wat die res van ons nog aanmekaar probeer sit as ons hoegenaamd ooit besef dat daar ‘n groter konteks is waarin als aan mekaar verbind is. Voorbeeld: Louis verbind taal met rommelstrooi. En toekomsvisie met energie. My knakkende koppie ruk tot stilstand. “Hoe nou?”
Die oomblik wat hy dit egter verduidelik en die skakels vir jou met mekaar verbind is dit duidelik. “Wanneer jy ‘n toekomsbeeld van jouself het in hierdie land, en wanneer jy ‘n toekomsvisie van ons taal het hier, rat jy jouself anders. Wat jy dink van die toekoms – of jy en ons taal daarin is of nie – bepaal hoe jy in die huidige optree.”
Louis verduidelik dat wanneer mense gestroop of afgestomp is vir die toekoms en hul geloof daarin verloor het, kan jy dit in hul gedrag sien. Rommelstrooi dui op soveel meer as net iemand wat nie omgee of van beter weet of aspris is nie. Die wortel lê dieper. Dit dui op mense wat so verstrengel is in die daaglikse oorlewing dat gedagtes aan ‘n toekoms of ‘n nageslag wat na ons kom, ‘n luuksheid is wat meer energie verg as wat hul tans het. Die goeie nuus is dit kan verander.
“Wanneer jy jouself in die toekoms van hierdie land sien en jy het iets waarheen jy werk en jou beywer, gee dit jou energie. Die teenoorgestelde aan die negatiewe kant is ook waar.”
Hy meen Afrikaanssprekendes moet weer hul selftrots herwin en sonder verskoning weer net hulself kan wees. Soos dikwels die geval is met ‘n Suid-Afrikaner wat lank genoeg oorsee gewoon het, het hy van buite af geleer sien hoe uniek en besonder Afrikaans is. Iets wat aan ons almal ‘n eiesoortige en karaktervolle identiteit gee, wat diep gewortel in hierdie land is.
Verder glo Louis dat Afrikaans weer as besigheidstaal bevorder en gebruik moet word. “Dit is nie nodig vir Afrikaanssprekendes om altyd agteroor te buig en nou moet ons almal in ‘n besigheidsvergadering oorslaan na Engels omdat een in ons geledere Engelssprekend is nie. Wat van die res wat almal dieselfde taal, naamlik Afrikaans, deel?” Hy beklemtoon dat dit nie is om enige iemand uit te sluit nie, maar dat dit wel te doen het met waarmee Afrikaans assosieer.
“Ons moet weer kom by vrye assosiasie. Jy kan Afrikaans wees en jou sterk distansieer van dinge waarmee jy nie saamstem nie en ook vrylik assosieer met dit wat jy wel mee wil deel.” Nes Duits nie vir ewig met Hitler se dade vereenselwig kan word nie, is dit onredelik om Afrikaans oor dieselfde kam te skeer as dié wat dit deel van hul politieke agenda gemaak het. “Afrikaans het natuurlik ontwikkel op die kontinent van Afrika en hier op ‘n natuurlike manier gegroei en versprei.”
In plaas daarvan dat een taal dominant geword het, soos Frans in ander dele van Afrika, het daar ‘n nuwe, jong taal op ‘n natuurlike wyse hier ontstaan. “Mense oor kultuurgrense heen het natuurlik daarmee geassosieer. Was dit nie vir die politiek wat dit later kunsmatig eksklusief probeer beperk het nie, sou daai natuurlike groei eenvoudig net aangehou het.”
Louis en Marida is mense met toekomsvisie. Dus het hulle energie. Hul kan glimlag, maak nie saak wat die uitdagings nie. Hulle het hoop vir Laingsburg en vir Suid-Afrika. Hulle woeker en beplan. Hulle het selfs ‘n mini-wingerd as toetslopie geplant.
“Dis nie heeltemal wat ek in my geestesoog gesien het toe jy my vertel het jy plant ‘n wingerd nie,” beduie ek na die agterplaas. Ons lag.
In my gedagtes sien ek my roete soos ek al deur meeste van Suid-Afrika se provinsies gereis het. En oral op die kaart skitter al die diamante en edelstene-in-wording wat ek al die eer gehad het om teë te kom.
Iewers staan daar mos: die lig verdryf die duisternis. Wanneer ‘n spreker ophou neersien op sy eie taal en ophou toelaat dat ander hul eie gevoelens van minderwaardigheid daarop probeer projekteer, skuif ‘n mens se ruggraat spontaan terug en trek dit jou gesakte kop omhoog.
Afrikaans is nie ‘n stief taalbasterbrakkie van Europa nie, maar Afrika se eie kind, gebore en gekatel in die Kaapse baai.
In ‘n greep. Van liefde. Louis het ‘n indrukwekkende versameling Kuifie-boeke en ook sommige in hul oorspronklike taal. “Ek hou van hoe eerlik hulle was en hoe dit nie polities verskans was nie, maar dit gewys het soos dit in daai tyd was.” (Hy verwys na hoe Kuifie in Afrika en Rusland uitgebeeld is.) In Laingsburg se Vloed Museum staan ‘n outydse handsentrale! Onthou nog hoe ‘n mens op plaaslyne kon inluister en “Nommer, asseblief?” ‘n Geraamde aanhaling van Sir Arthur Conan Doyle uit ‘The Great Boer War’ wat ook die skepper van Sherlock Holmes was en duidelik sy openlike bewondering vir die Boere gewys het. “Take a community of Dutchmen of the type of those who defended themselves for fifty years against all the power of Spain at a time when Spain was the greatest power in the world. Intermix with them a strain of those inflexible French Huguenots who gave up home and fortune and left their country for ever …” In 2014 toe Louis nog in Katar gewoon het, is hy genooi as deel van ‘n groep avontuur-atlete om in die geslote Koninkrykie van Bhoetan in die Himalaya-gebergtes ‘n maraton te gaan hardloop. Hierdie is een van twee geskilderde ‘seëninge’ wat hy daar as geskenk ontvang het en wat nou in sy huis in Laingsburg hang.